Om die migrasie van ‘n Bybel te karteer:  Richardsbaai, Port Louis, Colombo, Singapoer, Hongkong, Sjanghai en dan ‘n U-draai.    Sjanghai, Ho Chi Minh-stad dan Chennai en Djiboeti. Seerowers, seerowers, seerowers, Suez, Piraeus, Barcelona, Marseille.  Nou Lissabon. Atlantiese oseaan, ‘n angswekkende storm, branders soos berge wat tot op die brug van die skip slaan. New York.  Rio de Janeiro, enjin moeilikheid, Buenos Aires en nog ‘n U-draai.  Nou Panama-kanaal.  Los Angeles, San Francisco, Seattle, almal aan boord platgetrek deur een of ander kiem, Tokio vier dae weg om ‘n dokter te sien.  Hallo Sjanghai.  Die keer na Perth, Lagos of miskien ‘n Kaapse draai. Dan weer Richardsbaai. En dan weer ‘n keer, en weer ‘n keer en weer en nog ‘n keer.  Tot op hierdie moment:

 ‘Sir’ massiewe glimlag, en oop arms, ‘Sir, it is so nice to see you again!’ opreg, opgewonde, uit die veld geslaan dat ‘n herontmoeting na soveel jaar kan plaasvind.  ‘It has been twelve years, Sir’, groot glimlag, groot oë, groot opgewondenheid.   

 Loffie kan nie glo dat ‘n seeman wat hy twaalf jaar terug ontmoet het hier voor hom staan nie.  Vir Loffie is die ontmoeting 12 jaar tereg ‘n baie ver herinnering en moet hy die agterste leêrs in sy geheue afstof om die kloutjie by die oor te bring. 

 Vir die seeman, is die onthou maklik omdat die dag merkwaardig was.  Hy moet vir Loffie iets wys, sê hy voor hy opgewonde en begeesterd die skip in storm.  Hy’s vinnig terug met wat lyk soos ‘n stokou Bybel.  Die blaaie is lank nie meer blank nie, en die hoekies is omgebuig en mank gevat.  Binne is daar foto’s van alles waarvoor die seeman lief is – alles waarvoor hy elke dag bid.  Dan op die eerste bladsy, pryk ‘n datum van twaalf jaar terug in blou pen geskryf, langs die woord ‘Richardsbaai’ en ‘n verbleikte stempel van die CSO.  

  ‘n Volle sirkel wat ons help om die migrasie van ‘n Bybel te karteer.  Om vir ‘n oomblik te dink aan die reise waarop hierdie Bybel al was ...  Dink seerowers, dink storms, dink hartseer en hartbly.  Dink siekte en gesond wees, en aan bitterlik verlang – ook aan ‘n hart wat bokspring as hulle op die foto’s jou weer met ope arms en bly-trane ontvang ... En dis een Bybel se reis.  

Hoe wonderlik sou dit nie wees as ons die honderde Bybels wat CSO elke jaar met sorg in die hande van seemanne sit se migrasie tot in die uithoeke van die aarde kon karteer nie? Hoe wonderlik sou dit nie wees om elke storie te kon neerpen nie.  Nou sit Loffie en sy vriend oor ‘n beker koffie en praat oor twaalf jaar.  Oor die eb en vloed van die lewe, terwyl ‘n seeman getuig dat daardie Bybel hom in elke moment gehelp het om aan God vas te klou.

Wanneer u besluit om deel te bly van die CSO familie, is u betrokke by iets kosbaar en ongelooflik.  U is betrokke by ‘n bediening wat Jesus Christus se genade, vrede en liefde letterlik tot aan die uithoeke van die aarde neem.  Oorweeg dit groot asseblief biddend om ons weer te ondersteun!

NS. Ons bankbesonderhede: Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek. 630509. Rekno: 1520-230-226. Hier is die skakel vir ons debietodervorm: - https://bit.ly/42iU2gO Vul asb in en epos terug na Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

 Daar is bitter-en-soet in Carl se verhaal.  Terugskouend oor ‘n loopbaan van dekades is die soet ‘n duisend seeman-avonture wat oor die wydte en breedte van die aardbol afgespeel het.  Hy sou ‘n boek kon skryf oor sy verkenningstogte van vreemde en eksotiese plekke oor die wêreld heen, plekke waarvan die meeste van ons maar net kan droom.

 Maar die bitter, is galbitter.  Binnekort is hy weer oppad huis toe na amper nege maande op die see. Jare van nie-daar-wees-nie het sy gesin se verwagtings van hom getemper totdat hy eintlik maar bloot die oom was wat elke maand ‘n tjek in die pos sou sit.  Sy nie-daar-wees is uiteindelik genormaliseer as ‘n noodwendige deel van sy gesin se bestaan.  As hy hierdie gewaarwording hardop sê, verklap sy gesig hoe diep sy eie woorde in hom insny.   

 Die hartseer daarvan dat hy ‘n lewe met sy kinders gemis het, is nou, na al die jare oorweldigend.  Hierdie keer sal hy teruggaan na ‘n huis waar net sy vrou oor is. Hul laaste en derde kind is nou huis-uit om ‘n lewe van sy eie te gaan maak. Vir jare het Carl gehoop en vas geglo dat daar 'n tyd sou kom waarin hy meer kwaliteittyd saam met sy gesin kon deurbring. Maar, dit het nooit gekom nie.  Daar was altyd nog ‘n rekening wat betaal moes word of ‘n dringende rede hoekom hy sy vakansie moes kortknip om weer op die skip te moes klim.

 En skielik, in ‘n oogwink, is die uurglas leeg.  Hoewel hy en sy gesin op goeie voet is, is hul praatjies meer uit plig as plesier.  Dis sommer so bo-langs, want almal weet dat pa binne dae weer êrens die vreemde in sou verdwyn net om weer maande later ‘n baie tydelike blitsbesoek te bring.        

‘As ek maar net ...’ kom die selfverwyt en magteloosheid.  ‘As ek elke avontuur kon opgee vir ‘n tweede kans ..’ wensdenk hy.  En met elke sin, raak die bitter net meer bitter.

Nico van CSO sit stil-stil na Carl se storie en luister.  Sonder dat hy verwyt of beterweterig is, kan Nico deur die regte vrae te vrae die deur na ander moontlikhede op ‘n skrefie oopmaak. Hy kan hom oortuig dat daar tog nog hoop is omdat Nico weet dat die Man aan die Kruis wat sy lewe vir elkeen van ons gegee het, tweede kanse gee.  Ongeag Carl se uitdagings en selfverwyt, is daar 'n groter teenwoordigheid wat saam met hom stap – 'n Teenwoordigheid wat troos en leiding bied, mits hy sy hart daarvoor oopmaak. Dit bring vir ‘n oomblik ander perspektief – die perspektief dat daar soms uit totale hopeloosheid ongelooflike nuwe dinge spruit.   

 Met die afskeid is daar 'n glimlag op Carl se gesig, want al is dit net vir ‘n oomblik, glo Carl dat hy, ten spyte van sy hartseer, begin het op 'n pad van genesing en selfontdekking. 

 Ons donateurs gee ons by CSO daagliks die ongelooflike geleentheid om na seemanne se stories te luister en hulle te herinner aan die Een wat altyd ander deure oopmaak as ons dink dat daar geen meer uitweg is nie.  Namens Carl en elke seeman, ontsettend dankie! 

 

EFT:  Christelike Seemansorganisasie. ABSA Bank. Tjek. 1520-230-226

 

Dit bruis en dreun in die eetsaal waar Sjinese seemanne rondom Danie saamdrom.  ‘n Gerug het duidelik per skip-telegram die rondte gedoen dat  Danie, ‘n man met vele konneksies, aan boord is.  Hy word gepeper met opgewonde, nuuskierige vrae uit ‘n tiental-sterk skare wat elkeen iets wil weet. Dis effe chaoties, veral gegewe die klein probleempie wat die vloei van die geselsie belemmer...

Om te sê die tienman se Engels is gebrekkig, is ‘n growwe oorskatting van hul Engelse vermoëns. Danie se Sjinees, is ewe mankoliekig, met ‘n woordeskat van miskien so raps oor die vyf woordjies wat min of meer beperk is tot hallo en koebaai.  Op ‘n punt raak dit vir albei partye duidelik dat die gesprek geen vordering gaan maak nie, maar van moedopgee is daar nie sprake nie.  Die oplossing - ‘n rondte stomstreke.  Nou praat die Sjinese onder mekaar, daar word beduie en twee van hulle is met ‘n potlood en ‘n notaboekie aan die teken.  Die eindresultaat is nie ‘n Van Gogh nie, maar help tog met begrip.

Uit die gestamel en die stok-mannetjies op die vuil bladsy kom Danie eindelik tot die gevolgtrekking dat die skare dink hy’s ‘n diamantsmous.  Dis ‘n eerste vir hom.  Hy beduie terug en op die bladsy probeer hy skets dat hulle die kat heel aan die verkeerde kant beet het.  Uiteindelik snap hulle dat hulle teen die verkeerde boom op blaf, en die realisering dat Danie se rugsak nie vol blink klippies is nie, is ‘n sigbare teleurstelling. Die atmosfeer is nou merkbaar anders. Skielik is die opwinding verby en die enigste geluide wat oor is, is die klank van stokkies teen porselein soos hulle sit en middagete eet.

Maar Danie se rugrak hou wel iets van belang in.  In die nou stilte van die eetsaal, pak hy die Sjinese Bybels een-een op ‘n tafel uit.  Dis 'n stille uitnodiging tot iets groter as die alledaagse. As die bemanning so ongesiens as moontlik in sy rigting koekeloer, wys hy na die kruis op die wapen van sy sekuriteitsbaadjie, terwyl hy beduie ‘no cost, for free’.  Skielik is daar ‘n nuwe deur oop ...  

Soos die Bybels een vir een deur dankbare hande van die tafel opgeraap word, is daar 'n nuwe gesprek begin – nie een van woorde nie, maar een van harte wat oopgaan.  Skielik is daar ‘n brug, nie net tussen kulture en tale nie, maar ook tussen die menslike hart en God se hart. Eerder as die diamante waarop hul naarstigtelik opsoek is, is hul daar weg met ‘n boodskap van genade, liefde en hoop.

U bydrae aan CSO maak elke dag stories soos die moontlik.  Dit bring die Evangelie aan seemanne van oor die wêreld.  Daarvoor, ontsettend dankie namens elkeen wat deur hierdie bediening geraak word.

 

Bankrek: Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek. 630509. Rekno: 1520-230-226

 Hul ontmoeting vind plaas langs André se Via Dolorosa.  Sy lydingspad se spore loop swaar getrap al die pad uit die Oekraïne.  As hy ‘n oomblik durf terugkyk oor die afgelope twee jaar, is dit wat hy in die truspieël sien grou, hartverskeurend en pynvol, soos ‘n gloeiende kool wat ongenaakbaar en verwoestend in sy binneste brand.    André se Via Dolorosa is een van verlies.  In ‘n oorlog wil mens dadelik die sprong maak dat verlies verwys na hulle wat langs die pad slagoffers was van koeëls en bomme – en ja, dit is, maar dis selfs meer ... Dis ‘n verlies aan jouself, verlies aan jou menslikheid, verlies aan als wat jy gedog het betekenis het.  

Oorlog stroop absoluut.  Dit verswelg jou kom en jou gaan.    Die grou spore in die truspieël is een ding, maar dis die nimmer wykende swart onweerswolke op die horison wat jou dreig verslaan sodat jy wil skree, ‘Ek kan nie meer nie!’  Vir André is die realiteit dit:  Sy agt-jarige dogtertjie en haar ma moes in Odessa agterbly.  Daar is geen ander uitkoms nie. Sy hiér-wees op die skip, is noodsaaklik vir hulle oorlewing.  Die geld wat hy maak is hul enigste hoop om te ontsnap.  Maar, om jou kind en jou vrou agter te los in ‘n oorlog – dis nie ‘n eenvoudige kruis om te dra nie.  Watter pa, watter man, doen dit? – kom die verwyt. 

Nico van CSO, sit stil na André se storie en luister.  Nico is diep bewus hoe goedkoop woorde is.  Enige raad of advies aan die man wat stukkend voor hom sit sal hol simbole wees.  Hy is bewus dat al wil hy hoe graag, hy op geen manier die werklike dieptes van André se smart kan verstaan nie.  Met groot versigtigheid, sonder om voor te sê of te suggereer dat hy wat Nico is hoegenaamd antwoorde het, kan hy wel vertel van ‘n ander man wat so ‘n pad moes stap.  Af oor die Via Dolorosa, soos 'n lam het die Messias, Christus die Koning, gekom, uit Sy liefde vir jou en my. Af oor die Via Dolorosa, al die pad na Golgota. En anderkant Golgota weet ons nou, is ‘n oop graf.

 Elke ontmoeting wat ons daagliks by CSO met seemanne het, is nie ‘n wonder-storie wat iemand onherroeplik verander nie.  Meer as dikwels, as ons ‘n seeman langs sy Via Dolorosa ontmoet, is ons taak om met groot versigtigheid daardie seeman met ‘n enkele tree vorentoe te help.  Dis soms ‘n tree weg van die ‘ek kan nie meer nie’ afgrond, ander kere ‘n tree wat nuwe perspektief gee.  Dis soms die kleinste van dinge.       Een tree kan alles verander.

  Wil u dit nie biddend oorweeg om ons finansieel te ondersteun sodat ons kan aanhou om daar te wees sodat seemanne momenteel op ons kan leun om net nog een tree te gee nie? Dit sal alles verander.

  NS. Ons bankbesonderhede: Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek. 630509. Rekno: 1520-230-226.