In die klein ure van die oggend skrik hy in die greep van 'n onsigbare monster wakker. Sy asem blaas vlak en vinnig, en sy gedagtes tol in chaotiese sirkels. Skielik is elke geluid, elke skaduwee en elke gedagte 'n doodse bedreiging. Vir hom is dit 'n teken dat iets verskrikliks op die punt staan om met iemand naby hom te gebeur!
Die druk in sy kop is ondraaglik, soos 'n swaar storm wat opbou - maar net nooit breek nie. Hy voel absoluut gevange. In die skermutseling is elke oomblik 'n geveg om beheer - beheer oor sy gedagtes, sy asem, syhart en sy lyf. Angs is geslepe en slinks.
Tog, na wat voel soos 'n ewigheid vind hy wel die reëlmaat van sy hartklop en asem. Later, as hy vir sy dagtaak op die brug van die skip aanmeld, lê die nag se gebeure steeds vlak. Vir die dae wat volg voordat hulle in Coega vasmeer is hy heeltyds bewus van die tentakels van sy angstigheid wat hardnekkig soos 'n seekat om sy gemoed klou.
In dié dae leef hy die stryd alleen soos 'n drenkeling tussen 'n duisend mense. Hy het nie die moed om dit met 'n mede-bemanningslid te deel nie. Hy vrees dat erkenning van sy stryd tot viktimisering en uiteindelik tot nadeel van enige bevordering sal lei.
In Coegahawe, op 'n Donderdagmiddag, klim Danie op die houerskip, en sonder dat hy of die offisier dit weet, het God reeds 'n afspraak tussen die twee gemaak. Wat met eerste-sien oppervlakkige geselsies begin, verdiep vinnig tot soveel meer.
Vir die eerste keer kan die offisier sonder vrees vir viktimisasie of stigma, vir iemand vertel van die monster in die donker. Danie luister met groot versigtigheid en met God se krag, begin die Heilige Gees die seekat se tentakel stelselmatig loswikkel. Dit gee die seeman 'n kans om asem te haal. Asem bring nuwe perspektief.
Later, met die uitstap kan die emosioneleseeman nie ophou dankie sê dat Danie bereid was om te luister nie. Dit wat Danie kon bied was nie 'n kitsoplossing nie. Dis nie 'n vinnige regmaker wat die monsters in die donker met 'n vingerklap lewenslank sal grendel nie. Maar, die liefde en hoop van die Man van die Kruis, bring nuwe perspektief. Dit laat 'n drenkeling toe om vir 'n oomblik op te kom vir asem. In daardie eerste teug nadat als om jou stil en donker was, is daar die moontlikheid van oorlewing. Om die pad aan te hou stap is daardie eerste weer-asemhaal lewensbepalend.
Die werk van die CSO is presies dit: Om seelui, wat weke of maande ver van huis af is, geestelike ondersteuning en 'n veilige ruimte te bied om hul vrese en bekommernisse te deel. Asseblief, u kan met 'n finansiële bydra help om ons hande sterk te maak sodat ons kan help as 'n seeman moet opkom vir asem.
Dis die vierde keer dat Chris homself in die hof bevind. Oor die afgelope ses of sewe weke het hy die Indiese seeman wat in Westville gevange is, op elke moontlike manier ondersteun.
Van waar Chris die verrigtinge nou uit die gehoor vanaf 'n hofbankie dophou, sien hy die man wat hy oor die afgelope weke beter leer ken het ingestap kom. Sy lyf is snaarstyf gespan, en die angs en vrees oor wat die uitslag van die verrigtinge gaan wees, is rugbaar in sy lyftaal geskryf.
Maar hoe kan mens hom blameer? Hy bevind hom in 'n volksvreemde land waar hy geen kind of kraai het nie, toegesluit in 'n haglike en kil sel saam met skelms, skarminkels en dronkaards. Elke sekonde daarvan is 'n angswekkende nagmerrie.
Die grappie loop dat almal in die tronk slagoffers is, en eintlik onskuldig is. In sy geval is dit egter waar. Hy en 'n kollega is weens immigrasie probleme gevange geneem. Die eienaar van die skip waarby hulle aangesluit het, wat 'n man van bedenklike karakter is, het nie van 'n skeepsagent gebruik gemaak sodat hulle op die korrekte manier by die skip kon aansluit nie. Hul regsverteenwoordiger is vuurwarm onder die kraag en maak dit woedend aan elkeen wat wil luister duidelik dat hulle niks anders as die slagoffers van mensehandel is nie. Hul grootste oortreding is dat hul in 'n strik gevang is deur beloftes van indiensneming wat sou beteken dat hulle en hul gesinne uit die vloek van armoede sou kon ontsnap. Hulle het niks.
Die spanning in die beskuldigde se lyf is dalk ook te wyte aan die feit dat sy kollega reeds met sy tweede hofverskyning onseremonieel vir 'n jaar gevonnis is.
In die hof speel 'n ander drama af. Die eienaar het 'n prokureur gestuur, en nou vlieg 'n paar prokureurs mekaar die hare in om elk hul sin te kry. En dan, met 'n enkele sin van die regter word die saak uitgegooi. Sewe weke se hel word met een sinsnede beëindig.
Chris en die regsverteenwoordiger wag vir die seeman buite. Toe hy uitkom, buig 'n emosioneel vodde en verslaande man laag by hulle en raak liggies aan elkeen se enkel. Blykbaar is dit 'n Indiese gebruik en sy manier om dankie te sê vir die ondersteuning en hulp. Dis 'n oomblik wat woorde nie kan vasvat nie. Ook kom die nuus dat sy kollega binnekort vry sal wees. Alhoewel vryheid 'n oorwinning is, het hul 'n stuk van hul lewens prys gegee en het hulle anders as die emosionele skade, niks anders om daarvoor te wys nie. Hul is steeds brandarm, en soek steeds uitkoms.
Chris se betrokkenheid by hulle was nooit net om hulle te bevry uit die tronk nie, maar uiteindelik ook om hulle die omgee en liefde van Christus te wys deur wie hulle vryheid van skuld en sonde kan vind. Dis deur u donasie wat hy dit kon doen en sal aanhou doen. Ontsettend dankie daarvoor.
EFT: Christelike Seemansorganisasie. ABSA Bank. Tjek. 1520-230-226.
Voorbok sou 'n nommerpas naamwoord wees om hom te beskryf. Hy's klein in statuur, maar 'n reuse bos hare en 'n lewensgroot persoonlikheid laat hom die eetsaal op die skip waar Danie besoek aflê,kommandeer asof dit sy koninkryk is. Jy kan nie anders as om bewus te wees van hom nie. Vriendelik, warm, selfversekerd, vol energie, luid - almal kloek om hom om naby te wees vir die kwinkslae wat hy kwytraak en vir saam lag as hy een of ander kattekwaad aanvang. Hy's 'n hoofkarakter op die skip, al is hy in rang baie van sy mede-bemanning se junior.
Hy doen ook moeite met Danie - sorg vir spys en drank dat díe se maag ook vol kom op die middag-uur. Almal gevoed, kies die manne een-een koers skip-in. Die laaste een wat oorbly? - niemand anders as Adrian nie.
Hy begin hier-oor en daar-oor gesels. En dan, stadig maar seker lig die skanse en is daar 'n baie ander man agter die jolige hofnar van vroeër. Die voorbok-wees blyk ook so bietjie voorgee te wees. Dis nie 'n aantyging wat sy opregtheid in twyfel trek nie. Sy voorbok wees is duidelik iets wat die bemanning geniet en waaruit hulle energie put - sy persoonlikheid is 'n gawe waarmee hy mense om 'n tafel kan laat saam gesels. Dit bloot om te sê dat daar soveel meer aan Adrian is as net die grapjas wat almal ken...
Adrian vertel van angs, van bitter-alleen wees ten spyte van die kloekende gevolg om hom, hy vertel van klein en oorweldig voel deur die groot skip en majestueuse oseaan. Per sy eie bekentenis is die bos hare en grappies maar 'n manier om hom groter en sterker en meer in beheer te laat voel.
Danie se besoek is 'n uitlaatklep, 'n rare kans om sommer net te wees sonder om te hoef omgee oor grappies en kaskenades om almal te vermaak. Dis sommer net om vir 'n oomblik by die waters van rus van Psalm 23 saam met Danie te kan gesels. Hulle lees saam uit die nuwe Tagalog Bybel wat Danie vir hom gee, terwyl Adrian Psalm 139 en Jesaja 43 merk. Hulle bid saam - vir rustigheid, vir nie bang wees nie, vir 'n konstante bewustheid by Adrian dat die God van Jesaja 43 in elke oomblik by hom is. As hul groet, kan Danie ook vir hom sy nommer gee om seker te maak dat as hy oorweldig is daar iemand is waarna hy kan uitreik.
Dis so baie keer so - ook met ons ... die bang en alleen word agter skanse weggesteek. As ons almal maar 'n kans kon hê om net nou en dan met iemand te gesels sodat ons net vir 'n oomblik by Psalm 23 se waters van rus kan asemskep.
Seemanne, wat in uiters moeilike omstandighede werk, kan dit aanhou hê as u ons hande kan sterk maak deur ons finansieel te ondersteun. Oorweeg dit groot asseblief biddend, sodat ons kan aanhou om Adrian en elke seeman wat dit nodig het kan aanhou bedien.<p>
EFT. Bankrek: Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek. 630509. Rekno: 1520-230-226.
Daar is kinkel na kinkel in die PSD se storie. CSO se paaie is nou amper ‘n halwe dekade met die mankoliekige skedonk wat in Durban vasgemeer is, vervleg. Die omstandighede aan boord is onmenslik haglik. Twee Indiese seemanne, Mahesh* en Arjun*, probeer op die stadium oorleef op 'n skip sonder basiese lewensmiddele soos elektrisiteit en water. ‘n Sporadiese aalmoes van die eienaar, skiet ver tekort, en barmhartigheid hou hul nou aan die lewe. Hulle is nie die eerste seemanne aan boord nie.
Keer op keer, kom ‘n hoopvolle nuwe gesig met groot drome uit Indië of Pakistan op die kaai aan, net om uit te vind dat hul bedrieg is en dat hul nou gevangene is. Gevangene, want huis toe gaan is nie ‘n opsie nie. Hulle het niks, en dus geen ander keuse as om te bly nie. Lank en uitgerekte regsprosesse, gedryf deur organisasies soos CSO, raak eindelik hul enigste lewenslyn om uit ballingskap te ontsnap. Keer op keer kom vertel die nuwe gesigte dat hul agente tot U$4000 betaal het vir ‘n werk op ‘n skip. Dis bloedgeld – mense-handel! Die geld sou hul êrens moes leen, met die gedagte om dit terug te betaal as hul eers op die skip is. In sommige gevalle word lenings teen hul ouers se lappie grond gemaak. Dit is ‘n lening wat die vermoë het om ‘n familie te ontwortel en te verwoes. ’n Hele familie se hoop en drome word in ‘n seeman gesetel as hulle alles wat hulle het waag vir ‘n beter toekoms.
Laas week was Chris weer by die skip. Mahesh en Arjun is weg. Hul selfoon-laaiers is agter gelaat by die sekuriteitshek, en die sekuriteitspersoneel, waarmee Chris nou al op voornaam basis is, rapporteer dat hul reeds vir ‘n paar dae skoonveld is. Nou is Chris speurder. Eindelik, kan hy met ‘n vorige bemanningslid kontak maak. Dié rapporteer dat die twee in die tronk is.
Chris se soektog begin by Durban sentrale polisiestasie. Blykbaar was een van die mans daar, maar is weg vir ‘n hofverskyning. Hy volg die broodkrummels en soek nou by die Westville gevangenis. Uiteindelik kry hy hulle in die tronk in Umzinto, waar een reeds tot ‘n jaar gevangenis gevonnis is. Dit het te doen met hulle immigrasie papiere. Die hofsaak vir die tweede seeman word uitgestel sodat 'n tolk verkry kan word. Hy staan verslae en ontnugterd in die hof. Hoe het dinge dan tot dit gekom? Chris hoop dat hy net gedeporteer sal word, maar vrees vir 'n soortgelyke lot as sy vriend.
Intussen is Chris al wat hulle het hier in Suid Afrika. Net soos wat CSO al vir jare sorg vir elk van die seemanne wat genadeloos uitgebuit word, sal Chris ook met hierdie twee manne ‘n pad aanhou stap. Hy sal alles in sy vermoë doen om hul agter tralies uit te kry, en hul sonder voorwaardes aanhou ondersteun, met die liefde en hoop wat ons leer by die Man van die Kruis.
Jou bydrae is vir Mahesh en Arjun ‘n lewenslyn. Moenie die waarde daarvan onderskat nie. Ontsettend dankie dat jy ons hande sterk maak om na hulle wat blyk die minste van die minste is, om te sien.
EFT Christelike Seemansorganisasie. ABSA Bank. Tjek. 1520-230-226.



