Enrico is 'n Filippyn en dit is sy eerste besoek aan Suid-Afrika.  Hy's 'n jong man vol lewenslus en energie en vir hom was die afgelope tyd op sy skip 'n reuse avontuur.  Dis sy nooiensvaart en volgens hom die begin van 'n baie belowende loopbaan as seeman. 

Danie, CSO se hawekapelaan in Port Elizabeth is aan boord op Enrico se skip, die TORINO, wat motors oor die wêreld heen vervoer.  Enrico is eerste by en gesels opgewonde met Danie en vra 'n duisend vrae oor Suid-Afrika.  

Eindelik kom Danie in die eetsaal uit waar die bemanning aansit vir middagete.  Danie pak die literatuur wat hy saamgebring het op 'n tafel uit en iemand raap dadelik een van die CD's op en druk dit in die speler sodat dit oor die luidsprekers in die eetsaal dreun.

Die ou bekende klanke van die lied 'What a friend I have in Jesus' kleur die middaguur in wat verskillende reaksies onder die manne ontlok -  party sit in stilte en luister, terwyl ander die liedjie sag saamsing en Enrico, wat 'n oomblik terug nie kon ophou praat nie, se liggaamstaal is ook nou heel anders.  Hy sit denkend, asof hy die volle implikasies van die woorde 'What a friend I have in Jesus' oorweeg en heroorweeg.

Voor Danie loop is Enrico weer by.  Nou wys hy 'n anderkant wat vroeër deur sy jeugdige entoesiasme verbloem is.  Die lewe op die see is nie net maanskyn en rose nie, erken hy nou.  Dan begin hy vertel van sy struwelinge, sy swaarkry en hartseer.  En dan erken hy dat hy op hierdie dag, op hierdie spesifieke oomblik verskriklik nodig gehad het om die woorde 'What a friend I have in Jesus' te hoor, en weer te hoor.

In die eenvoud van 'n ou bekende lied kon 'n seeman herinner word aan wat hy in Jesus het.  CSO poog om elke dag net dit te doen – seemanne te herinner aan wie Jesus is en wat sy gekruisigde Hande en Voete vir hulle beteken.