Die skip is nou al ‘n bekende silhoeët teen die Kaapse platberg. Die HECTOR N doen weer in die Moederstad aan. Wanneer jy die rare kans kry om ‘n skip weer-en-weer te besoek, groei daar iets besonders: Vertroue, verbondenheid en ‘n geestelike vriendskap wat oseane oorbrug. Só was dit weer die week vir André met sy besoek aan die HECTOR N.

Gou gons die radio’s met die riemtelegram dat hy weer aan boord is. Die weersiens is hartlik, asof ‘n ou vriend die skip besoek. Die reuse skip dra ‘n wêreld in homself – ‘n drywende mosaïek van kultuur en karakter. 

Die Filippynse manne bring ‘n gees van broederskap; hul lag vul die gange en hul lojaliteit teenoor mekaar is soos ankers in ‘n stormsee. Die Russe dra ’n stille vasberadenheid – oë wat al baie gesien het, min woorde, maar baie gewig. Die Roemeniërs weer, se vasberadenheid en stil krag herinner aan hul tuisland se berge – die Karpatiese pieke wat met mis omhul is en al eeue lank stil teen storms staan.  Dan is daar ook ‘n paar jong manne uit Ethiopië – van die hoë platorand van Oos-Afrika, dra hulle ’n geloof so oud soos die bergkerke van Lalibela. Hulle is stil en nederig, met oë vol lig – soos mense wat weet hul gees is sterker as enige see. Saam is hulle ‘n familie, bymekaar gebring nie deur toeval nie, maar deur die groot blou see.

Rollie is die kok en soos op enige skip, die belangrikste man aan boord.  Met die weersien, droog hy haastig sy hande aan ‘n oondlap af, en kom groet met ’n warmte wat meer as net dankbaarheid verklap.  Dis tog hier waar hy ‘n nuwe pad begin stap het...

 ‘n Paar besoeke terug het hy ‘n Bybel in Cebuano van André ontvang.  Nou is hy haastig om weer terugvoer te gee oor hoe hierdie geskenk hom bly verras. Eers was dit bloot ‘n leesroetine, maar nou is dit ’n anker. Dis nie meer plig nie, maar ‘n diep begeerte om ‘n lewe in God te leef. Gebed is nou meer as ‘n daaglikse ritueel – dis waar hy gaan vrede soek en rus. 

Tussen die staal van die skeepskombuis en die eindelose horison het Rollie begin ontdek dat geloof nie vas is aan ’n plek nie, maar dat dit oral kan lewe – selfs hier, tussen masjiene, lawaai en isolasie. 

Kaapstad, vir hom, is nou meer as net ’n hawe.  Dis ’n plek van herbesinning – ’n geestelike ankerpunt. André se besoeke is meer as blote vriendskap, dis ook ‘n stille herinnering dat God ook hier, op see, teenwoordig is.  In die feit dat André keer op keer na die skip terugkom, beleef hy omgee – iets wat hy weet elke seeman nodig het. 

Dis in sulke oomblikke dat jy besef: Ons teenwoordigheid, al is dit kort, kan ‘n blywende invloed hê. As CSO is ons meer as besoekers – ons is geestelike bakens. Wanneer ‘n skip aanlê en ‘n bekende gesig wag op die kaai, weet die bemanning: Hier is iemand wat omgee, wat luister, wat bid.  So ontsettend dankie aan almal wat dit moontlik maak. 

Toe was die romp van die skip van eikehout, die maste, spane en binnewerke gekerf uit ‘n den of ‘n seder.  Dis voor staal sy opmars begin het.  Nou, is skepe super-tegnologiese yster-kolosse.  Toe was seelui dae aan wal, nou vir gejaagde, blitsige ure.  Toe het die brief huis toe maande geneem, nou flits WhatsApp boodskappe wêreldwyd in sekondes.  Toe het Evangeliebedienaars met fietse tot op die kaai gekom, nou kom hul met digitale platforms in hul broeksakke wat ‘n seeman toelaat om sy dogtertjie se balletkonsert aan die anderkant van die aarde te geniet.  Toe het skepe met swart bolle rook uit die skoorsteen gekreun, nou gly hulle stil deur die water, aangedryf deur enorme enjins wat hulself diagnoseer as iets makeer. 

Dis vreesaanjaend hoe vinnig dinge verander.  Die pas is soos ‘n stroomversnelling wat ons insluk voor ons asem kan skep. Wat eens stadig ontvou het soos oggenddou op ’n blaar, gebeur nou in flitse en flarde, sonder tyd vir stilte of sin. Die wêreld draai vinniger, skerms flits helderder, en ons siele wankel onder die las van onafgebroke nuutheid.  Dis ook waar van die moderne seeman. 

Dis aanhou aanpas, aanhou jaag, aanhou byhou. Ons harte smag na rus, maar vind meestal net geraas. Ons gedagtes fladder soos voëls sonder nes, en geloof verdof, gedurig onder skoot deur ‘n meedoënlose inligting bombardement. Dit laat ons stilweg siek, uitgeput en ontwortel, heimlik verlangend na iets wat nie verander nie. Na Iemand wat bly.

Maar in al hierdie verandering staan een ding onwrikbaar sterk: die Evangelie van Jesus Christus.

Danie in die baai het hierdie week met die netjiese trappe na die dek geklim met dieselfde boodskap as wat die Evangeliebedienaar in 1944 by die mankoliekige touleer opgedra het.  Chris, in sy gesprek met die Filippynse seeman, het presies dieselfde boodskap van genade gebring – ewe relevant as toe CSO hierdie boodskap meer as tagtig jaar terug gebring het.  André in Kaapstad praat nou steeds oor dieselfde liefde van toe.  Loffie verduidelik aan ‘n lewensmoeg seeman dat daar hoop is, gegrond op die Een wat tóé was, nóú is en áltyd sal wees.    

Toe was daar 'n roeping dat elke seeman, soldaat of reisiger wat ver van huis af is, moet weet dat God naby is.  Nou, al is die wêreld ‘n dramaties ander plek en die konteks wêrelde verwyder van wat dit was, is die boodskap se essensie steeds dit:  Christus is genoeg.

CSO het deur al die jare oorleef deur genade, maar ook deur die oop hand van donateurs.  Wil u dit nie biddend oorweeg om finansieel by te dra tot ons werk nie?  Dit help ons om elke dag, te midde van die chaos om ons, die mense van die see te herinner aan die een konstante: Die Kruis wat vir elkeen van hulle op Golgota geplant is.

 

 EFT

Christelike Seemansorganisasie

ABSA Bank. Tjek / Current 630509. Rek / Account: 1520-230-226

Ikhoka aanlyn donasies: / Online donations:  https://bit.ly/4k2N60e

“Seerowers”: Wie sou ons verkwalik as die eerste gedagtes wat by ons opkom kinderstories en fabels is – plastiek oogklappe, of ‘n kopbeen wat in morsige swart ink op die voorarm van ‘n vriendelike skurk wat sê “Arrrr” verewig is.  Dis tog die wêreld van Peter Pan en Captain Hook, sy klugtige teenstander.  Dis Robert Louis Stephenson se Treasure Island, amper honderd-en-vyftig jaar oud, ‘n skattejag, ‘n dekmantel vir avontuur...  

 Die man wat Danie op die skip in Port Elizabeth ontmoet erken dat sy kalm uiterlike en trauma van die nagmerrie waardeur hy is, maar ‘n haarbreedte uit mekaar lê.  Dis nou die eerste keer wat hy weer op dieselfde roete langs die kus van Afrika moes afvaar.  Hy’t gedink dat hy gereed sou wees, dat sy gemoed gepantser is om dit te kan hanteer, maar die vrees en angs het hom kom oorrompel net soos die seerowers toe.  

 Dis nou maar ‘n paar maande gelede wat sy skip aangeval is. Nie deur fabelagtige storieboek-karakters nie, maar deur brutale, gewapende en vreesaanjaende seerowers, met elke intensie om die wat uit lyn uit stap af te maai.  Twaalf van sy mede bemanning – sy vriende, sy mense, sy kamerade – is ontvoer. Die stilte ná die aanval was erger as die geweervuur.  As die koeëls rondom jou teen die mure vasslaan en vonke maak waar dit op die dek dans, dra adrenalien jou deur.  Dis die stilte daarna wat jou breek.  Dis onseker, ondraaglik en skielik is daar twaalf minder stemme op jou skip... Nou, met ’n nuwe bemanning, moes hy weer daardie selfde roete vaar. Terug deur die donker.

In Coega kom die noodoproep na Danie.  Die seeman se lyftaal verklik onmiddellik dat als nie wel is nie – oë dof, skouers swaar. Hulle gesels sag, versigtig – wetend dat die trauma wat die seeman saamdra hom broos gelaat het. Sy vrees is allesomvattend.  Dit klou brandend aan sy hart, soos kakiebos aan sy gemoed.  Sy mede-bemanning is immers maar net ander dag weer vrygelaat...    

 Maar waarom met Danie gesels? Hoe sal hy dan sy angs met sy nuwe bemanning kon deel.  Sê nou maar hul sê hy kan nie meer werk nie of sê hy is ‘n lafaard; sê nou maar dit; sê nou maar dat – ‘n duisend spoke wat opgejaag word.  In Danie is daar net genoeg afstand, maar ook familiariteit.  Die werk wat ons doen is bekend genoeg sodat seemanne weet om ons te kan vertrou, maar dis ook ver genoeg omdat ons niemand ken wat hulle ken nie – dis net tussen ons.    

 Na lank gesels het die seeman weer moed.  Nie omdat hy skielik gesond is nie, maar omdat hy sy las kon deel.  Hy sien weer kans om verder te gaan, nie omdat die pad veilig geword het nie, maar omdat hy onthou het: God vaar saam.

 Dít is wat CSO doen.  Ons is deur God se genade die veilige hawe vir seelui wat op die rand van moedeloosheid dryf. Ons bied skuilplek in die storm; die hand op jou skouer in ’n vreemde hawe. Die herinnering dat jy nie vergete is nie.  Wil u dit nie asseblief biddend oorweeg om hierdie onmisbare werk finansieel te ondersteun nie?

 

NS. EFT Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek 1520-230-226.

Daar is iets enigmaties aan die moment wanneer 'n Bybel hande verwissel.  Die verhoog is dikwels 'n ou roesmoes vragskip, 'n knap skeepskantoor op 'n olietenker, of die windverwaaide dek van 'n steenkool-vragskip.  Dit skreeu nie juis heilig nie...

Die handeling self speel af sonder oordrewe betoë of trompetgeskal - geen podium, geen mikrofoon, geen kamera wat rol of skare wat juigend en ritmies klap nie. Dis net 'n stil en eenvoudige gebaar tussen twee mense - een wat gee, een wat ontvang. 

Die boek wat hande verwissel, is ewe onopvallend: swart ink op gewone bladsye, met 'n eenvoudige omslag. Dis nie in leer gebind met glanspapier en fyn reliëfdruk nie - net 'n klein, handgrootte boekie wat maklik in 'n uniformsak pas. Dit lyk soos enige ander boek - stil, beskeie, amper oor die hoof gesien tussen die geraas van die wêreld.

En tog is dit dalk juis in hierdie stilheid, in die afwesigheid van vertoon, dat iets dieps en ewig gebeur.  Die handeling is eenvoudig - maar die inhoud is onmeetlik... 

Dis die verhaal van ons skepping en ons verlossing, van 'n Koning wat sy Seun stuur ... Dit is gebede van Dawid, die smart van Jeremia, die lof van Paulus. Dit is die asem van die Almagtige, ingeblaas in mensewoorde.  

In die handeling raak hemel en aarde momenteel aan mekaar. Die eenvoud van die oomblik kontrasteer met die onmeetbare gewig van wat daarin opgesluit lê: Waarheid. Lig. Lewe.  Dis 'n gebaar wat lyk of dit min kos - maar dit dra die volle rykdom van genade, vryheid, vrede - van God self.

In die afgelope dae het sulke eenvoudige oomblikke dit self oor-en-oor uitgespeel:  Chris gee 'n Bybel aan 'n Poolse kaptein in 'n skeepskantoor in Durban. Nico weer, aan 'n man op die WEN JONG KOU, 'n skip uit China.  André is op die CL BILIU Hè in Saldanha, waar 'n gewillige hand van 'n tweede-offisier die eerste keer in sy lewe sy eie Bybel kry.   

En dis hoekom ons aangaan, skip na skip, dag na dag. Want in daardie eenvoudige oomblikke gebeur dinge wat bo ons verstaan is. 

God is groot!

Dankie dat u ons met u donasies en gebede bemagtig om hierdie eenvoudige handeling dag na dag te doen.  Dis meer werd as wat u ooit sal kan raai.

EFT. Christelike seemansorganisasie. ABSA Tjek. 1520-230-226.