Die skip is lendelam en onopvallend beskeie. Daar is geen prag en praal, of luuksheid en glans te siene nie. Daar lê 'n verweerde stuk tou op die dek, en dit wil-wil lyk of die roes en stof wat oral kleef vir altyd die opperhand gekry het. Die eetsaal is swak verlig met 'n enkel gloeilamp wat die donkerte desperaat probeer verdryf.
Dis daar waar Danie dringend eenkant toe geroep word deur 'n seeman. Sy storie is een net soos die van legio ander seemanne. Hy het die laagste rang aan boord - hy is 'n niemand, stemloos, ongesiens en onbelangrik - 'n anoniemegesig waaraan weinig min van die ander bemanning 'n naam kan koppel. Sy verhaal is een van misbruik en mishandeling. Op die vêr see, is daar nie oë wat dophou dat daar by die reëls gehou word nie. Daar is jy vloerlap, maak jy soos hulle sê. Want, jy is niemand.
Ook so, is die stal lendelam en onopvallend beskeie. Daar is geen prag en praal, of luuksheid en glans te siene nie. Daar lê 'n verweerde stuk tou op 'n hooibaal en dit wil-wil lyk of die roes en stof wat oral kleef vir altyd die opperhand gekry het. 'n Enkel kers probeer die donkerte desperaat verdryf. Maar, dáárdie nag was opvallend anders. Ten spyte van die vuil en stank is daar, daardie aand 'n Kind gebore waarvan vertel word dat sy ma Hom in doeke toegedraai het en in 'n krippie neergelê het.
Baie het waarskynlik verby gestap, want wie slaan tog ag op 'n onmerkwaardige stal? Sou mens hulle wat daarop neerkyk kon verkwalik, hulle wat sou dink dat iemand wat in 'n stal gebore 'n blote 'niemand’ is? Want, wie sou kon raai dat daardie Kind, die Redder en Vredevors sou wees? Wie sou kon raai dat daardie Kind, uit die eenvoud van 'n stal, elke niemand 'n iemand sou maak.
En so is dit ook vir die man wat voor Danie sit. Ook van hom het die Kind van die Krip iemand van waarde gemaak. Hy is waardevol genoeg dat Danie nie bloot verby kan stap nie. Dis nodig om te stop, nodig om met nederigheid en medemenslikheid te luister, en dan ook te herinner, dat die Kind van die Krip ook van hom iemand gemaak het.
So, met Kersfees op hande, mag u liefde, omgee, en medemenslikheid ervaar. U is van waarde, omdat die Kind van die Krip van ons elkeen iemand gemaak het. Ons by CSO sal in die Kerstyd onverpoos aanhou om elke seeman, wat ervaar dat hul stemloos en waardeloos is, daaraan te herinner. Wil u dit nie biddend oorweeg om ons hiermee te help nie? 'n Finansiële bydrae kan ons hande sterk maak om elke seeman wat dink dat hul niemand is, te vertel van die wonder wat daardie aand in die stal afgespeel het.
Geseënde Kersfees!
NS. Hier is die skakel vir die debietorder: https://bit.ly/42iU2gO Vul asb in en epos terug na Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. Ons bankbesonderhede is: Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek. 1520-230-226. Gebruik u donateurskode as verwysing. Ons bly biddend vir mekaar.
Danie skep nog asem na hy die trapleer skip-op geklim het, toe is ‘n jong seeman al by. Mens sal nie weet of dit die baadjie met die geborduurde Kruis daarop, of die afkondiging wat oor die luidsprekers blêr, dat iemand van die ‘mission’ aan boord is, wat die jonkman so blitsig laat naderstaan het nie.
‘Ek mis my familie’ is sy openingswoorde sonder om homself voor te stel. Net dit. Hy vuur die woorde af soos ‘n salvo geweerskote in die niet in. Uit nêrens. Sonder konteks of verduideliking. Dis ‘n noodkreet. Dis rou. Dis asof hy dit al maande swygend en swaar ronddra soos ‘n gloeiende kool wat hom gaan verswelg en hy nou nie meer vir ‘n sekonde langer kan verduur nie. In die vier-woord kwatryn is sy verslaenheid en gebrokenheid onmiskenbaar.
Vir Danie se geoefende oor, is geen konteks nodig nie. ‘Ek mis my familie’ sê alles. Wat kan erger wees. Sit dit in die konteks van seeman wees, en die storie skryf homself ...
Danie skat hom ‘n bloedjonk sewentien of agttien jaar. Hy’s net-net nie meer kind nie. Net-net. As hul eers ‘n stil plek kry om te gesels is Danie se vermoede in die kol. Dis Carlos se eerste skip waarop hy werk. Dis sy eerste keer weg van die huis af. Huis is vêr en dis lank om weg te wees van vriende, familie en alles wat bekend is. Dis oorweldigend. Elke dag vreet die diep verlang dieper.
Dis vir die Carlosse van die see wat CSO daar is. Dis vir elke Carlos wat in ons hawens aandoen en nodig het dat iemand moet luister, nodig het dat iemand saam hulle moet bid, nodig het om te hoor dat God hul stewig in Sy hand het ... dis vir elkeen van hulle wat CSO bestaan.
Carlos en Danie sit lank en gesels - oor verlang; oor behoort; oor diep asemhaal en ook oor die God wat alle verstand te bowe gaan. Uiteindelik stap Carlos met bietjie meer moed, regop skouers en ‘n Tagalog Bybel wat Danie uit sy knapsak kon aanbied, skip-in.
Laat ons nie vir ‘n oomblik voorgee dat ons redders is nie. Wat wel waar is, is dat ons soms in ‘n Godsoomblik op die regte tyd op die regte plek is om seemanne te help om nog eenkeer asem te haal. Nog een asem is alles. Die lewe is mos maar ‘n asem lank.
U donasies laat ons toe om elke dag na die Carlosse van die see om te sien. Oneindig dankie daarvoor.
In meer as twee dekades se werk op skepe, het Nico al die herhalende en hartverskeurende verhaal 'n honderd maal sien afspeel ... Die mengelmoes emosies van 'n seeman wat pa word terwyl hy êrens, duisende kilometers van die huis af, op 'n skip swoeg om vir sy familie te voorsien, is niks vreemds of nuuts nie. Tog, is dit elke keer, selfs na twintig jaar, treffend.
Met die koms van 'n kleinding as jy op die see is, is daar altyd euforie en tragedie in die lug. Dis 'n geveg tot die dood toe tussen twee kragte wat meedoënloos meeding om die hart van 'n seeman. En, Nico het al die slagoffers van beide gesien. Soms is die euforie van die oomblik genoeg om 'n seeman deur te dra, ander kere weer, kry tragedie die opperhand en dan spin die lewe blitsig buite beheer tot midde-in 'n eksistensiële krisis. Hoekom doen ek hierdie werk, watter tipe pa sal nie daar wees vir sy vrou en kind nie ... alles vrae wat jou dieper in 'n maalkolk dreig intrek.
Oliver, is 'n derde offisier. Sy reis na hierdie seeman-lewe, is gekenmerk deur 'n sekere onvermydelikheid. Dit was ver van sy eerste keuse. Net soos talle ander, wat in lande met beperkte werksvooruitsigte 'n lewe probeer oopkap, is keuses beperk. Jy vat wat na jou kant toe kom, ongeag die prys.
As Nico hom ontmoet, hang die gewig van hierdie grimmige werklikheid swaar om sy skouers. Hy vertel hoe die kombinasie van lang, uitmergelende ure en die feit dat hy nog nie sy twee maande oue baba kon vashou nie, dikwels dreig om hom in te sluk. Sy afwagting is tasbaar, en hy maak geen geheim daarvan dat hy die dae van sy kontrak nou verby wens nie.
Maar, hy dink reeds aan hoe hy weer sal moet afskeid neem. Die Kersfees- en Nuwejaarsvieringe sal kortstondig wees. Dan sal hy weer moet oppak, en weer by 'n skip moet aansluit. Hy sal dit mis as sy seuntjie sy eerste woorde sê, sy eerste tree gee. Maar, hy is ook vasberade om vir sy gesin te voorsien. Hy moet doen wat hy moet doen ...
Op hierdie oggend, in Durban se hawe, is Nico se besoek 'n bestiering. Die tydsberekening is nommerpas. Daar blyk 'n Groter Hand in te wees, want Oliver het op hierdie spesifieke oomblik nodig dat iemand met deernis en Christus-liefde na hom omsien. En dis waarom Nico 'per toeval’ op die regte oomblik op die regte plek is.
By CSO versorg ons daagliks seemanne wie se lewens aan boord 'n grim realiteit is waaruit hulle nie kan ontsnap nie. Ons doen dit met die vaste wete dat daar geen 'toevallighede’ is nie, en dat hulle wat oor ons pad kom nodig het om die liefde, hoop en genade wat die Kruis bring te beleef. Deur 'n finansiële bydrae te maak, kan u ons help om aan te hou om seemanne daagliks te versorg. Dit is noodsaaklike werk. Daarom 'n pleidooi: Oorweeg dit asseblief biddend om ons te ondersteun in wat ons doen.
Hier is die skakel vir die debietorder: https://bit.ly/42iU2gO Vul asb in en epos terug na Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. Ons bankbesonderhede is: Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek. 1520-230-226. Gebruik u donateurskode as verwysing. Ons bly biddend vir mekaar.
Wat is dit om vry te wees? Is dit om nie binne vier vaal mure opgesluit te wees nie? Of dalk as jy nie onderdruk word nie? Is dit as die lewe jou in ‘n slagyster-greep vang waaruit jy nie, ten spyte van jou hopelose gespartel, kan ontsnap nie? Kan jy vry wees binne in ‘n tronksel? Kan jy dus vry wees al is jy nie vry nie?
Dis die deurmekaar wonder-en-soek gesprek waarin Danie met Xavier gewikkel is op ‘n majestueuse houerskip wat vasgemeer is teen die kaai in Gqeberha. Ten spyte van die skip wat imposant soos ‘n reuse berg in die hawe bo alles uittroon, simboliseer dit vir Xavier tronk. Ja, hy is vry, maar is hy?
Hy is nie onder arres of nie gevonnis tot afsondering in ‘n tronk nie, maar op die skip is hy vasgevang tussen die onsigbare grense van die wye oseaan en die grense van die skip self. As jy links stap is daar see. Regs, dieselfde. Vorentoe, agtertoe ... see.
Covid het die seeman-avontuur van onbekende lande en stede oor die aardbol heen verken, die doodskoot gegee. Al is die pandemie vir meeste lank vergete en die virus wêreldwyd bedwang, kan seemanne steeds nie vrylik van die skepe afklim nie. Hulle kan maar net staar na die mense op die kaai en die wolkekrabbers van die stad bewonder vanaf die yster-dek. Xavier was in die laaste ses maande net twee keer van die skip af.
In hierdie maande het die grense van die skip ook die grense in sy kop geraak. Hy voel man alleen, geïsoleerd en afgesny van die werklikheid. Soos die dae verby sleep word die alleen al meer, al ernstiger totdat hy nou hier voor Danie sit en emosioneel sy hart uitstort. Danie kan met die vaardighede van meer as twintig jaar van seeman besoeke, vir Xavier help bewus word van ‘n ander werklikheid as die blote beperkings van die skip.
As Xavier eindelik groet, merk hy op wat CSO se besoek vir hom beteken. Hy merk op dat hul gesprek vir hom bevrydend was. Dat hy maande laas met iemand anders as sy mede-bemanning gepraat het. Vir ‘n oomblik besef Xavier dat hy vry is binne die plan en liefde van God.
Daagliks breek CSO Evangeliebedienaars onsigbare kettings op skepe. Emosionele kettings, geestelike kettings, sielkundige kettings.
Jou donasie maak dit moontlik. Baie dankie daarvoor.
NS. Ons bankbesonderhede is: Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek. 1520-230-226. Stuur asssblief jou besonderhede aan Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.



