Kyk net die vreugde op hierdie seemanne se gesigte. Dit oor iets wat vir u en my dalk alledaags is: ‘n Bybel in sy eie taal. Dit is God se vreugde wat uit hulle uitstraal. Daar is mos die bekende Gesang wat lui: In U is vreugde! Hulle ontmoet die Here in hierdie Bybel. Hier hoor hulle Sy vreugdestem. Dit is die wonder hiervan: Hulle hoor net daar waar hulle is.

Natuurlik is daar ander maniere hoe hulle kan hoor. Ons leef immers in die tyd van tegnologie. Daar is potgooie, TV kanale en Bybels op hulle selfone. Maar dit is vir die seemanne nie dieselfde vreugde as om letterlik die Here se Woord in die hande te hê en daardeur te blaai nie. ‘n Bybel in ‘n moedertaal, praat immers met jou hart. Dit gee hartsvreugde. God se vreugde.

Tegnologie het oorgeneem. Daar was die dae van die posduif. Pragtige briewe wat geskryf is. CSO se briewe aan donateurs. Seemanne se briewe aan hulle geliefdes. Ongelukkig bied die posdiens vandag aan ons ‘n hele klomp uitdagings. Posstukke, soos die nuusbriewe wat  gereeld ontvang is,  bereik u nie. Donasies wat per pos aan CSO gestuur word, bereik ons nie. Dit verdwyn soos mis voor die môreson.

My pleidooi is daarom of u nie wil oorweeg om voortaan ‘n debietorder te teken vir donasies nie. Ons doen al die administrasie by ons kantoor en kan enige verandering met 'n epos of Whatsapp of telefoniese oproep van u af aanbring. Die opsies van maandeliks, kwartaalliks, elke ses maande of jaarliks is tot u beskikking. U kan ook enige dag van die maand kies.  Oorweeg dit asseblief biddend. Kliek hier https://bit.ly/42iU2gO  om die debietordervorm af te laai. Vul in en stuur aan ons terug en ons doen die res! Die eposadres is Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

  Daar is ook die moontlikheid van EFT’s of herhalende betalings op u bank app. Kontak ons gerus per epos vir enige vrae!

Dr Wimpie van Schoor: Voorsitter.

  NS. Daar is donateurs wat reeds hierdie stap geneem het. U weet wie u is. Baie dankie daarvoor! 

Bankbesonderhede:ABSA, Tjek, 1520-230-226

Luister gerus na dr Wimpie van Schoor se persoonlike boodskap aan u.

Daar is weer nuus van ‘n nuwe oorlog in die lug, dit, terwyl ons nog beswaarlik herstel het van gister se bomme.  Rondom die Rooisee word nog ‘n duisend lope geolie vir die stryd en soos in die verlede word swaarde geslyp.  Oor die Swartsee dreun die grofgeskut en swaar artillerie nou pal, asof ‘n doodnatuurlike deel van baie se dag-tot-dag bestaan.  Vrede blyk ‘n deksels duur artikel, en liefde ‘n bitter selde item. Wanneer sal berigte tog lui, dat Eden herstel het?

 Nie-verrassend dan dat Danie en Yuri, ‘n seeman uit Oekraïne se smeekgebed as hul saam in die eetsaal van die skip sit, eenvoudig dit is: ‘Dona nobis Pacem’ – Here, gee ons Vrede.  

 Die vrees wat oorlog bring, vreet die vrede op elke denkbare vlak van jou bestaan. As Yuri sy verhaal vertel is dit met sy selfoon naarstigtelik vasgeklem in sy hand – hy verduidelik dat elke boodskap wat deurkom die potensiaal het om sy bestaan onherroeplik te verander.  Elke boodskap is ‘n moontlike bom, ‘n missiel wat kan vernietig.  In Yuri se vertel is dit vir Danie duidelik dat Yuri eens op ‘n tyd meer driftig was: Oorlog het egter die drif getemper met verslaentheid, sy vrede is vervang met ‘n hoogspanningdraad wat pal deur sy hart loop en hom laat voel asof hy enige oomblik inmekaar kan sak.  Oorlog steel alles, maar veral die vrede binne jou. Daarom dan, eenvoudig dit: ‘Dona nobis Pacem’. Asseblief Here! 

Danie en Yuri se gesprek is intens en dringend.  Oorlog bring ‘n ander tipe dringendheid wat vêr anderkant mooi praatjies oor die weer is.  Dit laat jou die sin van die lewe in twyfel trek, laat jou wonder oor God, oor die mensdom, oor bestaan.  Vir Yuri is die feit dat hy dit met Danie kan bespreek en dat Danie bereid is om te luister, ‘n ligpunt midde-in die gedurige trauma wat om hom afspeel.  Net vir ‘n oomblik kan hy die wêreld wat hy op sy skouers dra, met iemand deel.  En na hul lank gesels het, kan hulle smekend saam bid: ’Dona nobis Pacem’ – Here, gee ons Vrede.       

Yuri se storie is een van baie soos die.  Die stories van ondenkbare hartseer wat die bomme en koeëls bring, of dit nou rondom die Rooisee of die Swartsee is, is almal eenders.  Maar tog nie.  Yuri is uniek deur God gemaak.  Daarom sal ons by CSO elke seeman sien as hoogs uniek.  Ons sal na elke storie luister en in ons luister die hoop, genade en liefde van die Een God wat vrede gee wat alle verstand te bowe gaan, met seemanne deel.    

Ons het u ondersteuning nodig om dit te kan doen. ‘n donasie maak ons hande sterk om seemanne in elke hawe in ons land daagliks te bedien.  Oorweeg dit asseblief biddend om deel te raak van hierdie bediening.

*Sommige sinsnedes geneem uit Jannie du Toit se lied ‘Vrede Vanaand’.

Die groen, plastiek Kersboom sowel as die goue en silwer balle wat moeisaam weke tevore opgeslaan is, word nou uitgedien, afgeslaan en in ‘n langwerpige bruin boks gepak.  Dit sal stof vergaar tot in Desember 2024 wanneer die ritueel homself sal herhaal.  Daarby word ook die staltoneel wat deel van die Kersfees parafernalia is, kompleet met skape, herders, ‘n krip en ‘n baba in doeke toegedraai, se prop by die muur uitgetrek.  Dié kom met sy eie klankbaan wat ‘Joy to the World’ op ‘n vrolik, tog mankoliekig en blikkerige manier, wat nie maklik op die oor is nie, herhaal en herhaal, terwyl bont liggies wat herinner aan ‘n popkonsert flikker en die figuurtjies allerhande ougat bewegings maak.  Skielik is die lig in die stal doof. 

Maar ook die diepere dinge, die hoop, vrede en guns van die Christuskind blyk vinnig te verdof.  Die nuwe jaar bring klokslag nuwe eise.  Die lig in die stal laat ons jaarliks moed skep, maar soos die dae en maande van die nuwe jaar sy ding doen, word die lig al dowwer totdat ons na nog ‘n omwenteling om die son, weer uitgebrand en desperaat die stal se Lig opsoek. Dis nie eenvoudig as daar nie meer hoop is nie.  Dis nie eenvoudig as ons toelaat dat daar stof vergaar op die Kind van die Krip nie.  Ons het hoop so bitterlik nodig!

Ook so is dit met die manne van die see ...

Die groot volwasse man wat op die dek van ‘n skip voor Danie in Gqeberha staan en met rukkende skouers huil en vertel van hoe hopeloos dinge is...

Ook die man wat op ‘n vragskip in Durban vertel van die walglike oorlog in Oekraïne wat sy familie gesteel het...

Ook die Filippynse derde offisier wat die traumatiese nuus kry van sy vrou se miskraam, en dat sy in ‘n hospitaal duisende myle weg, om haar lewe veg...

Laat ons dan nie toelaat dat daar stof vergaar op die Kind van die Krip nie.  Laat ons dan nie toelaat dat die hoop wat die Kind bring saam met versierings weggepak word nie. Want, hoe uiters dringend het ons nie hoop nodig nie...

Ontsettend dankie vir jou bydrae, want daarmee sal ons die Kind van die Krip se boodskap aanhou bring aan elke seeman wat ons land se hawens besoek.  Mag die lig van die krip in hierdie jaar vir u helder aanhou skyn.