Nico beskryf hom as die broosste seeman wat hy nog ooit teëgekom het. Sy oё vertel stories van nie kans sien vir hierdie pad wat die lewe so sonder sy goedkeuring vir hom gekies het nie. Iets in sy lyf getuig van weemoed, van 'n malle rondomtalie bestaan waarin die 'dice' vir hom verkeerd geval het.
Op die skip wil-wil dit so amper na 'n saamtrek van die Verenigde Nasies lyk. Daar is stuk of agt nasionaliteite aan boord, elkeen vanuit 'n ander hoekie van die aarde. Om die etenstafel is daar 'n heerlike geklets in al wat aksent is. Elkeen wat Engels praat, doen dit in sy eie kinkel-klanke.
'Bybel' staan in vet, goue, ouwêreldse, Turkse letters op die buiteblad van die swart boek geskryf. Tussendeur die gesels het Danie dit terloops op een van die leë tafels in die eetsaal gesit en genoem dat as iemand dit graag sou wou hê hulle dit maar kan vat.
Al rede vir sy hiér wees is dat hy met alles in hom vir sy ouers en twee jonger susters wil sorg. Hy is hulle uitkoms, die sleutel tot 'n beter lewe losgewriemel uit die koue kloue van armoede. Die feit dat hulle op hom hoop is die dryfveer wat hom daagliks en snags laat opstaan as sy wekker dringend skree dat sy skof nou gaan begin.



