Vroeg Vrydagoggend kry ek die WhatsApp boodskap.  Ses seemanne is dood in 'n ongeluk in Durban hawe.  Ek het geen idee wat gebeur het nie en Google gou wat aangaan.  Tot my skok sien ek dat ek die skip baie goed ken. 

Die skip se naam was die Tropical en ek was Dinsdag op die einste skip en Donderdag middag het die ongeluk gebeur.  Daar het 'n vuur in die enjinkamer ontstaan en die vuur kon eers na ongeveer twaalf ure geblus word.  Van die ses seemanne wat dood is, was een uit Portugal afkomstig en die res uit Mosambiek.  Die Tropical was deel van ʼn groep visserskepe wat elke jaar Durban toe kom vir herstelwerk. 

Om met die vissermanne te praat is baie moeilik, maar baie van hulle soek Bybels en so vind ek by hulle 'n aanknopingspunt.  Ek het juis die Dinsdag een van hulle vir die eerste maal onmoet.  Hy was nie oorspronklik uit Mosambiek nie, maar Kameroen en het gevra vir 'n Engelse Bybel.  As dit Portugees was sou ek eers die volgende week vir hom gebring het.  Dit was egter Engels en hy het, terwyl ons gesels, saam met my na my kar gestap om die Bybel te kom haal. 

Vrydag moes ek egter leer dat hy in die ongeluk dood is.  Vir my was dit 'n donker dag omdat ek so ʼn lang pad al saam met hierdie seemanne stap en omdat ek Dinsdag op die skip was. 

Tog is ek baie dankbaar dat ek by hulle kon betrokke wees en van die wat dood is kon leer ken en vir hulle Bybels in hulle taal kon gee. 

Ek is ook dankbaar vir die CSO wat vrygewig is met Bybels en bereid is om die onkoste aan te gaan om Bybels in die seemanne se eie taal te versprei. 

Wie weet wat se verskil dit gemaak het vir die wat weg is, maar ook wat se troos dit bring vir die wat agterbly. 

Chris Viljoen 

Donasies: sms cso na 42030 om R30 te skenk  of kliek hier vir ander opsies. 

(Foto is van die manne op 'n vorige geleentheid geneem).