Die groen, plastiek Kersboom sowel as die goue en silwer balle wat moeisaam weke tevore opgeslaan is, word nou uitgedien, afgeslaan en in ‘n langwerpige bruin boks gepak.  Dit sal stof vergaar tot in Desember 2024 wanneer die ritueel homself sal herhaal.  Daarby word ook die staltoneel wat deel van die Kersfees parafernalia is, kompleet met skape, herders, ‘n krip en ‘n baba in doeke toegedraai, se prop by die muur uitgetrek.  Dié kom met sy eie klankbaan wat ‘Joy to the World’ op ‘n vrolik, tog mankoliekig en blikkerige manier, wat nie maklik op die oor is nie, herhaal en herhaal, terwyl bont liggies wat herinner aan ‘n popkonsert flikker en die figuurtjies allerhande ougat bewegings maak.  Skielik is die lig in die stal doof. 

Maar ook die diepere dinge, die hoop, vrede en guns van die Christuskind blyk vinnig te verdof.  Die nuwe jaar bring klokslag nuwe eise.  Die lig in die stal laat ons jaarliks moed skep, maar soos die dae en maande van die nuwe jaar sy ding doen, word die lig al dowwer totdat ons na nog ‘n omwenteling om die son, weer uitgebrand en desperaat die stal se Lig opsoek. Dis nie eenvoudig as daar nie meer hoop is nie.  Dis nie eenvoudig as ons toelaat dat daar stof vergaar op die Kind van die Krip nie.  Ons het hoop so bitterlik nodig!

Ook so is dit met die manne van die see ...

Die groot volwasse man wat op die dek van ‘n skip voor Danie in Gqeberha staan en met rukkende skouers huil en vertel van hoe hopeloos dinge is...

Ook die man wat op ‘n vragskip in Durban vertel van die walglike oorlog in Oekraïne wat sy familie gesteel het...

Ook die Filippynse derde offisier wat die traumatiese nuus kry van sy vrou se miskraam, en dat sy in ‘n hospitaal duisende myle weg, om haar lewe veg...

Laat ons dan nie toelaat dat daar stof vergaar op die Kind van die Krip nie.  Laat ons dan nie toelaat dat die hoop wat die Kind bring saam met versierings weggepak word nie. Want, hoe uiters dringend het ons nie hoop nodig nie...

Ontsettend dankie vir jou bydrae, want daarmee sal ons die Kind van die Krip se boodskap aanhou bring aan elke seeman wat ons land se hawens besoek.  Mag die lig van die krip in hierdie jaar vir u helder aanhou skyn.

Die rou, hartverskeurende huil en woede het waarskynlik angswekkend deur elke straat geëggo.  Die wanhoop en verslaenheid van die gebeure daardie nag, moes oor elke stadsplein weerklink het.  Is daar dan iets meer wreed as die tirannie van 'n kindermoord?  'n Magsdronk, hebsugtige en wrede heerser wat sonder seremonie 'n volksmoord aankondig wat die drome en harte van ouers aan flarde sou ruk en mense met mooi ideale se draaiboeke met die klap van sy vingers onherroeplik sou herskryf in byvoeglike naamwoorde soos verlies en haat.   

Kersfees is nie net 'n sprokie van blink sterre en mooi metafore nie, maar 'n diep verweefde weerspieëling van ons menslike ervaring. Dis 'n verhaal van Herodesse, een van gebroke drome en van 'n stukkende wêreld.  Dis 'n verhaal van 'n Kind wat aan 'n kruis sou opeindig... Die sterre aan die hemele blyk nie net lig te gebring nie, dit gooi ook skadu's... Dis in hierdie skadu's waar ons die ware betekenis van Kersfees vind - in die diep skemer, waar lig en donker in 'n ewige stryd is om ons siele te verower - dis hier waar die lig van die Kind van die Krip die moontlikheid van 'n nuwe begin, te midde van die harde realiteite van die wêreld, bring.

Skepe gooi ook lang skadu's.  Jimri en Fruson vertel vir Nico in Durban, van 'n lewe in die diep skemer.  Van hartseer, van magsdronk Herodesse, van tragedie en van huil.  Danie in Gqeberha, aan boord 'n reuse ystererts skip, word die skadu's ingetrek deur 'n seeman verlam deur vrees en hartstog ... Ook ons ander Evangeliebedienaars André en Loffie en Chris kom vertel elk van seemanne wat naarstigtelik baklei teen die donker.  En so spandeer ons ons dae; in die skadu's.

Maar die verskil is, die Kind van die Krip.  Dag na dag, verdryf hierdie Lig die skadu's en donker.  Op een skip is die impak onmiddellik ingrypend, op 'n ander weer bring dit net genoeg lig om 'n seeman te help om deur die dag te kom.  

Mag u nie vir een oomblik die lig wat u donasie bring onderskat nie.  Dit is so oneindig nodig.  Daarvoor kan ons maar net namens elke seeman ontsettend dankie sê.  

Maar, dalk meer as dit - as u dalk in hierdie jaar in die skemer gelewe het, mag u ook in hierdie Kerstyd diep bewus wees van die Lig van die Krip en daarin hoop vind.

Geseënde Kersfees!

NS. Ons bankbesonderhede is: Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek. 1520-230-226. Ons bly biddend vir mekaar. 

Die skip is lendelam en onopvallend beskeie.  Daar is geen prag en praal, of luuksheid en glans te siene nie.  Daar lê 'n verweerde stuk tou op die dek, en dit wil-wil lyk of die roes en stof wat oral kleef vir altyd die opperhand gekry het.  Die eetsaal is swak verlig met 'n enkel gloeilamp wat die donkerte desperaat probeer verdryf. 

Dis daar waar Danie dringend eenkant toe geroep word deur 'n seeman. Sy storie is een net soos die van legio ander seemanne.  Hy het die laagste rang aan boord - hy is 'n niemand,  stemloos, ongesiens en onbelangrik - 'n anoniemegesig waaraan weinig min van die ander bemanning 'n naam kan koppel.  Sy verhaal is een van misbruik en mishandeling.  Op die vêr see, is daar nie oë wat dophou dat daar by die reëls gehou word nie.  Daar is jy vloerlap, maak jy soos hulle sê.  Want, jy is niemand.

Ook so, is die stal lendelam en onopvallend beskeie.  Daar is geen prag en praal, of luuksheid en glans te siene nie.  Daar lê 'n verweerde stuk tou op 'n hooibaal en dit wil-wil lyk of die roes en stof wat oral kleef vir altyd die opperhand gekry het.  'n Enkel kers probeer die donkerte desperaat verdryf. Maar, dáárdie nag was opvallend anders.  Ten spyte van die vuil en stank is daar, daardie aand 'n Kind gebore waarvan vertel word dat sy ma Hom in doeke toegedraai het en in 'n krippie neergelê het.

Baie het waarskynlik verby gestap, want wie slaan tog ag op 'n onmerkwaardige stal?  Sou mens hulle wat daarop neerkyk kon verkwalik, hulle wat sou dink dat iemand wat in 'n stal gebore 'n blote 'niemand’ is?  Want, wie sou kon raai dat daardie Kind, die Redder en Vredevors sou wees?  Wie sou kon raai dat daardie Kind, uit die eenvoud van 'n stal, elke niemand 'n iemand sou maak.

En so is dit ook vir die man wat voor Danie sit.  Ook van hom het die Kind van die Krip iemand van waarde gemaak.  Hy is waardevol genoeg dat Danie nie bloot verby kan stap nie.  Dis nodig om te stop, nodig om met nederigheid en medemenslikheid te luister, en dan ook te herinner, dat die Kind van die Krip ook van hom iemand gemaak het.

So, met Kersfees op hande, mag u liefde, omgee, en medemenslikheid ervaar. U is van waarde, omdat die Kind van die Krip van ons elkeen iemand gemaak het.  Ons by CSO sal in die Kerstyd onverpoos aanhou om elke seeman, wat ervaar dat hul stemloos en waardeloos is, daaraan te herinner.  Wil u dit nie biddend oorweeg om ons hiermee te help nie?  'n Finansiële bydrae kan ons hande sterk maak om elke seeman wat dink dat hul niemand is, te vertel van die wonder wat daardie aand in die stal afgespeel het.

Geseënde Kersfees!

NS. Hier is die skakel vir die debietorder: https://bit.ly/42iU2gO  Vul asb in en epos terug na Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. Ons bankbesonderhede is: Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek. 1520-230-226. Gebruik u donateurskode as verwysing. Ons bly biddend vir mekaar.

Danie skep nog asem na hy die trapleer skip-op geklim het, toe is ‘n jong seeman al by.   Mens sal nie weet of dit die baadjie met die geborduurde Kruis daarop, of die afkondiging wat oor die luidsprekers blêr, dat iemand van die ‘mission’ aan boord is, wat die jonkman so blitsig laat naderstaan het nie.

‘Ek mis my familie’ is sy openingswoorde sonder om homself voor te stel.  Net dit.  Hy vuur die woorde af soos ‘n salvo geweerskote in die niet in.  Uit nêrens.  Sonder konteks of  verduideliking.  Dis ‘n noodkreet.  Dis rou.  Dis asof hy dit al maande swygend en swaar ronddra soos ‘n gloeiende kool wat hom gaan verswelg en hy nou nie meer vir ‘n sekonde langer kan verduur nie.  In die vier-woord kwatryn is sy verslaenheid en gebrokenheid onmiskenbaar. 

Vir Danie se geoefende oor, is geen konteks nodig nie.  ‘Ek mis my familie’ sê alles.  Wat kan erger wees.  Sit dit in die konteks van seeman wees, en die storie skryf homself ...

Danie skat hom ‘n bloedjonk sewentien of agttien jaar.  Hy’s net-net nie meer kind nie.  Net-net.  As hul eers ‘n stil plek kry om te gesels is Danie se vermoede in die kol.  Dis Carlos se eerste skip waarop hy werk.  Dis sy eerste keer weg van die huis af.  Huis is vêr en dis lank om weg te wees van vriende, familie en alles wat bekend is. Dis oorweldigend.  Elke dag vreet die diep verlang dieper. 

Dis vir die Carlosse van die see wat CSO daar is.  Dis vir elke Carlos wat in ons hawens aandoen en nodig het dat iemand moet luister, nodig het dat iemand saam hulle moet bid, nodig het om te hoor dat God hul stewig in Sy hand het ... dis vir elkeen van hulle wat CSO bestaan. 

Carlos en Danie sit lank en gesels - oor verlang; oor behoort; oor diep asemhaal en ook oor die God wat alle verstand te bowe gaan.  Uiteindelik stap Carlos met bietjie meer moed, regop skouers en ‘n Tagalog Bybel wat Danie uit sy knapsak kon aanbied, skip-in. 

Laat ons nie vir ‘n oomblik voorgee dat ons redders is nie.  Wat wel waar is, is dat ons soms in ‘n Godsoomblik op die regte tyd op die regte plek is om seemanne te help om nog eenkeer asem te haal.  Nog een asem is alles.  Die lewe is mos maar ‘n asem lank.  

U donasies laat ons toe om elke dag na die Carlosse van die see om te sien.  Oneindig dankie daarvoor.