Daar is een menasie, een eetsaal en een TV-kamer.  Tog is daar 'n stille skeidslyn wat skreeu dat almal aan boord nie gelykes is nie: Netjiese, sagte, wit gestoffeerde stoele vir die offisiere - harde, lendelam plastiekstoele vir die gewone seemanne. Die sagte stoele staan voor die skerm; die harde stoele soos muurblommetjies teen die kante gerangskik.  Stoele, gerangskik na waarde ... ondubbelsinnig ook 'n aanduiding van jou waarde aan boord.  

Laat ek dit dan verduidelik: 'n O/S, of gewone seeman, verdien meestal 'n broodlyn-loon.  Rand vir rand is die verskil tussen 'n kaptein se salaris en O/S is so wyd soos die Ooste en Weste van mekaar. Dis een ding, maar wat slegter is, is dat hulle dikwels ook so behandel word ... asof hulle hoi palloi skiewies is wat geen waarde het nie, en bloot aan boord is om ander te dien.  

Loffie word uiteraard na die wit gemakstoele genooi.  Maar,  hy hou verby.  Hy beweeg doelbewus na die lendelam stoele en gaan sit daar langs 'n man wat waarskynlik selde raakgesien word. Hy vra sy naam, luister na sy storie, en deel met deernis dié Evangelie wat op geen vlak voortrek of onderskei nie. In die konteks van die Kruis is die stoel waarop jy sit irrelevant.  

In sy daelikse gang ontmoet Loffie die wêreld: Mans uit die armste dele van Indië en die Filippyne, nou ook uit Bangladesh, Thailand en Mianmar. Die afgelope jare bring die see ook meer mans uit Rusland en Oekraïne - vasgevang deur oorlog, bang om huis toe te keer. Deesdae ook 'n nuwe stroom gewone seemanne uit Oos-Europa: Kroasië, Bulgarye ... meestal gedryf deur nood.  

Hulle teken kontrakte van nege maande. Nege maande weg van hul kinders. Nege maande waar 'n pa se stem net 'n herinnering word. Armoede druk hulle see toe - maar dit laat ook 'n leemte wat net God kan vul.

Juis hier, gebeur dikwels merkwaardige dinge.

Met elke nuwe nasionaliteit kom 'n nuwe taal, en met elke taal 'n nuwe deur vir die Evangelie. Die liefde en genade van die Man van die Kruis word skielik gefluister in gange waar dit nog nooit tevore gehoor is nie. Chinese literatuur word uitgedeel, gebede word sag geprewel, harte word ontvanklik.

Dankie aan donateurs wat deel is hiervan en ons finansieel ondersteun - dat julle help dra aan hierdie stille, maar diep werk. Bid asseblief vir die "gewones" van die see, dat hul sal beleef dat daar 'n groter Waarheid is as dat die stoel waarop jy sit, die man maak nie.  En bid vir Loffie en elk van ons kapelane, dat hulle sal aanhou sit waar ander nie sit nie - totdat elke man weet: hy is gesien, en hy is geliefd. God se liefde en genade is ook vir hom.