Daar is iets enigmaties aan die moment wanneer 'n Bybel hande verwissel.  Die verhoog is dikwels 'n ou roesmoes vragskip, 'n knap skeepskantoor op 'n olietenker, of die windverwaaide dek van 'n steenkool-vragskip.  Dit skreeu nie juis heilig nie...

Die handeling self speel af sonder oordrewe betoë of trompetgeskal - geen podium, geen mikrofoon, geen kamera wat rol of skare wat juigend en ritmies klap nie. Dis net 'n stil en eenvoudige gebaar tussen twee mense - een wat gee, een wat ontvang. 

Die boek wat hande verwissel, is ewe onopvallend: swart ink op gewone bladsye, met 'n eenvoudige omslag. Dis nie in leer gebind met glanspapier en fyn reliëfdruk nie - net 'n klein, handgrootte boekie wat maklik in 'n uniformsak pas. Dit lyk soos enige ander boek - stil, beskeie, amper oor die hoof gesien tussen die geraas van die wêreld.

En tog is dit dalk juis in hierdie stilheid, in die afwesigheid van vertoon, dat iets dieps en ewig gebeur.  Die handeling is eenvoudig - maar die inhoud is onmeetlik... 

Dis die verhaal van ons skepping en ons verlossing, van 'n Koning wat sy Seun stuur ... Dit is gebede van Dawid, die smart van Jeremia, die lof van Paulus. Dit is die asem van die Almagtige, ingeblaas in mensewoorde.  

In die handeling raak hemel en aarde momenteel aan mekaar. Die eenvoud van die oomblik kontrasteer met die onmeetbare gewig van wat daarin opgesluit lê: Waarheid. Lig. Lewe.  Dis 'n gebaar wat lyk of dit min kos - maar dit dra die volle rykdom van genade, vryheid, vrede - van God self.

In die afgelope dae het sulke eenvoudige oomblikke dit self oor-en-oor uitgespeel:  Chris gee 'n Bybel aan 'n Poolse kaptein in 'n skeepskantoor in Durban. Nico weer, aan 'n man op die WEN JONG KOU, 'n skip uit China.  André is op die CL BILIU Hè in Saldanha, waar 'n gewillige hand van 'n tweede-offisier die eerste keer in sy lewe sy eie Bybel kry.   

En dis hoekom ons aangaan, skip na skip, dag na dag. Want in daardie eenvoudige oomblikke gebeur dinge wat bo ons verstaan is. 

God is groot!

Dankie dat u ons met u donasies en gebede bemagtig om hierdie eenvoudige handeling dag na dag te doen.  Dis meer werd as wat u ooit sal kan raai.

EFT. Christelike seemansorganisasie. ABSA Tjek. 1520-230-226. 

       Dis ‘n ou, lendelam, ertsdraer... Die roes, verval, verniel en verweer, verkondig dat die skip se rakleeftyd-datum dreigend aan die deur klop.  Voet aan dek, is jou gevolgtrekking eenvoudig, maar verdoemend – die skip sal binnekort tot skroot gemaak word.  Vir nou, klou die eienaar halsstarrig aan geleende tyd - dis duidelik dat der laaste stukkie lewe uit die skip geseil gaan word.  In Coega moet nog ‘n vrag gelaai word en nog ‘n bestemming moet van hier bereik word... 

       Binne-in die hart van die skip, in die ruim, is seemanne besig om te werk en te leef. Dis hulle wat die flenter-skip op koers en bokant die water moet hou. 

       ‘n Bloedjong kelner doen in die eetsaal diens. As Danie vra, verduidelik hy dat hy al 3 jaar seeman is. Maar, agter die jonkheid is iets wat mens aan die toestand van die skip herinner te bespeur - verval, verniel en verweer blyk iets van die jong man te gesteel het.  

       Dis die CSO Bybels wat uitgepak is wat eindelik die gesprek swaai na die hart van die seeman.  Daar woed bekommernis en magteloosheid wat nou al so gewortel is dat die vrugte daarvan in sy stap en sy omgang met hulle rondom hom te siene is.  Hy is al agt maande weg van die huis af - dis dertig dae voor sy vliegkaartjie hom terug daarheen sal neem.  Wat daar wag, is aaklige realiteite wat sy siel verlam en hom hier waar hy voor Danie in die eetsaal sit, vervalle, verniel en verslaan laat lyk.     

       “Hoe gaan ek hierdie 30 dae oorleef?” wil hy dringend weet “Gee asseblief vir my ‘n woord van bemoediging.”  Dis ‘n onbeskaamde hulpkreet.  Jong oë pleit vir woorde van iemand of êrens wat hom kan dra tot by die huis.

       Dit vat luister, omgee en empatie om die jong man se gemoed te laat bedaar.  Ook kry hy nie net “‘n woord” nie, maar hy kry  ‘Die Woord’. In die Tagalog Bybel gaan soek hulle saam na God se woorde van bemoediging.  Hy lees en hoor dat God by hom en sy familie is en kry dit reg om sy bekommernisse voor God se voete te plaas. 

       Danie kan ‘n paar keer met hom kuier voor hy ‘n paar dae later hawe-uit oppad is.  Nie net vat hy sy nuwe Tagalog Bybel saam wat hom bemoedig nie, hy vat ook die tyd wat hy en Danie saam kon spandeer saam, om hom te dra deur die dae voor sy vliegtuig hom huis toe vat.  

       Elkeen wat vervalle, verweer en verniel word verdien om raakgesien te word en ook om weer en weer die vaste versekering te kry dat daar in Jesus Christus altyd hoop is...

       Wil u dit nie biddend oorweeg om ons finansieel te ondersteun sodat ons elke seeman wat ons hawens besoek hieraan kan herinner nie.

 

EFT  Christelike Seemansorganisasie  ABSA Bank  Tjek 630509  Rekno. 1520-230-226  

Mong, die derde offisier op die CENTURY CHENZHOU het dit weereens die afgelope week vir Nico bewys - soms is woorde ‘n oormaat - dit kan wees soos ‘n stroom sonder rus wat onbeheers oor die rand van stilte bruis en rigtingloos koers inslaan.

Selfs vir die kundigste woordsmid, wat met groot vernuf en vaardigheid mooi sinne kan saamstring, verdwaal betekenis al te maklik in ‘n doolhof van dubbelsinnighede.  Soms verwar woorde, of versteek dit waarheid, en ander kere weer, verdoem dit.  Woorde kan ‘n brug of ‘n afgrond wees...  

En dan weer kan ‘n blik, die ritme van ‘n sug, ‘n traan, ‘n half-glimlag of ‘n stilte meer sê as ‘n duisend woorde saam – asof dit wat diep voel, sonder naam of woorde kan bestaan. 

Mong en Nico se woorde is gesteel deur hul onvermoë om mekaar se taal te praat.  Hul woorde is eerder afgrond as brug, en selfs elkeen se beste pogings en bedoelings om mekaar met woorde te vind, is hopeloos ondoeltreffend. Dus, is hul ontmoeting nou stil...   

Maar, dis juis in hierdie stilte waar hul mekaar op ‘n onwaarskynlike manier vind.  Ironies dan, dat ek die diepte van hierdie stilte nou hier met woorde probeer beskryf...  

Wanneer Nico vir Mong ‘n Bybel in sy eie taal gee, wanneer hul oë mekaar vriendelik ontmoet, wanneer daar, ten spyte van die woordeloosheid van die oomblik, tussen hulle ‘n wedersydse verstaan van die grootheid van die oomblik, is die stilte tussen hulle ‘n brug wat ‘n duisend woorde nie kan bou nie.  En, as Nico agterna vertel van hul ontmoeting, dan vertel hy ook hoe hy in die moment diep bewus was van God se teenwoordigheid.  Hy vertel ook dat hy beleef het dat Mong diep bewus was dat hierdie ‘n Godsoomblik is.     

Soms lê ons bedienings in dit wat nie met woorde vertel kan word nie.  Soms is ons verstaan gebrekkig, en juis dan wil ons verduidelik, praat, redeneer en uitklaar en al die mooi dinge wat ons dink ons woorde sal vermag.  Maar soms, is woordeloosheid genoeg om mense diep aan te raak en te beweeg.  Want, God is soveel groter as dit wat ons met woorde kan vermag!

Mag u bewus wees van elke storie waarin u bydrae aandeel het, maar spesifiek ook, bewus dat u bydrae soms op maniere werk wat nie eers die beste woordsmid kan verwoord nie.  Want, God is inderdaad groter as dit wat ons woorde of verstand ooit kan begryp.  Dankie vir u aandeel hierin.  

      

 

Ons elkeen is 'n storie - dit is hoe ons elkeen bestaan en leef. Daarin verweef is ons tyd, plek, inleidings en afsluitings.  Daar is konflik, perspektief, toon, styl en atmosfeer.  Daaroor gedink, is die grootste misterie dalk hoe elkeen van hierdie stories sonder weerga is - elkeen daarvan is eiesoortig, merkwaardig en buitengewoon.

Die derde ingenieur vertel nou sy storie vir Danie wat sy skip in Gqeberha besoek.  Hulle sit om 'n koppie koffie.  Die jongman se storie is eers vol ambisie - dit gaan oor die groot hoogtes wat hy wil bereik, wie hy eendag wil wees en dies meer.  Soos Danie meer uitvra is dit duidelik dat sy werk-storie maar net een deel van hom is.  Hy het ook 'n huis-storie - daarin is egter antagoniste en konflik en hartseer en hartbly.  Hoe meer hy praat raak dit duidelik dat 'n storie wat geset is op die diep blou see, geensins eenvoudig is nie - die blote ruimte waar dit afspeel impliseer noodwendige intriges.  Dis duidelik as hy praat oor alleen wees, oor wat 10 maande ter see aan verhoudings doen, oor die staalmure van 'n skip...  Jonar se verhaal is vol wonders, wroegings, verwagtinge, teleurstellings en elke dramatiese aspek van 'n bindende verhaal.  Sy storie is inderdaad sonder weerga ...

Dit blyk ons elkeen is meer as 'n enkelsnit-storie - eindelik is ons 'n duisend verweefde verhale wat ons vorm tot iets eiesoortig en buitengewoon.   

Maar, Danie is nie nét daar om te luister na Jonar se storie nie.  Aan die hand van die Bybels uitgepak in die blinkskoon eetsaal, is daar ook 'n ander storie wat nou verweef word in hul gesprek... Dis die storie van 'n God wat diep bewus, bemoeid en betrokke is, en wil wees, by elkeen van ons.  'n God wie se storie van meet af met elkeen van ons vervleg is omdat hy ons gevorm, geweef, en aanmekaar gesit het?  

Vir Jonar is hierdie besef, oneindig baie werd.  Dit bring nuwe perspektief en hoop. Hy glimlag en druk die Tagalog Bybel styf teen sy bors vas toe hy uiteindelik groet.

By CSO is ons gemoeid met, en betrokke by seemanne se stories.  Meer as dikwels is die stories vol hartseer en soeke, en daarom is dit vir ons 'n ongelooflike voorreg om elkeen wat oor ons pad kom te herinner dat die Groot Storieskrywer se storie ook diep verweef is in hul eie.  

Wil u dit nie asseblief dringend oorweeg om ons hande sterk te maak met 'n finansiële bydrae nie?  U bydrae sal in hierdie jaar elke dag stories herskryf!

Dan ook dit - mag u in hierdie jaar onthou dat u storie sonder weerga is - merkwaardig en buitengewoon.  Mag u dan ook in 2025 beleef dat God bewus, bemoeid en diep betrokke is in u verhaal.  Daardie belofte is ontsettend baie werd.

Bankbesonderhede: Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek. 1520-230-226.