Wat is die heel ergste, mees verskriklikste? Dit moet tog die dood van ‘n kind wees? Ek wil nie vir ‘n oomblik voorgee om daardie seer te ken nie, maar wat ek wel ken is die teendeel. Ek ken dit omdat ek saans slaaptyd diep in my dogtertjie se poele blou oë kyk terwyl die lig sag op haar gekrulde blonde lokke val en sy vir oulaas uit haar maag uit lag as haar ma haar speels kielie. En dan weet ek, vrees ek ... is dit gewis dat daar niks erger in hierdie lewe kan wees as om haar te verloor nie.
Voor Loffie in Richardsbaai sit ‘n pa wat wel daardie seer ken; ‘n Pa wat na twee jaar praat asof dit sommer gister gebeur het. In elke vars traan is dit duidelik dat die seer nog so vlak sit soos ‘n oomblik gelede. Hy praat oor lewe. Dood. Oor hoe hy dink dat dit God se straf was; oor hoe dit die prys is wat hy moes betaal vir die foute wat hy al in hierdie lewe gemaak het..