Die Straat van Hormuz haal moeisaam asem, soos ’n gewonde dier wat instinktief bewus is van die onheil wat in die donkerte skuil.  ’n Onsigbare lyn tussen vrees en vrede is oor die water gespan. Die nag se stikdonker is vol oë wat wetend en vresend na die horison staar - die flikkerende ligte wat die duister plek-plek ophelder is nie sterre of feesvieringe nie!  Dit is dood en vernietiging.       

As die son opkom, lê die Straat soos ’n oop wond. Die lewensverlies op die Safesea Vishnu, wat deur ’n Iranse aanval verskeur is, se wrak is nou ‘n landmerk van die eerste skote wat in ‘n sinnelose oorlog, onskuldiges se lewens gesteel het. Dis een van nou meer as twintig handelskepe wat binne dae getref is in die dodelike teater van oorlog. Die Zefyros, nog ‘n slagoffer dryf daar naby – wat eers ‘n trotse skip was, is nou gereduseer tot mank gemissielde skrootmetaal.

Aanboord van elke skip is almal maar net te bewus van dosyne Iranse see-myne wat stil en wreed onder die oppervlakte lê en wag — elkeen ’n ongesiene doodsvonnis. Vir die mans en vroue aan boord is dit nie meer bloot ’n werk nie — dit is ’n daaglikse dobbelspel.

Vrees loop vinnig.  Dit hardloop deur gange, klim teen mure op, dring deur staal tot midde-in die dieptes van jou lyf. Dit praat hard, skreeu dringend: Oorleef, beskerm, ontsnap.  

Vrede stap stadiger. Dis ‘n duur artikel. Dit bestaan ten spyte van vrees, diep bewus dat vrees jou kan jou laat lewe, maar nie laat leef nie.

Die see hou alles vas:  Die vuur, die rook, die gebede wat baie nie hardop sê nie.  Dit kies nie kant nie. 

En tog — tussen die alarms en die skadu’s, gebeur iets klein. ’n Hand wat ’n ander hand vind, ’n oog wat sê: ek sien jou, ’n stem wat sagter praat as die chaos - dis daar waar vrede begin.  Nie as ’n afwesigheid van gevaar nie — maar as ’n teenwoordigheid van Iemand veel groter.

 Die letterlik duisende wie se paaie nou onverwags en noodgedwonge herlei word om die Suidpunt van Afrika en aandoen in ons hawens dra dieselfde vrees, soek dieselfde vrede.  En daarom, in ‘n holderstebolder, onderstebo wêreld is CSO elke dag daar op die kaai, op die skip, in die kapteinskantoor.  Want, die hunkering na vrede is onmiskenbaar.  Ons sit ‘n hand op ‘n skouer, luister aandagtig, en praat sagter as die chaos.  Hoekom dan? – want ons hoop is in die Een wat daardie vrede gee wat alle verstand te bowe gaan.  En ons het die voorreg om vir seemanne die stem van vrede in ‘n wêreld vol absolute vrees te wees.

 As die Paasfees klokke lui, sal ons elkeen herinner dat Hy die grusaamheid van ‘n kruis oorwin het, en in die kruis se plek ‘n nuwe bestel gevestig het – een van liefde, hoop en vrede. Met ‘n finansiële bydrae kan u ons help om die vrede van die Man van die Kruis na harte te vat wat verswelg word deur vrees.  Oorweeg dit asseblief biddend om ons te ondersteun. 

 

Statistiek is feite. Dit is goed wat getel word: soveel van die en soveel van die ander. So is daar baie statistiek oor die oorlog wat nou in die Midde-Ooste woed. Soveel dae, soveel skade, soveel ongevalle.

Daar is ook statistiek oor die seevaart - veral met die Straat van Hormuz. Volgens amptelike nuusberigte is daar op die oomblik tot soveel as 20 000 seemanne in die Persiese Golf op skepe vasgekeer. Tot onlangs is daar reeds op 18 skepe geskiet en talle sterftes is aangemeld. Die Saesa Vishnu is aangeval en van die skip kon 38 bemanningslede wel gered word. 

Groot seevaartmaatskappye het skeepsverkeer in die omgewing gestop. Dit geld vir ook vir skepe wat kritiese produkte vervoer sos olietenkers en houerskepe.

Dit is statistiek. Die statistiek kan in die toekoms waarskynlik toeneem.

Maar agter die statistiek is daar seemanne. Manne wat vasgekeer is met beperkte voorrade en internetverbinding. Seemanne van in vrees en doodsgevaar leef. Minimum kommunikasie met geliefdes tuis met geen idee wat die volgende uur gaan oplewer nie. 

Agter die statistiek is daar emosies van seemanne. Dit is die kern van die krisis. Nie die hoeveel van die en hoeveel van daardie nie. Rou emosies wat nie gestil kan word met die fluit van bomme en missiele nie.

Dit is ons mense. CSO se mense. Van daardie seemanne het dalk al CSO se pad gekruis. Iewers in die toekoms wanneer alles normaal word, kan van daardie getraumatiseerde seemanne CSO se pad kruis. Dan het hulle ons nodig.

Dit is alleen gebed en die Woord van die Here wat 'n verskil kan maak. Kom ons vat hande en vou ons hande in gebed vir die seemanne wat deur die oorlog geraak word. Voeg hulle by julle gebedsgroepe. Laat ons almal saam bid want die gebed van 'n gelowige het 'n kragtige uitwerking (Jakobus 5:16). Hierdie manne het ons hande-vat gebede bitter nodig.

 

Die jong kadet se glimlag is wyer as die see self.  Nico, ons kapelaan in Durban, staan op ‘n majestueuse vragskip.  Langs hom, ’n jong man wie se oë voortdurend wegdryf see toe, asof hy terselfdertyd hier op die dek staan en reeds by die huis is.  Daar is moegheid in sy skouers, maande se spanning, wag en verlang, maar nou ook ’n nuwe lig — ‘n reuse glimlag - die stille sekerheid van iemand wat nou vir meer as homself leef.  Hy glimlag soos iemand wat heimlik weet dat die wêreld groter én kleiner geword het in een asemteug.  Hy’t gister pa geword.  

Hy kon nog nie sy seuntjie vashou nie, maar is meteens alte bewus van die enorme gewig van pa-wees.  Hy wys breëbors die foto’s op sy foon, skerts oor hoe ongelooflik sy vrou is en dat dit definitief die mooiste seuntjie is wat nog ooit gebore is.  Hy praat sag oor die doop wat wag, oor ’n huis vol geloof. Hulle sal hom Joshua noem. 

Einde Maart lê nou soos ’n reddingsboei op die horison — die einde van ’n kontrak, die begin van ’n gesin.  As hy hom tog net so vir ‘n oomblik voor dán kon vashou en homself kon voorstel, lag hy met ‘n traan.  Hy en Nico bid dankbaar saam.

Op die oorkantste kaai besoek Chris skepe.  Aan die bopunt van die trapleer wat hom tot op die dek neem, loop hy ‘n sekuriteitswag raak wat hy al jare ken.  Sy lyftaal is anders as gewoonlik.  — skouers styf ingetrek, oë onrustig, wantroue soos ’n skadu wat nie wil wyk nie. 

 Chris groet sag, vra eenvoudig: “Hoe gaan dit?”

Die vraag hang ’n oomblik tussen hulle, soos ’n tou wat nie weet of dit vas of los is nie.  

Dan breek dit oop. “My ma,” sê hy. En daarna niks.  Net asem wat swaar kom. Dan eindelik, asof hy eers al die moed in die wêreld bymekaar moet hark: “Sy is dood.”. Nie siek nie, nie oud nie – vermoor.  Die gewig van die enkele woord hang swaar en onheilspellend in die lug.  Chris weet dat maklike antwoorde en verduidelikings in dié geval is soos om water na die see te dra. ‘n Onbegonne taak. Hy is net teenwoordig. Net ’n hand op ’n skouer.  Net die sekerheid dat God bewus is van die man se pyn.  En so staan hulle — op ’n trap tussen kaai en dek, tussen verlede en nou, tussen pyn en hoop.  ’n Kapelaan en ’n seun sonder sy ma.  Hulle bid dringend saam.  

Dieselfde dag. Dieselfde hawe.  Twee verhale — een van lewe, een van verlies.  Een van hoop wat gebore word, een van hoop wat sterf.  By CSO staan ons presies dáár - op die kaai, wanneer vreugde oorloop én wanneer harte breek.  As ons dit nie doen nie, sal niemand dit vir seemanne doen nie.  

Wil u dit nie groot asseblief biddend oorweeg om ons finansieel te ondersteun nie?  Ons wil graag in reën en sonskyn op die kaai wees vir elke seeman, sodat hul altyd bewus sal wees dat God groot is.

Mens sou die jaar pessimisties-swartgallig kon afskop.  Mens sou die aandklok, Nuwejaar-slag, kon hoor as bloot refrein -'n herhaling van dieselfde, deurgesingde lirieke.  Daardie gevoel dat dit bloot die begin van nog 'n in-die-woestyn-loop sirkel is, voor ons almal weer spoedig, gedaan, flenters, verskrik, onvas, verbitterd, verhard of moedeloos - heimlik na die vrede van Kersfees begin hunker. 

Mens sou na Grigory op sy skip in Port Elizabeth kon luister en begin glo dat niks meer herstelbaar is nie. Dat selfs planne en ervaring tot niks kom.  Mens sou kon voel hoe verlange onhanteerbaar word, hoe eensaamheid jou soos 'n stille leeu bekruip, en hoe ou gevaarlike ritmes hulself kwaadwillig oor-en-oor herhaal.  Mens sou sÛ maklik in hopeloosheid kon verval, wanneer selfs die skerpste kop, geen antwoord vir die hart oorhou nie.

Mens sou kon luister na Cebo se storie, en die risiko loop om saam hom in 'n hopeloosheid mineur-akkoord te verval.  Op die ertskaai, in 'n vreemde land, praat hy met weemoed en galbitter woorde oor hoe dwelms sy dogter van hom kom steel het.  Mens sou kon toelaat dat skuld en magteloosheid saampak, dat stilte 'n wegkruipplek word, en dat 'n pa se hart, stadig in hopeloosheid begin wegkwyn.

Mens sou na Gabriel, 'n seeman uit die Filippyne, se storie kon luister en voel hoe afstand tussen jou en die wat jou liefhet jou kan verbitter.  Mens sou elke biep-biep van 'n selfoon as aanklag begin hoor, elke klank 'n herinnering aan alles wat jy niÈ kan regmaak as jy aan die anderkant van die aardbol as jou gesin sit nie.  

Mens sou kon verval in hooparmoede. Maklik.  Moeiteloos. Dis oral om ons - redes om hierdie jaar met 'n diepe wantroue van stapel te stuur.  

Maar, vir ons is daar 'n Kind gebore! Dit maak die manier waarop ons na die Nuwejaar kyk kategories anders.  Dit laat ons toe om te hoop saam met Grigory, Cebo en Gabriel.  Dit laat ons met nuwe oÎ en nuwe moontlikhede, want die Kind het alles kom verander.

Soveel dankie dat u ons by CSO finansieel ondersteun en vir ons bid.  Dit verseker dat die seemanne in ons hawens aandoen, altyd herinner word aan die Kind en aan die Kruis.  Daarom is daar in 2026 hoop!