Toe ek jonger was, was dit altyd vir my moeilik om geduldig te bly. Ek het ongeduldig geraak as ek met iets gesukkel het, of as ek te lank moet staan en wag in die bank of winkel. Ek was selfs ongeduldig met mense met wie ek praat en hulle verstaan nie dadelik wat ek probeer sê nie. Ongeduld is nog altyd 'n stryd waarmee ek veg.

Soos die jare aangegaan het na skool en Universiteit, het God my begin leer om geduldig te wees. Na my studies in 2015 is ek terug na my ouerhuis en het daar vir meer as 'n jaar gesit en wag vir 'n beroep na 'n gemeente. Ek het op baie plekke aansoek gedoen, 'n paar keer gaan preek en onderhoude gehad, maar is nooit na 'n gemeente as leraar beroep nie.

In Februarie 2017 begin ek as Evangeliebedienaar by CSO, en dit was nie lank nie, of my geduld word weer getoets. Ek is oor 'n paar weke al 2 jaar by CSO aangestel as Evangeliebedienaar in Kaapstad en Saldanha-hawens, maar het tot vandag toe nog nie volle en vrye toegang tot Saldanha-hawe nie. En van September verlede jaar af, het ek ook nie meer vrye toegang tot Kaapstad hawe nie. Met die gevolg dat ek weereens in my lewe sit en wag op nuus van Transnet. Ek word nie net met my werksomstandighede geleer om geduldig te wag nie, maar ook in my persoonlike lewe moet ek leer om geduldig op Hom te wag. Moet ek leer dat God in elke oomblik werkend teenwoordig is. So leef ek, soos almal, tussen die Krip en die Kruis, tussen Bethlehem en Golgota.

John Piper skryf in sy boek 'Battling Unbelief' in die hoofstuk oor ongeduld, dat God se tyd nie ons tyd is nie. As ons kan bly vertrou op God om alles ten goede te laat meewerk, dan hoef ons nie ongeduldig te wees nie. Ons moet glo dat God se plan en die uitvoering van die plan die beste is, want net Hy sien die groter verhaal. Ons lewensverhaal van begin tot einde.

En dit is elke dag my uitdaging. Om te glo en te vertrou dat alles waaroor ek partykeer ongeduldig raak in my lewe, vir 'n spesifieke rede gebeur omdat God 'n spesifieke doel daarmee het. Noudat ek ouer is en oor hierdie dinge begin wonder en in geloof saam met God wil leef, kan ek as ek terugkyk, duidelik sien dat God baie dinge in my lewe alreeds ten goede laat meewerk het. Die jaar se wag nadat ek klaar studeer het, het dit vir my moontlik gemaak om in Kaapstad te kom bly en om selfs verlede jaar as medeleraar bevestig te word. Alles waaroor ek jare lank gewens het.

Ja, met tye vang ek myself uit dat ek nog steeds ongeduldig is en vergeet van God se wonderlike beloftes en voorsienigheid in my lewe. Maar ek weet nou dat ek moet bly vertrou op sy tyd en sy plan vir my toekoms. Hy het my nog nooit in die steek gelaat nie. En daarvoor dank ek Hom elke dag.