"Dankie..." Dit is al wat hy sê.

Met albei arms druk hy die Tagalog-Bybel styf teen sy bors vas. Vir 'n oomblik vervaag die geraas van die hawe. Die dreuning van enjins, die geroep van die bemanning en die dol-gejaag word stil. Op sy gesig 'n glimlag wat vertel van iets wat woorde nie kan dra nie.

'n Rukkie vroeër staan Danie, CSO se kapelaan in PE, en kyk na die skip. Dit tref hom hoe volledig 'n moderne skip vir sy bemanning sorg. Daar is kos, water, 'n bed, mediese sorg en selfs internet - alles wat 'n seeman nodig het om maande lank op die oop see te leef.

Byna alles ... maar, daar is een honger wat geen skip kan stil nie.

Te midde van die bedrywigheid ontmoet hy 'n jong seeman van die Filippyne. Agter sy vriendelike glimlag skuil 'n hart wat hartseer verlang. Hy praat oor die bitter swaar van lang maande weg van sy vrou en kinders, oor die stiltes van die see en oor die vrae waarmee hy worstel. Hoe bly 'n mens naby aan God wanneer die horison eindeloos word? Hoe hou 'n mens vas aan hoop wanneer die huis agter tienduisend deinings verdwyn?

Danie luister net.

Dan, as die jongman se woorde opraak, haal hy 'n Tagalog-Bybel uit sy sak en plaas dit in die seeman se hande.  Oorbluf, onseremonieel, gaan sit die seeman sommer net daar op die dek. Rondom hom dreun die ratwerk van die hawe onverpoos voort, dit raas en blaas, maar hy lyk onbewus.  Hy lees. Blaai terug. Lees weer. Dit is asof hy nie net woorde ontdek nie, maar tuiskom.  

Danie neem ongehaas langs hom stelling in.  Hy laat toe dat die jongman deur al die emosies gaan sonder om met mooi woorde die oomblik te bederf.  Die twee van hulle sit net.  Die jongman blaaiend in sy nuwe Bybel, Danie stil bewus dat daar iets spesiaal aan die afspeel is. 

Toe hul lank-later uiteindelik opstaan, druk hy die Bybel teen sy bors vas.

"Dankie..." net dit.  

En dit, dit is meer as 'n dankie vir 'n Bybel. Dit is 'n dankie omdat iemand hom raakgesien het. Omdat iemand lank genoeg stilgestaan het om te luister. Omdat hy, al is hy duisende seemyl van sy geliefdes, vir 'n oomblik onthou dat hy nie alleen is nie.

Dit is waarom die CSO God se Woord in seemanne se eie taal versprei. Want wanneer 'n seeman 'n Bybel ontvang, ontvang hy soveel meer as 'n boek. Hy ontvang hoop. Hy ontvang die omgee en genade van die Man van die Kruis.  En hy ontvang die stille versekering dat, waar die oseaan hom ook al neem, God reeds daar is.

Danksy u ondersteuning word hierdie oomblikke elke dag moontlik. Ontsettend dankie daarvoor.