Dankie vir die geleentheid om kontak te maak. Ons waardeer u tyd. Aangesien dit al hoe moeiliker word om met ons donateurs via die poskantoor in verbinding te tree, probeer ons, ons bes om op ander maniere met u te skakel, wat e-pos, sms en sosiale media insluit.

Neem asseblief 'n oomblik om ons pleidooi te lees.

Ons is almal besig in hierdie malle gejaag van die lewe en kom nie altyd uit by dinge wat ons graag wil doen of ondersteun nie. Ons het dit nou al by 'n hele paar donateurs gehoor. 

Om dit vir u makliker te maak: Wil u dit nie asseblief oorweeg om 'n debietorder te teken nie? Ons doen AL die administrasie by ons kantoor en kan enige verandering met 'n epos of Whatsapp of telefoniese oproep van u af aanbring. Die opsies van maandeliks, kwartaalliks, elke ses maande of jaarliks is tot u beskikking. U kan ook enige dag van die maand kies. 

Die groot voordeel is, u hoef glad nie bank toe te gaan daarvoor nie!

Oorweeg dit asseblief biddend. Kliek hier om die debietordervorm af te laai. Vul in en stuur aan ons terug en ons doen die res! Die eposadres is Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

'n Groot dankie vanaf elke seeman wat ons mee in aanraking kom. 

NS. Indien u reeds op 'n gereelde basis gee - baie dankie. Ons het baie waardering en ons weet u besef die belangrikheid daarvan!

 

Die TRINAD ADENDORFF lê op hok in Gqeberha.  Op hok in die dok, as mens dan nou wil woordspeletjies speel ... Maar, dis alles behalwe dit.  Hier aan die kant, op land, het lewe so amper, nog nie heel stamper, maar amper, genormaliseer.  Ons eet weer in restaurante, stap in strate, almal uit hul gate.  

Maar op see, is hok steeds hok.  Jou enigste plesier, die repertoire van die kok. Maar dis g’n die kok wat jou aanvanklik na die seemanwees sou lok - eerder grandiose beloftes oor die wêreld sien, terwyl jy kluise vol geld verdien.  Vir ander was daar nie veel van 'n keuse: Vir hulle is oorlewing die enigste leuse.

Vandag besoek Danie die TRINAD.  Op dek is daar 'n seeman, so amper-amper 'n bekende.  Ook 'n Suid-Afrikaner - moeg, uitgeput, effe oorweldig deur die wêreld se ellende.  As hy maar net weer vir Afrika onder sy voetsole kon voel, maar nou’s hy op hok.  Op hok in die dok. Want, grond is maar 'n spieëlbeeld, 'n emosionele herinnering aan jou inperking.  Hy vertel van hoe hy aandoen in Durban.  Hoe sy familie desperaat kom en van agter 'n grensdraad met hom probeer oogkontak maak.  Net vir 'n split oomblik wil hul die bewys sien dat hul seun nog regtig lewe.  Maar, dis tevergeefs.  En dit torring en karring aan sy wees.

Daarom vandag die ellende, nou al 'n elke dag 'n ou bekende.  Maar, Danie is daar - die bekendheid van sy eie taal praat vir die seeman 'n onverwagse seëning. En in hul gesprek, ook 'n herinnering aan die Groot Digter – die een wat teenwoordig is in die eb en vloed van die see se dreuning.           

En daarin vind hy 'n stukkie rus, 'n teenvoeter teen die groot gemis.  Saam kan hulle bid:

Die Here is my herder,
Ek kom niks kort nie,
Hy lei my na waters waar daar rus is ...

En net daar, daar in die hok in die dok, vind die seeman vir 'n oomblik rus in Hom wat rus en vrede kan gee wat alle verstand te bowe gaan.

Dis ons donateurs wat die jonkman Suid-Afrikaner vir 'n oomblik na die groen weivelde kon lei, en daarvoor is ons en hy, so dankbaar bly. 

Van waar Rodrigo op die dek staan, lê die stad soos 'n drogbeeld afgeëts in die verte. Die lyne van hoë geboue span die horison en soos die dae verbysleep begin jy wonder of jou kop nie tuimeltoertjies maak en jy dit jouself verbeel nie. Hoe kan dit wees dat die magiese stad, die vaste grond wat tergend daar op die horison pryk, so ongenadig buite bereik is?

Waar Rodrigo vasgevang tussen die ystermure van sy skip is, begeer hy kontak met daardie stad. Hy romantiseer die geselsies wat hy sal maak as hy sy strate verken, idealiseer hulle wat daar hul doodgewone dagtaak op vaste grond kan afhandel. Skip raak tronk en soos die dooie ystermure somber en sinister nader kruip en dreig om jou verpulp, raak jou kop en hart ook tronk.  Twee weke lê die stad nou al daar. Tergend.  Twee maande nou al van die vorige hawe.  Nege maande nou al vanaf vaste grond onder sy voete.

Dan, in 'n oomblik gee alles mee daar op die dek. Die hopeloosheid van hierdie lewe oorrompel vir Rodrigo soos 'n dief uit die donker. In daardie oomblik, gestroop van alles, is al wat oorbly 'n prewelende smeekgebed ... 'Here, gee net 'n teken...’ Met swier en presiesheid, ten spyte van 'n wilde wind wat in die Baai blaas, kom land 'n seemeeu sommer naby hom.  Uit die niet kom kyk die seemeeu hom in die oë ... dit is sy teken, sy antwoord. Skielik ook, gor die radio en 'n opgewonde stem met 'n spring in sê, 'Ankers op’. Helaas het hul klaring om die hawe in te gaan.      

Dis Rodrigo se verhaal aan Danie om die, nou gedokte skip, se etenstafel. Met die intrapslag het Rodrigo verklaar dat Danie se daarwees 'n verdere teken is, dat Danie gestuur is, dat hy die antwoord is op 'n smeekgebed. Wat volg is 'n pastorale gesprek waarna Rodrigo 'n diep hunkering het. In Danie se besoek vind 'n emosionele, moeë en oorlaaide Rodrigo vir 'n oomblik rus.  Hul saamwees is soos om by 'n oase te wees, een waar jy kan rus na wat agter is, maar ook kan voorberei vir wat voor is.  In hul saam wees, saam lag, saam huil en saam bid kry Rodrigo dit.

Oorweeg dit asseblief biddend om ons werk finansieel te ondersteun. Dit bring daagliks seemanne na God se waters waar daar rus is - rus en vrede wat alle verstand te bowe gaan, rus wat net Hy kan gee.

Om dit aan jou lyf te voel is anders. Statistieke en koerantopskrifte is ver. Jy dink jy weet iets van die emosie daarvan as jy die nuusberigte lees en op hoogte is van die nuutste verwikkelinge rondom entstowwe en mediese joernale. Jy praat mooiweerpraatjies oor dinge wat onder beheer is en dat jy sterk genoeg is ...

Maar, as die dood soos 'n dief in die nag kom en jou beroof van 'n vriend, van 'n familielid, dan kruip 'n ander realiteit tot diep onder jou vel in – tot in hoekies van jou hart wat jy beswaarlik geweet het bestaan.

Die offisier uit die Oekraïne se histeriese vrees is tasbaar. Nie oor hy koerantberigte gelees het of die nuwe statistiek nagevors het nie, maar oor die steeds groeiende lys van vriende en familie wat slagoffer geword het van die virus wat hul lewens gesteel het.

En nou wil hy by Danie hoor oor die dood ... Hy wil weet van geluk vind in hierdie lewe. Dood en geluk. Hy is dringend opsoek na 'n pad uit die woestyn van weemoed, radeloosheid en angs.

Soos ons maar deesdae maak, het hy instinktief sy vrese in die Google soekblokkie ingetik in die hoop dat dit sinvolle antwoorde sou uitspoeg. Die gevolg: Meer angs, meer radeloosheid, dieper in die woestyn ...

Maar, Danie kan 'n alternatief bied. Dit word 'n geleentheid om te praat oor verlossing en die lewe hierna. Dit word 'n geleentheid om te praat oor geluk in 'n bitter deurmekaar wêreld. Hy is uit die veld geslaan as Danie 'n Russiese Bybel tevoorskyn bring. Hulle blaai saam, soek saam, bid saam – dinge wat Google nie kan doen nie. Vir die man uit die Oekraïne is daar 'n stukkie gerusstelling in hulle gesprek. Daar is vir 'n oomblik vrede.

Vir hom is dit net die begin van die pad. Danie se besoek is nie 'n kitsregruk waarna die lewe sonskyn en reënboë gaan wees nie. Dis 'n bewuswording van wat 'n lewe in God kan wees. Dis 'n nuwe moontlikheid dat daar selfs geluk kan wees in die heel donkerste van momente.

Danie is al amper by sy kar toe die offisier aangedraf kom. As dit enigsins moontlik is, het Danie dalk nog Bybels vir sy vriende aan boord.