Die deure van al wat ‘n skip is blyk vandag op grendel te wees.  Waar Danie kom, is die traplere óf reeds opgetrek, óf seemanne is té besig om hom te sien.   

By een skip maak Danie dit wel tot op die dek, maar hier laat weet ‘n kwaai stem oor ‘n krakerige radio dat nou nie ‘n goeie tyd is nie.  Hy blaas teleurgesteld die aftog.

Nou vind Danie sy pad na die laaste skip op die kaai.  Wat ‘n vol dag se skeepsbesoeke sou wees, is nou in minder as ‘n uur afgehandel.  Bo gekom stuur die sekuriteit ‘n boodskap na die brug om te sê Danie is daar.  Hierdie keer laat weet ‘n meer gemoedelike stem dat almal besig is, maar dat Danie maar na die eetsaal kan gaan as hy sou wou.

Die hoop beskaam nie en met dié gedagte kies Danie koers na die eetsaal.  Daar is dit stil en verlate en is die enigste beweging die ritmiese gewieg van die skip.  Tog pak Danie ‘n paar Bybels uit, net vir ingeval.  Van die wag kom dadels en eindelik pak hy weer moeisaam die Bybels, wat hy vroeër so hoopvol uitgepak het, terug.

Op pad deur-uit is daar ‘n amperse botsing as ‘n jong seeman op ‘n drafstap die eetsaal instorm.  ‘Jeremia’ stel hy homself uitasem voor en verduidelik dat hy ‘n blits-koffie kom drink voor sy skof.  Danie stel homself voor en Jeremia vra of hy vir hom ook kan koffie maak. Nou vra hy in detail uit oor Danie se werk – oor presies wat dit behels.

Huiwerig sê Jeremia dat dit baie toevallig is dat hy in Danie vasgeloop het.  Hy wou eintlik nog so ‘n paar oomblikke rus, maar het op die laaste oomblik besluit om ‘n vinnige koffie te kom drink.  Dadelik besef Danie dat Jeremia iets op die hart het.  Op die hart, beteken dat jy vol is.  Dat iets moet meegee om plek te maak. 

Asof hy sy opsies oorweeg, begin Jeremia versigtig vertel.  Hy’s nou maar twee maande op die skip, dis sy eerste keer weg van die huis - en dan vloei die trane vrylik.  Hartseer, verlange, hopeloosheid, alles woorde wat hy gebruik om die trane te probeer verduidelik.

In daardie moment maak Danie se oggend sin.  Al die toe deure, die afjak van die kaptein op die vorige skip, Jeremia wat skielik besluit het om te kom koffie drink – dit alles sodat hulle nou ‘toevallig’ hier kan saamwees.  So sterk is die gevoel dat hierdie ‘n Gods-oomblik is, dat Danie hom verseker “God het my vanoggend na jou gestuur om vir jou te kom sê dat Hy by jou is en jy nie alleen is nie.”   

Vir Jeremia is hierdie woorde ‘n reuse vertroosting. Dit help hom om dit waaraan die hart so swaar dra, vir ‘n oomblik neer te sit.

As die ander nors ou oor die radio vir Danie ingenooi het, as hy een ander skip besoek het, as hy twee minute langer op die kaai gedraai het, sou hy vir Jeremia gemis het. As,as,as ... 

Ons bedien alle seemanne wat ons pad kruis.  Die Gees lei ons om die rooi vlae raak te sien wat maats en maatskappye mis en ons bring verligting en hulp deur God se liefde, hoop en genade te verkondig.