Die openingstoneel 'n Krip, die slottoneel 'n Kruis - die draaiboek speel af tussen die sagte lig in 'n stal en die onhoudbare bitter son wat ongenaakbaar neerbak op 'n koppie genoem Golgota. 'n Lewe tussen 'n Krip en 'n Kruis ...

Waar die Hoofkarakter knus in die Krip lê, is daar die reuk van stof en mirre; eenvoud, dog koninklikheid. Wyses bring eer, terwyl 'n hoenderhaan kloek-kloek uit 'n hoek die Koningskind sit en bespied. Daar's 'n traan in die ma se lag - want sy weet, soos net 'n ma kan weet, van die pad wat hierdie Kind nog sal moet stap. 'n Lig is staan gemaak op 'n trommel, waar dit kapsie maak teen die donker. Die Lig wat die duisternis van die wêreld daar buite kom verdryf.

Later word die Kind nie geken vir die Koning wat Hy is nie. Hy word versoek, verneder, verafsku, verraai. En uiteindelik, op die 'Kopbeenplek' hang Hy, verniel, terwyl die skare dreunsing, 'Kruisig Hom'.

Doringkroon;

Bloed;

Spoeg;

Asyn;


'n Druppel sweet wat van sy voorkop val en in die stof plof.

Dan: 'My God, my God, waarom het U my verlaat'.

Dis ook ons reis. Ook ons bevind ons op die kronkelpad tussen Bethlehem en Golgota. Daagliks leef ons êrens tussen Krip en Kruis - op ons eie Via Dolorosa. Kriplangs lag ons, hoop ons, vertrou ons en glo ons - Kruislangs is ons somber, sinies, verslae, verslaan.

En so leef ons elkeen 'n wipplank-bestaan in die maalkolk van die lewe. Wipplank tussen die euforie van die Krip en die tragedie van die Kruis. Maar is dit dan nie die lewe nie? Of is lewe dan net soet, dan net goed? Is lewe nie om elke emosie van die Krip tot by die Kruis in sy volheid te beleef nie? Moet ons nie die somber momente in die lewe ken om die wonder van ander momente te verstaan nie? Of is lewe dan net somer?

Ons soek sneeu in die somer, smag na blomme in die winter en so dikwels leef ons uit pas met die moment waarin ons is. Uiteindelik blyk die kuns te wees om God in elke oomblik te beleef. Ons kan nie net die Kind in die Krip ken nie, ons moet ook die Man van die Kruis ken. Ons geestelike reis en reis deur die lewe het 'n natuurlike ritme en vloei waarvan ons toenemend bewus raak soos wat ons dieper in die misterie van God inbeweeg. Soms neem ons reis ons verby die Krip, ander kere laat dit ons verslae op Golgota. Want om te lewe, is nie net somer nie.

Inderdaad is elkeen van ons iewers tussen Bethlehem en Golgota. Êrens tussen die Krip en die Kruis. Ons eie Via Dolorosa. En party se reis eindig in sak en as op die 'Kopbeenplek'. Maar vir my, vir jou, vir ons, is dit kategories anders, want anders as verwag is die slottoneel nie wanneer Hy sy laaste asem uitblaas nie. Anderkant die Kruis is 'n graf waarin die doeke netjies opgevou lê. Daar is 'n kinkel in die klimaks, omdat die laaste asem nie die einde is nie, maar 'n nuwe begin.

Wat hier volg is die verhale van seemanne - sommige hoopvol langs die krip in Bethlehem, ander weer verslae en sonder hoop op die klipheuwel Golgota. Ons by CSO se verhaal word elke dag met die van mense van die see vervleg - vervleg met die boodskap dat dit nie saak maak waar jy jou op jou reis bevind nie, daar is 'n leë graf aan die einde daarvan en God is teenwoordig in elke enkele moment tussen Bethlehem en Golgota.