Dit wil-wil of die swart hond die siekte van ons tyd is, die grootste uitdaging van 'n era. Party wil dat die ondier die tekens van die tye is, ander weer voer aan dat ons verslaaf is aan die donker, verslaaf is aan pyn. As jy vir weke, maande, jare op Golgota gestrand is - onbewus van die Krip, onbewus van die leë graf, dan raak jy bewus van die donkerte se byt.

Met sy kwylbek wat hap-hap wil byt, is seemanne ook stewig in sy visier. Statistiek oor seemanne met depressie en geestesgesondheidprobleme is duiselingwekkend. Die druk aan boord is enorm - waar ‘n skip vroeër veertig man sterk was, is dit nou 'n skamele twintig. Waar hul vir dae in ‘n hawe sou vertoef om af-en-op te laai, en ook die siel 'n blaaskans te gee, draai 'n skip nou haastig binne etlike ure om.

Ben is 'n seeman aan boord die NNC DAMION*. Dit vervoer palmolie en is onderweg na Lagos in Wes-Afrika. Daar is 22 manskappe aan boord, 'n elftal uit die Filippyne, 'n half dosyn Russe en vyf Indiërs. André kuier daar in die Kaapstad-hawe en dis hier waar hy vir Ben ontmoet.

Ben, veertig jaar jonk, vertel van die swart hond wat manifesteer in wilde hartkloppings en angs wat jou gryp soos ‘n woedende rivier. As jy eers in die sleurstroom beland, neem dit jou na donker plekke. As jy in ‘n maalkolk beland sleur hy ook jou werk saam, ook jou familie, jou alles ... En as jy eers daar is, draai die kolk om-en-om, om-en-om, en om ... Dit raak jou bestaan, dit raak jou oorlewing. Golgota in die ergste graad.

Ben is 'n Christen, en André se besoek is vir hom ‘n oombliklange ruskans teen die sleur van die stroom. Hul gesprek handel oor vertroue en vrede, vrede wat net God kan gee. Vrede ten spyte van Golgota. Vrede omdat hy weet van die leë graf.

Baie keer is ons besoeke aan skepe net dit - 'n eiland in die woedende rivier, waar elkeen wat dit nodig het, net vir n oomblik kan rus.