Oorlog is meer as statistiek.
Statistiek is feite. Dit is goed wat getel word: soveel van die en soveel van die ander. So is daar baie statistiek oor die oorlog wat nou in die Midde-Ooste woed. Soveel dae, soveel skade, soveel ongevalle.
Daar is ook statistiek oor die seevaart - veral met die Straat van Hormuz. Volgens amptelike nuusberigte is daar op die oomblik tot soveel as 20 000 seemanne in die Persiese Golf op skepe vasgekeer. Tot onlangs is daar reeds op 18 skepe geskiet en talle sterftes is aangemeld. Die Saesa Vishnu is aangeval en van die skip kon 38 bemanningslede wel gered word.
Groot seevaartmaatskappye het skeepsverkeer in die omgewing gestop. Dit geld vir ook vir skepe wat kritiese produkte vervoer sos olietenkers en houerskepe.
Dit is statistiek. Die statistiek kan in die toekoms waarskynlik toeneem.
Maar agter die statistiek is daar seemanne. Manne wat vasgekeer is met beperkte voorrade en internetverbinding. Seemanne van in vrees en doodsgevaar leef. Minimum kommunikasie met geliefdes tuis met geen idee wat die volgende uur gaan oplewer nie.
Agter die statistiek is daar emosies van seemanne. Dit is die kern van die krisis. Nie die hoeveel van die en hoeveel van daardie nie. Rou emosies wat nie gestil kan word met die fluit van bomme en missiele nie.
Dit is ons mense. CSO se mense. Van daardie seemanne het dalk al CSO se pad gekruis. Iewers in die toekoms wanneer alles normaal word, kan van daardie getraumatiseerde seemanne CSO se pad kruis. Dan het hulle ons nodig.
Dit is alleen gebed en die Woord van die Here wat 'n verskil kan maak. Kom ons vat hande en vou ons hande in gebed vir die seemanne wat deur die oorlog geraak word. Voeg hulle by julle gebedsgroepe. Laat ons almal saam bid want die gebed van 'n gelowige het 'n kragtige uitwerking (Jakobus 5:16). Hierdie manne het ons hande-vat gebede bitter nodig.