Sommer met die intrapslag begin hy vertel. Soos 'n ryp granaat wat oopbars vloei die storie uit hom uit asof hy dit binne hom moes dra tot op hierdie presiese oomblik van Nico se besoek.

Dis 'n storie soos uit 'n loket-treffer. Die draaiboek skop af met 'n alledaagse moment: Seemanne wat doen wat hulle moet doen.

Hul storie strek oor dertien maande. Dertien maande onder arres in die Durbanse Hawe. Dis behalwe vir die twee van hulle aan boord, vir alle praktiese doeleindes 'n spookskip.

Als is 'n storie - u, ek, ons - elkeen 'n storie. Die heelal, 'n storie – soveel meer as bloot toevallig saamgeflanste atome. Ons bestaan, 'n storie – soveel meer as 'n vooraf gemanipuleerde diskoers wat ons bloot daagliks, onder dwang, slaafs navolg.