Skepe kom en gaan soos die getye. Vandag lê hulle trots in die hawe; môre is hulle net 'n kol op die horison. Eienaars en name verander, rompe word afgeskuur en die verlede uitgevee met 'n vars laag verf. Die see onthou nie name nie. Sy golwe vee elke spoor moeiteloos uit, sodat daar waar 'n skip nou majestueus die golwe rangeer, nou-nou slegs blou water kabbel wat geen teken wys van wat was nie.  Maar, God vergeet nooit nie. Hy onthou elke skip, elke reis en elke ontmoeting wat Hy bestem het.

Die KILIMANI is so 'n skip. Sedert 2017 lê sy al in die hawe, eers onder 'n ander naam, later stil en afgeleef. Ná haar tyd in die droogdok kom sy eindelik terug met 'n nuwe baadjie - vars geverf, herstel, amper asof 'n nuwe begin. Maar dis aan boord waar die grootste verandering is ...

'n Nuwe bemanning uit Nigerië het ingetrek. Skaars het Chris sy voet op die dek gesit, of die vraag kom onverwags:  "Het jy dalk vir ons Bybels?"  Chris het twee Bybels in sy knapsak en as hy dit uithaal is die glimlagte groot en die manier waarop hul dit gretig vat, 'n storie op sigself.  

Hoe dikwels gebeur dit nog dat mense só honger is na God se Woord?  Die manne kom uit 'n land waar geloof dikwels teen 'n duur prys kom. Daar leef Christene in sommige dele met geweld, vrees en vervolging as noodwendige deel van hul keuse vir die Man van die Kruis. Miskien juis daarom dan dat die Bybels wat hul nou vashou so duidelik kosbaar is. Dit is lig. Dit is hoop. Dit is lewe.

Die kaptein verskyn.  As Chris en sy oë ontmoet besef hul opslag dat hul mekaar al tevore ontmoet het.  Dan gebeur iets wat geen statistiek ooit sal kan meet nie... Die kaptein draai in sy spore om, stap weg, en kom terug met 'n Bybel in sy hand. Hy wys dit met stille trots. Die bladsye is lankal nie meer skerp en wit nie - dis sag van gebruik, gevou op geliefde plekke en donker gevlek deur hande wat dit oor en oor oopgemaak het. Die omslag dra die littekens van jare op see - sout, son en storms - maar ook die stille getuienis van 'n Bybel wat gelees, bewaar en geleef is. Dit is dieselfde Bybel wat Chris destyds, baie baie jare terug, vir hom in Durban gegee het! 'n Geskenk wat jare gelede op 'n hawe oorhandig is, vaar steeds saam oor oseane.

Dit is maklik om te wonder of 'n enkele besoek, 'n kort gesprek of een Bybel werklik 'n verskil maak. Maar God se werk word selde gemeet aan oomblikke. Hy werk oor jare. Deur reise. Deur mense wat weer en weer Sy Woord oopmaak wanneer niemand anders kyk nie. CSO het nie 'n Evangeliebedienaar in Nigerië nie. Tog bereik die Evangelie Nigerië elke keer wanneer 'n seeman huis toe vaar met 'n Bybel in sy tas en Christus in sy hart. Skepe word sendelinge. Hawens word sendingvelde. En die see, wat kontinente van mekaar skei, word die pad waarlangs God se Woord reis.  Want 'n Bybel wat met liefde gegee word, eindig selde waar dit ontvang is!

Daardie Bybel, wat oor tien jaar oor die oseane van die wêreld gereis het, is met geld van 'n donateur gekoop.  Wil u nie ook deel word van ons bediening aan seemanne en ons finansieel ondersteun nie? 'n Bybel vandag kan môre, oormôre en jare van nou, 'n lewe verander.