Elke Kersgeskenk se toedraai is 'n heilige ritueel: 'n Warm gebreide mus word oopgevou voor 'n beker en boekmerk dan versigtig daarin gelê word, soos 'n kosbare skat wat nog in baie koue nagte op die dek van die skip sal help om die elemente te tem. 'n Serp of 'n paar gebreide handskoene, sommige gebrei met uitspattige kleure wol, word dan bygesit. Die gebrei wat soos 'n bergreeks oor die tafels in die seeman-sentrum lê waar die geskenkpakkies gepak word, is die resultaat van duisende ure se geduldige handewerk - insteek, omtrek, deurtrek, afgooi ... herhaal. Ook 'n pakkie Mentos, 'n skeermes, 'n notaboekie, speelkaarte of 'n yskasmagneet...
Eindelik, word boks-per-boks se flappe toegevou met die ongesproke hoop dat êrens op 'n verre see 'n hart warmer, ligter en sagter sal klop wanneer dit oopgemaak word. Tweeduisend-ses-en-veertig geskenkpakkies staan nou na 'n oggend se werk soos 'n majestueuse monument in die hoek van die seeman-sentrum.
Van hier sal ons kapelane, dit na ertsdraers, olie-, gas, behouering en kar en ander skepe neem waar seemanne ook 'n Bybel in hul eie taal sal kan kry.
Elke pakkie is soos 'n sendingstasie. Dit sal reis waar ons voete nooit sal loop nie: Noordwaarts na die ysige rûe van Alaska; suidwaarts om die punt by Agulhas; ooswaarts na Busan se neonligte; weswaarts na die hawe van Santos waar die see altyd ruik na sout en stories. Dit sal die riviere van die wêreld se handelsroetes volg tot in uithoeke waarvan ons net kan droom.
En êrens, op 'n stormnag of 'n stil wagbeurt, sal 'n seeman 'n beker oplig, 'n mus oor sy ore trek, of sy oë laat rus op die woorde van Johannes 3:16 wat binne die beker versteek was, en herinner word dat 'n Kind gebore is, ook vir hom ... 'n Saligmaker wat die golwe ken, 'n Verlosser wat weet hoe ver die huis kan voel.
U donasie los hierdie Kersfees spore oor die aarde; spore van die Kind van die Krip. Hierdie Kersfees sal dit nie anders wees nie en sal ons weer die boodskap van die Christuskind met seemanne deel, want daardie boodskap is altyd tydig, relevant en ontsettend nodig. Ongelooflik dankie dat u donasie ons help om juis dit te doen. Mag u in hierdie Kerstyd ook die ryklike en onvoorwaardelike seën van die Kind van die Krip in oorvloed ervaar.
Geseënde Kersfees!
Net betyds! Net as die wêreld kortasem raak, en hoop se vlam vervaag tot 'n flikker - net betyds; nie met trompetgeskal en fanfare nie, maar eerder sag, soos lig wat die skeure van 'n gebroke jaar insypel - net betyds! Net wanneer ons nie meer kan nie, wanneer die donkerte wat ons moeisaam binne ons dra, of buite oral sien, ons harte lamlê en wil verswelg, dan is daar weer die sagte fluistering: "Vandag is vir jou 'n Verlosser gebore." Net betyds. Dis asof God self weet hoe nodig dit is - juis nou. Net betyds.
Net betyds vir Ravi, wat die nuus van sy pa wat skielik oorlede is kry terwyl hy vasgevang op 'n skip op die diep blou see ronddryf. As hy maar net afskeid kon neem...
Net betyds vir Emmanuel, wie se skip soos 'n dooie dier in die hawe lê, nadat die eienaar dit vir dood daar gelos het. Vir Emmanuel sleep die dae soos jare verby.
Net betyds vir Andrei, op 'n koue Durban-nag, toe die boodskap kom dat sy dorp in Oekraïne vernietig is.
Net betyds vir Jun, van Manila, wat die ring aan sy vinger dra as herinnering aan 'n liefde wat deur storm en afstand moet oorleef.
Net betyds vir Liang, wat elke dag op sy skip se dek 'n foto van sy dogtertjie oopvou en die dae huis toe op sy kerfstok afmerk.
En só, oor oseane, oor kontinente, deur oorlog en eensaamheid, het die Lig weer gekom - net betyds.
Dis Kersfees!
Net wanneer ons dink die donker gaan wen, breek die Lig van Betlehem weer deur - vir Ravi, vir Emmanuel, vir Andrei, vir Jun, vir Liang ? en vir ons almal wat wag op daardie net-betydse wonder.
By CSO sien ons dit elke jaar weer gebeur. Op die dek van 'n skip, in 'n kaptein se kajuit, in die trane van 'n seeman wat sê hy mis sy kinders, word die Lig van die Kind weer sigbaar. Dit kom in die vorm van 'n gebed, 'n gedeelde koppie koffie, 'n hand op 'n skouer, 'n oor wat luister...
Kersfees herinner ons dat God se tyd altyd volmaak is. Die Kind van die Krip kom nie te vroeg of te laat nie - Hy kom wanneer ons uitgeput is, wanneer ons nie meer weet hoe om hoop vas te hou nie. En Hy bring lig vir elke seeman, vir elke siel op die see, vir elke mens wat wag. Net betyds.
Ons werk by CSO in hierdie Kerstyd om betyds elke seeman te herinner aan die Kind wat gebore is. U finansiële bydrae sal verseker dat ons dit kan aanhou doen. Oorweeg dit asseblief biddend om ons op die manier te ondersteun.
Mag hierdie Kersfees vir u ook so wees - 'n stil Lig, wat juis betyds kom.
Dit raas - oral. In die hawe, op die skip kletter kettings, alarms gil meedoënloos, tweerigting-radio’s blêr aanhoudend en mans roep teen die wind. Dit raas.
Wyer as dit dreun die wêreld soos ’n markplein. Politieke retoriek bulder oor luggolwe – slagspreuke bots soos swaarde en leë beloftes se misoes skreeu woedend van oral oor. Oorloë kerm en skree in beelde, berigte en ontploffings. Dit raas.
Liggies, skerms, boodskappe, kennis, menings – gedurig, aanhoudend, rusteloos, onverpoos. Dit het ‘n luuksheid geword om gehoor te word.
Die Roemeense seeman waarby Chris kuier, trek soos ‘n rammelende stoomtrein sonder stop met sy storie weg. Hy’t nie landgenoot aan boord nie, sy kollegas kom uit die Pakistan, China en Bangladesj en die skip se ystermure luister nie. Elke tema onder die son word gedek – gesondheid, oorlog, geskiedenis – s? geskiedenis, dié geskiedenis, die toekoms en alles tussenin. Naderhand slaan die uur-klok, maar hy is steeds op spoed. Dis na sowat negentig minute wat die blêrende radio ‘n einde aan die gesprek maak omdat sy hande elders nodig is. As hul groet, stap hy weg met ‘n Roemeense Bybel in sy hand. Iemand het tyd gemaak om te luister. Hy is gehoor ...
Volgende skip – die keer in die rookkamer, sit ’n kaptein met moeë oë. Sy kontrak is verby, maar huis toe kan hy nie. Oorlog woed daar en dit sou beteken dat hy onmiddellik vir militêre diens sal moet aanmeld. Hy is kwaad vir regering, kwaad vir kerk, vir die wêreld, vir sy eksvrou, vir almal ... Deur dit sit Chris opreg en sonder oordeel en luister.
Volgende skip –
Volgende skip –
Altyd reg om te luister en die versekering te gee dat midde in die uiterste geraas daar ‘n Fluistering is wat deur die eeue die een konstante is; altyd gereed om uit te wys hoe God ‘n lewende deel van elke verhaal is...
Dis wat ons by CSO doen.
Soms word die grootste las verlig deur die kleinste gawe:
’n Oor wat luister, ’n hart wat saamdra.
Want, om gehoor te word, is om weer mens te word.
Dankie dat u bydrae dit vir ons moontlik maak.
Die storm lê oor Port Elizabeth soos 'n ongenooide gas. Die wind gil deur styfgespande toue, en pluk-pluk aan majestueuse skepe soos speelgoed in reuse-hande. Selfs in die skuilte van die hawe, maal die water teen die romp van die ertsdraer, met skuim wat rond warrel tot hoog teen die skip se staallyf. Nog leeg en hoog uit die water, kraak die bielie van 'n skip onheilspellend teen die aanslag van wind en weer.
Die Baai se storm is egter skaars 'n voorspel van wat aan die ander kant van die wêreld ontvou. Daar bars Bualoi, 'n tropiese monster wat sy woede oor die Filippyne uitstort, los. Huise skeur soos karton, paaie word slote modder, en waar reën gewoonlik genade is, is elke druppel wat nou daar val 'n traan. Dit huil oor die dorpe van Oos-Samar waar omtrent 433 000 mense gedwing word om te vlug voor stygende water en berge wie se voete gly sodat dit dorpies in modder verswelg. Mense verloor hul lewens. Bualoi is nie net 'n naam op 'n weerkaart nie - dit is 'n donker hand wat alles wat kosbaar is gryp en wegvee.
Op die skip wat Danie besoek dra twee seemanne 'n storm wat geen mens kan stilmaak nie. Mario en Trevor sit stil in die eetsaal, maar die stilte is loodswaar. Hul gesigte lyk kalm, maar binne raas 'n orkaan; nuus wat soos woedende golwe oor hulle slaan. Ook hulle dorp is deur 'n modderstorting platgevee. Die foon op die tafel is 'n onheilspellende bode - dit kan 'n boodskap van hoop bring, maar kan ook die heel ergste denkbare tyding aandra ... Die angs daarvan verswelg hulle. Geen rat of tou aan hierdie skip kan die spanning in hul gemoed vasbind nie. Hul bevind hul in 'n slagveld van gedagtes. Die wag, 'n martelgang van vrae sonder antwoorde. Die afgelope nag, 'n donker see van drome waarin hulle weer-en-weer probeer terugkom by die huis - maar altyd te laat is.
Danie kan aan Bualoi se woede weinig doen. Maar, hy is daar. Hy sit die middag om, die aand in en waak saam met die tweemanskap. Hulle bid, hulle smeek, en soek vertroosting uit die Woord. Tussendeur, as die woorde min raak, is hy gemaklik genoeg om net daar te wees in die stilte. Hy waak saam totdat die bode eindelik tyding bring dat die twee se gesinne veilig is. Hulle kan weer bid, weer lees, nou met nuwe oë. En as dit anders was, as die nuus die allerverskriklike was, sou hul ook weer kon bid, weer kon lees. Want, die God in wie se Naam Danie aan boord is, is nie net die God van plat seë en voorspoed nie, dis ook die God wat stormwinde beveel om stil te raak. En dit is wat CSO doen, ons is daar waar storms woed. Mario en Trevor se bewoë en dankbaar groet as Danie koers kry huis toe, getuig daarvan.
Wil u ons nie help om die mense van seë te versorg in hulle storms nie. U finansiële bydrae kan 'n wesenlike verskil oor oseane heen maak.


