Vrees en Vrede.
Die Straat van Hormuz haal moeisaam asem, soos ’n gewonde dier wat instinktief bewus is van die onheil wat in die donkerte skuil. ’n Onsigbare lyn tussen vrees en vrede is oor die water gespan. Die nag se stikdonker is vol oë wat wetend en vresend na die horison staar - die flikkerende ligte wat die duister plek-plek ophelder is nie sterre of feesvieringe nie! Dit is dood en vernietiging.
As die son opkom, lê die Straat soos ’n oop wond. Die lewensverlies op die Safesea Vishnu, wat deur ’n Iranse aanval verskeur is, se wrak is nou ‘n landmerk van die eerste skote wat in ‘n sinnelose oorlog, onskuldiges se lewens gesteel het. Dis een van nou meer as twintig handelskepe wat binne dae getref is in die dodelike teater van oorlog. Die Zefyros, nog ‘n slagoffer dryf daar naby – wat eers ‘n trotse skip was, is nou gereduseer tot mank gemissielde skrootmetaal.
Aanboord van elke skip is almal maar net te bewus van dosyne Iranse see-myne wat stil en wreed onder die oppervlakte lê en wag — elkeen ’n ongesiene doodsvonnis. Vir die mans en vroue aan boord is dit nie meer bloot ’n werk nie — dit is ’n daaglikse dobbelspel.
Vrees loop vinnig. Dit hardloop deur gange, klim teen mure op, dring deur staal tot midde-in die dieptes van jou lyf. Dit praat hard, skreeu dringend: Oorleef, beskerm, ontsnap.
Vrede stap stadiger. Dis ‘n duur artikel. Dit bestaan ten spyte van vrees, diep bewus dat vrees jou kan jou laat lewe, maar nie laat leef nie.
Die see hou alles vas: Die vuur, die rook, die gebede wat baie nie hardop sê nie. Dit kies nie kant nie.
En tog — tussen die alarms en die skadu’s, gebeur iets klein. ’n Hand wat ’n ander hand vind, ’n oog wat sê: ek sien jou, ’n stem wat sagter praat as die chaos - dis daar waar vrede begin. Nie as ’n afwesigheid van gevaar nie — maar as ’n teenwoordigheid van Iemand veel groter.
Die letterlik duisende wie se paaie nou onverwags en noodgedwonge herlei word om die Suidpunt van Afrika en aandoen in ons hawens dra dieselfde vrees, soek dieselfde vrede. En daarom, in ‘n holderstebolder, onderstebo wêreld is CSO elke dag daar op die kaai, op die skip, in die kapteinskantoor. Want, die hunkering na vrede is onmiskenbaar. Ons sit ‘n hand op ‘n skouer, luister aandagtig, en praat sagter as die chaos. Hoekom dan? – want ons hoop is in die Een wat daardie vrede gee wat alle verstand te bowe gaan. En ons het die voorreg om vir seemanne die stem van vrede in ‘n wêreld vol absolute vrees te wees.
As die Paasfees klokke lui, sal ons elkeen herinner dat Hy die grusaamheid van ‘n kruis oorwin het, en in die kruis se plek ‘n nuwe bestel gevestig het – een van liefde, hoop en vrede. Met ‘n finansiële bydrae kan u ons help om die vrede van die Man van die Kruis na harte te vat wat verswelg word deur vrees. Oorweeg dit asseblief biddend om ons te ondersteun.