“Nee”, kom dit vinnig, ongeërg en beslis. Daar is geen Christene aan boord nie, en dus word Danie se besoek daar en dan gestuit. Dit is ‘n duidelike vurk in die pad...
Hoe groots is twee van die kleinste woordjies in ons taal dan nie? Tussen “nee” en “ja” is dikwels ‘n kloof wat gaap soos ‘n reuse wond in die aarde, ‘n donker afgrond wat die wêreld in twee skeur. Daar tussen, steil kranse, gehawend deur tyd, terwyl die dieptes onder ‘n koue en onverbiddelike leegte verberg. Die ander kant, tog so naby, binne reik, maar tog ‘n duisend myl ver. Hoe ‘n eenvoudige “nee” of enkele “ja” dan nie ons lewens bepaal en ons paaie karteer nie!
Die nee wat Danie op die skip kry is absoluut. MAAR ...
Dan, as hy amper weer oppad is by die trapleer af, noem een seeman terloops dat daar dalk een Christen aan boord is wat met hom wil gesels. Skielik is die absoluutheid sagter en is die deur op ‘n skrefie oop. ‘n Gebabbel oor die radio en ‘n handgebaar wat wys dat Danie so bietjie moet aanhang, laat hom sy pas makeer. Oomblikke later kom ‘n jongman te voorskyn. “Ja, ja asseblief ...” en nou bevind Danie hom skielik in die binneruim van die skip, vanwaar hy oomblikke terug in ballingskap op die trapleer was. Nie net nooi die seeman hom om te sit en te kuier nie, maar ook om die Bybels in sy knapsak op ‘n tafel uit te pak.
Terwyl Danie met die seeman sit en gesels, kom ander huiwerend nader om te kyk na die Bybels in hul eie taal... Eers een, dan twee wat versigtig vra wat dit is en uiteindelik een optel en daardeur begin blaai. In die oomblik kan Danie die essensie van die boek in hul hande saamvat in drie woorde: Genade, liefde, hoop ...
Verrassend staan die een wat vroeër die onverbiddelike nee by die trapleer gegee het ook nader. Skielik is daar ‘n miskien...
En dan vra hy of hy dalk ook ‘n Bybel kan kry.
Ons is dag na dag ooggetuies van hoe God op ongelooflike maniere absolute nee’s in ‘n ontvanklike ja’s verander. Hoe kragtig is dit nie! Wat vir ons lyk na ‘n onoorbrugbare kloof, is vir God moontlik. U ondersteuning help elke dag om die boodskap van die Man van die Kruis na hulle te neem wat skepties daaroor is. Van daar doen God dinge wat groter is as ons verstaan. Van daar, soveel stories van definitiewe nee’s na omoorwonne ja’s.
Dankie dat u hieraan deel het! Dit verander lewens.
Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek 1520-230-226.
As ons vorm, is dit uit die volmaakte stofstorm. Met die weer gaan lê, het stof weer die laaste sê. Van stof, tot stof... ons blyk in sirkels te leef - siklies. ‘n Kil winter hou die verskuilde belofte van somer in, die grou donker van die klein ure van die nag, die sekerheid dat ons sirkel om die aarde se as, ons weer die kleure van dagbreek sal laat sien. Die Oujaar se middernag-uurslag, nog eenkeer om die son ...
Seemanne is ewe gewikkel in ’n spel van ewige siklusse – die ewige eb en vloed van die see, die sonsopkoms wat oor eindelose water breek, en die maan wat dan die getye aanhits. Elke begin hoop op veilige hawens en eindig met die belofte van huis toe gaan. Seemanne weet beter as die meeste dat die siklusse van die lewe, soos die see, nooit stilstaan nie.
Waar hul op die horison verby ‘n veraf strand seil waar nuwejaarsvure brand en vuurwerke die hemel helder inkleur, is dit meestal met ‘n diep versugting vir huis, vir die waarvoor hulle lief is ... By CSO, hoor ons elke dag hierdie stories - dikwels stories wat ewe ekstreem as die storms en stiltes van die see is. Ongekende eensaamheid en verlange, depressie en angs, oorloë, seerowers, gebroke families – ‘n seemanslewe.
Hoe naïef sal ons wees om te dink dat die oujaarsklok alles sou kom verander, sou skoonwas? Maar, daar is tog iets in die nuut van dié nuwe jaar. Dit bring tog hoop dat dinge in hierdie siklus beter sal wees. In ons geval, beter omdat ons na die Kind van die Krip se geboorte weer die pad na die Kruis begin stap. En in die siklus van Krip-na-Kruis, is daar ‘n lewende hoop dat dinge wel beter sal wees, is daar die moontlikheid dat ons na hierdie omwenteling om die son sal kan terugkyk en sê, ‘dit was goed!’
In hierdie jaar, sal ons net soos dekades voor dit, met u donasie en gebede saam met seemanne op hul reise om die son gaan. Dit sal ons weer bemagtig om onverpoos aan te hou vertel van die Een wat ongebind aan siklusse en sirkels en tyd en seisoene, altyd genadig is – van die Een waarin ons ‘n lewende hoop het!
Mag u ook in hierdie siklus daardie hoop en genade beleef. En, as dit donker raak, mag jy aanhou asemhaal, want ons weet nooit watter wonders die volgende gety gaan bring nie.
Please, sir, I want some more ??
Wie onthou die bekende woorde uit die klassieke boek, Oliver Twist van Charles Dickens (1838)? Die bekendste musiekblyspel van alle tye is sekerlik die 1968 weergawe van die boek. En dis hier waar die jonge Oliver se lewe onherroeplik verander, wanneer hy dit durf waag om vir mnr Bumble nog kos te vra! En mnr Bumble wat dan bulder: “Moooore? You want more?” Vir my as jong kind was dit vreeslik ontstellend en is ek nog steeds huiwerig om daarna te kyk.
Met die lees van die weeklikse stories uit die hawens uit, waar ons bedienaars reeds vir 80 jaar aan die voorpunt staan van die geestelike en fisiese versorging van seemanne en vroue wat ons hawens aandoen, het hierdie beeld skielik weer by my opgekom.
Hierdie manne en vroue waag hulle lewens elke dag om goedere uit ander dele van die wêreld na ons deurstoep te bring. Om die waarheid te sê, 90% van wêreld handel vind per skip plaas!
En weer is ek ontsteld. Wat gebeur as ‘n seeman vra: “Please sir, I want some more” en ons het nie ‘n Bybel om te gee nie want ons het nie genoeg fondse nie?
Die gedagte is net ondenkbaar! Maar die enigste persoon wat kan keer dat dit gebeur, is u. Of dit R100, R150, R200 is of enige ander bedrag, dit kan verseker dat daar altyd genoeg sal wees om seemanne te versorg.
U gereelde donasie sal dit moontlik maak om altyd hierdie vraag met ‘n besliste ‘Ja’ te kan antwoord!
Ons bankbesonderhede: Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek. 1520-230-234.

