Tegnologie is rats aan die werk op die IRON LADY in Coega waar erts binne-in die maag van die honger, onversadigde skip ingelaai word. Danie weet van meet af dat hy eintlik nie welkom is nie.

'n Legio verskonings word uitgeryg asof vooraf bepaal, 'nie tyd nie', 'nie nou nodig nie', 'nou te besig', 'dalk môre' - daardie tipe verskonings wat ons ook maar elke dag gebruik. Dit blyk dat die IRON LADY, ysterreëls het. 'Wag maar eenkant indien iemand wil gesels ...' sê die skip se bewaker by die trapleër met 'n afkeurende toon wat onsubtiel skree 'jy mors jou tyd'.

Maar ons 'indien' en God se 'indien' verskil wesenlik van mekaar. Na 'n paar minute loer 'n jong gesig by die skeepskantoor in waar hul Danie maak sit het. Binne oomblikke is dit duidelik dat Gregori 'n onwetende afspraak met Danie het. 'n Afspraak om 'n Bybel in Russies te kry. Die gesprek wat volg is vol Krip-momente van hoop en glo, maar ook vol Kruis-momente van twyfel en seer. Die Russiese Bybel word 'n rigtinggewer waarmee Gregori iets kan verstaan van tussen die Krip en Kruis leef. Maar meer as dit, kan Danie met hom deel dat daar agter elke Kruis 'n leë graf is.