Dit is nou gereduseer tot bloot 'n voetnota.  Êrens, in die agterblaaie van die dag se nuus, verskuil tussen niksseggende beriggies wat bloot die bladsy volmaak, is 'n klein opskriffie wat jy sal miskyk as jy nie doelbewus daarna soek nie.  Selfs al lees jy die berig, skok dit nie meer nie.  Dis nou alledaags.  Nuwe nuus en nuwe ellende pryk nou in vet letters op die voorblad.  

Maar, dis nie waar vir die offisier wat voor Danie in Port Elizabeth se hawe sit nie.  Die verwoesting is vir hom so eg soos op daardie eerste dag.  Hy gesels emosieloos.  Sy oë is koud en kil wanneer die woorde oor sy lippe rol.  Dis woorde van dood, verwoesting en pyn.  Die oorlog in Oekraine, duisende kilometers vêr van Coega af,  het die laaste bietjie lewe en hoop uit hom gedruk en sy hart koud gelaat. Terwyl hy rammelend gesels, ontvou dieselfde prentjie wat ons by CSO elke dag in ons skeepsbesoeke sien ontvou.  Sy grootwordhuis is nou 'n hoop rommel.  Kinders wat dood is.  Mense wat eenvoudig werk toe stap, en dan die hoogste prys betaal aan die hand van 'n Russiese missiel.   Dis anders as jy daaroor lees in die agterblaaie.  Dis ver uit die oog, en so ook uit die hart.  Dis radikaal as jy soos hierdie man die name kan opnoem van hulle wie se lewens van hul gesteel is.  Vriende, familie, kennisse; dood. 

Dit voel vir Danie of om net te luister te min is.  As die seeman se dam woorde leeg loop, probeer Danie nie 'n pleister daarop plak of om met mooi woorde en wyshede die seeman se ervarings meer rooskleurig te maak nie.  Hy vra eerder of hy sal omgee as hy vir hom bid.  Uit die Bybel vertel hy van hulle wat ook gewroeg het en hy hoe hulle eindelik vir God op die mees onverwagse plekke midde in hul wroeging ontmoet het.

Baie later, as Danie oppad is, breek 'n rare glimlag deur.  'Dankie vir wat jy vandag kom doen het’, sê die man, nou duidelik emosioneel. Hy neem ook 'n Bybel en vra of Danie sal omgee om vir hom aan te hou bid. 

Terwyl Danie wegstap is daar 'n paar dinge wat hom bybly.  Eerstens, hoe ons nooit so gewoond mag raak aan die pyn en verwoesting in hierdie wêreld dat dit gereduseer word tot die agterblaaie nie.  Tweedens, om 'n diep bewustheid te hê dat ons nie magteloos staan nie.  Die Man van die Kruis het aan elkeen van ons hoop, genade en liefde gegee wat ons kan deel.  Selfs om net te luister, bring dikwels hoop. En derdens, hoe bevoorreg CSO is om donateurs te hê wat dit moontlik maak om met die liefde van die Man van die Kruis daagliks seemanne te ondersteun.  Wil u dit nie asseblief biddend oorweeg om die werk wat ons doen finansieel te ondersteun nie? Die nood is eg.

NS. Hier is die skakel vir die debietorder: https://bit.ly/42iU2gO Vul asb in en epos terug na Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. Ons bankbesonderhede is: Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek. 1520-230-226. Gebruik u donateurskode as verwysing. Ons bly biddend vir mekaar. 

Ons is die Here baie dankbaar dat baie van u positief gereageer het op ons pleidooi rondom die teken van debietorders, die skep van herhalende betalings op u bank profiel en gewone EFT’s. Veral as ons in gedagte hou dat ons met meer as die helfte van ons donateurs kontak verloor het agv die posstelsel wat in duie gestort het. Dit help geweldig baie om te verseker ons bedienaars is versorg en dat hulle al die middele het wat hulle benodig. 

As u nog wonder oor u donasie, lees ons nuutste verhaal - vars uit die hawe en sien watter verskil u donasie maak! 

Die lewe van 'n seeman, is 'n lewe van wag, verduidelik Mavin. Jy wag die dae verby om huistoe te kan gaan; jy wag op toestemming om die hawe in te kom; jy wag vir 'n permit sodat jy vir 'n uur of twee jou voete op moeder aarde langs die skip kan sit; jy wag om jou dogtertjie weer te kan koester en vashou na jy haar vir nege maande nie kon sien nie of wag vir 'n oproep van jou vrou terwyl jou skip momenteel opvangs het terwyl dit op anker lê.  En somtyds, somtyds wag jy ook vir God.

Onwetend dat hierdie die preteks is, kom Danie na die enorme blou-en-wit karskip aangery. Deur die voorruit is al die tekens van 'n skip wat oppad hawe-uit is, duidelik. Kanse dat die Kaptein toestemming sal gee vir 'n skeepsbesoek so kort voor vertrek is soos om te verwag dat 'n kameel deur die oog van 'n naald sal pas. Ter laaste oomblik besluit hy om tog die kar se neus in 'n parkering te druk, en die trappies na bo op te draf.  Bo gekom, word sy vermoede bevestig.  Binne negentig minute sal die skip fort wees. Die seeman by toegangsbeheer is skepties oor sy kanse om aan boord te kan gaan en is ewe verras as die Kaptein uit Oekraine se stem oor die radio kraak en verklaar dat Danie 'n blitsbesoek kan bring.  Die radio kraak 'n tweede keer, die slag om almal aan boord te vergewis van die besoeker van 'the mission’. 

Dit het skaars gebeur of 'n man kom haastig aangedraf.  'Mavin’ stel hy homself voor.  Die lewe van 'n seeman, is 'n lewe van wag, verduidelik hy.  Met 'n groot glimlag, asof hy enige oomblik sy arms om Danie gaan gooi, verduidelik Mavin dat hy op Danie se besoek gewag het.  Mavin se storie is merkwaardig.  Jare terug, is hy deur 'n reuse krisis, maar soos Mavin verduidelik, is sy storie nie die reuse krisis nie, maar eerder hoe God voorsien het en hom daardeur kon help.  Daarna het hy 'n belofte gemaak dat hy op elke skip waarop hy werk, sy mede-bemanning sal herriner aan God se trou.  Op hierdie skip, kon hy 'n Bybelstudie-groep begin wat nou sewe man sterk staan.  Hy is die enigste een met 'n Bybel en vir amper vier maande sluit hulle elke Bybelstudie af met 'n gebed: “Asseblief Here, stuur asseblief vir ons Bybels na hierdie skip toe. Amen.”  Mavin se versoek is eenvoudig:  As Danie dalk vir hom net nog een Bybel het ...

Nou is dit 'n wedloop teen tyd.  Die 90-minute is nou 70.  Uit sy knapsak haal Danie onmiddellik twee Engelse, en twee Tagalog Bybels.  Mavin is oorstelp.  Hulle gebede is verhoor!  Maar, Danie kan beter doen as dit. In 'n oomblik is Danie skip af, in die kar, haastig oppad na sy kantoor.  Daar vul hy voorrade aan, sluit die deur, draf kar toe en herhaal die proses agterstevoor.  Met minute oor, kom Danie weer by die skip se toegangsbeheer uit.  Daar staan nou 'n Bybelstudie groep wat sewe sterk is.  Uit sy knapsak kan hy nou vir die met leë hande ook elk 'n Bybel gee.  Die oomblik is heilig.  Dis 'n verhoorde gebed.  Dis 'n antwoord op die wag...

Hulle dankies en reuse glimlagte is vir elke domateur se bydrae.  Elke donasie bring die Evangelie elke dag na hulle wat biddend daarop wag. 

Die wa is nog nie deur die drif nie. Maar ons vorder! As u dit nog nie oorweeg het nie - kliek hier om die debietordervorm af te laai. Vul asb in en epos terug na Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Ons bankbesonderhede is: Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek. 1520-230-226. Gebruik u donateurskode as verwysing. 

Ons bly biddend vir mekaar. 

Hy's 'n weeskind van hierdie wêreld, een van die vergetenes.  Sy skip word vanoggend geskuif na 'n verwaarloosde deel van die hawe waar dit verder sal verroes.  Daarin het hy geen sê nie.  Dis die ding van vergete wees – jou stem word weggewaai in die wind. 

Vir hulle in die hawe is die skuif waarskynlik 'n saak van, uit die oog, uit die hart.  Die skip, wat reeds maande in Durban 'n kopseer is, se bemanning is net een Indiër man sterk.  Aan boord is daar geen kos, geen water, badkamer geriewe of elektrisiteit nie.  Dit is dikwels so met die vergetenes ...

Net laas week ontmoet Chris met die wie's-wie's van die hawe. Die ringkoppe belowe entoesiasties blink dinge, maar as Chris die man se saak weer kom bepleit, loop hy hom vas in dolleeg mooiweer-praatjies. Skielik is almal te besig om sy oproepe te beantwoord en verdwyn sy eposse in 'n donker gat in die kuberruim.  Dis dikwels so met die vergetenes – dat hulle wat die mag het om dinge te verander, belangriker dinge het om te doen. 

Dan en wan, daag die agent van die skip met 'n paar skamele kosvoorrade op.  Dis tipies te min, en daar is geen aanduiding hoe lank dit moet hou of wanneer die 'barmhartige' eienaar weer 'n aalmoes sal stuur nie. Chris is ook daar toe die agent die laaste keer haar opwagting maak.  Dié verklaar trots dat die eienaar van die skip R800 vir kos beskikbaar gemaak het.  Sy pak die kos uit haar kar op die kaai.  Chris skat dat dit hoogstens R300 se kos is, en dat die agent se kommissie vir haar moeite 'n stewige R500 is. Dis dikwels so met die vergetenes – dat hul ook uit die bietjie wat hulle het geswendel word.

Daar is geen 'gangway' tussen skip en kaai nie, slegs 'n mankoliekige tou wat jou toelaat om, as jy jou lewe sou wou waag, tussen skip en kaai te beweeg.  Met die agent se 'goeie daad' gedoen, is sy fort, en daarom sit Chris hand by om die karige voorraad kos aan 'n tou vas te bind sodat die seeman dit dan na die dek kan hys.  Dis nou al maande, en dit sal nog maande wees ... En daagliks, as daar niemand is om voort te veg nie, word 'n vergetene so bietjie meer vergeet.  Daarom is Chris daar.  Om almal aan te hou herinner en die seeman 'n stem te gee, om kos en water te gee as die aalmoese van die agent opdroog, en die seeman 'n kans te gee om 'n oproep huis toe te maak.  Dit sal Chris elke dag doen, tot die dag wat dit nie meer nodig is nie. 

Dis wat ons by CSO doen.  Ons is, waar ons kan, die stem van die vergetenes.  Maar, meer as dit, is ons ook daar om die vergetenes te herinner aan die Evangelie en 'n God wat elkeen sien, en nooit vergeet nie.  Wanneer u 'n donasie maak, sal ons kan aanhou om die vergetenes wat ons pad kruis te versorg in dié Naam bo alle name. 

Om 'n maandelikse donasie deur middel van debietorder te gee, kliek hier om die debietordervorm af te laai. Stuur die voltooide vorm terug aan Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

Kliek hier vir die verskillende maniere wat u kan gebruik om ons te ondersteun.

Dankie vir die geleentheid om kontak te maak. Ons waardeer u tyd. Aangesien dit al hoe moeiliker word om met ons donateurs via die poskantoor in verbinding te tree, probeer ons, ons bes om op ander maniere met u te skakel, wat e-pos, sms en sosiale media insluit.

Neem asseblief 'n oomblik om ons pleidooi te lees.

Ons is almal besig in hierdie malle gejaag van die lewe en kom nie altyd uit by dinge wat ons graag wil doen of ondersteun nie. Ons het dit nou al by 'n hele paar donateurs gehoor. 

Om dit vir u makliker te maak: Wil u dit nie asseblief oorweeg om 'n debietorder te teken nie? Ons doen AL die administrasie by ons kantoor en kan enige verandering met 'n epos of Whatsapp of telefoniese oproep van u af aanbring. Die opsies van maandeliks, kwartaalliks, elke ses maande of jaarliks is tot u beskikking. U kan ook enige dag van die maand kies. 

Die groot voordeel is, u hoef glad nie bank toe te gaan daarvoor nie!

Oorweeg dit asseblief biddend. Kliek hier om die debietordervorm af te laai. Vul in en stuur aan ons terug en ons doen die res! Die eposadres is Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

'n Groot dankie vanaf elke seeman wat ons mee in aanraking kom. 

NS. Indien u reeds op 'n gereelde basis gee - baie dankie. Ons het baie waardering en ons weet u besef die belangrikheid daarvan!