In hierdie vreemde tye waarin ons leef, het 2020 onder ons uitgevlieg en het min nog gedink aan jaareindfunksies,  maniere hoe ons hierdie funksies veilig kan hou en maniere om fondsinsamelingsaksies te hou.

Almal kry swaar in hierdie tye, maar ons seniors, dink ek, het besonder swaar gekry met die afsonderingsmaatreëls.  Die gemeenskappe wat by kerke en aftree-oorde gefloreer het, het tot stilstand gekom en baie het vereensaam. Maar soos ek genoem het, almal kry swaar. Dus is hierdie aanbod vir almal in julle gemeenskappe. 

Wil julle nie oorweeg om ‘n aanlynkonsert te hou nie?  Dis veilig en dis maklik.  Rina en Johan se program is net onder ‘n uur lank en is regtig iets besonders.  Daarmee saam is dit ten bate van die Christelike Seemansorganisasie - ‘n wen-wen situasie. 

In haar eie woorde:  “Ek en Johan het gedurende die inperkingstyd hard en lekker gewerk aan ‘n aanlynkonsert wat nou uiteindelik klaar is.  Dis ten bate van die Christelike Seemansorganisasie en bestaan uit geestelike en sekulêre liedere wat ek deur die jare op die verhoog gesing en ook opgeneem het.  Ek noem dit my Hartsliedere en dit draai om die emosies van die tyd toe ons streng ingeperk was.  Ek hoop dit sal vir julle mooi wees en dat dit julle mag inspireer om ook die werk van die CSO te ondersteun.”

Harsliedere was vanaf 27 September vir ‘n tydperk van ‘n week op die internet te sien en het hoë lof uit alle oorde ontvang.  ‘n Mens moes ‘n “toegangskaartjie” koop en dan inteken op ‘n sekere webwerf om na die program te kan kyk.  Alhoewel dit nie moeilik was nie het baie mense nie kans gesien vir hierdie nuwe tegniese benadering tot internetkonserte nie en het dus die uitsendings misgeloop.

Die Palms Aftree-oord in Panorama in die Kaap, het dit goedgedink om ‘n kaartjie te koop en het die inwoners genooi om na Hartsliedere op die groot skerm in die sitkamer te kyk.  Om almal wat belanggestel het  ‘n kans te gee om te kon kyk, is verskillende kyksessies gereël.

Om binne die protokolriglyne te bly vir afskeidsfunksies kan ‘n klein geskenkpakkie opgemaak word vir elkeen om saam te neem huistoe.  Dit maak dit dan nog steeds baie spesiaal vir elkeen wat die konsert kom kyk. Daar is ook nou belangstelling getoon om die konsert te gebruik vir ‘n fondsinsamelingsaksie. Dink gerus daaroor!

Meeste aftree-oorde of gemeentes het iemand wat toegang het tot wifi, skootrekenaars, projektors en ‘n groot skerm.  Die program kan meer as eenkeer gekyk word nadat die elektroniese kaartjie gekoop is, dus kan al die sosiale protokolle gehandhaaf word, indien meer mense wou kyk.  ‘n Kaartjie kos R2600,00 baie minder as wat meeste kunstenaars vra en die voordeel – dit pas in by die gemeente of aftree-oord se beplanning – enige tyd, enige plek.  Dit sal beskikbaar wees vanaf 1 November tot 15 Desember en belangrik, die hulplyn wat beskikbaar is vir tegniese navrae, is uitstekend om enige probleme te help oplos. 

Die kaartjie is by TIXSA te koop op hierdie skakel: https://tickets.tixsa.co.za/event/rina-hugo-aanlyn-konsert2. Dit word op www.watchatv.co.za uitgesaai.  Registreer net voor die tyd op Watchatv, sit jou kaartjieverwysingskode in en kyk!  Enige navrae rondom kaartjieverkope of aanlynstroming kontak gerus ons kaartjievennoot, TIXSA by:  Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. / 087 087 7464. 

Indien julle meer besonderhede wil uitvind, kontak gerus vir dr Eleanor Weideman by 082 750 1440 of e-pos by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..  Die gemeenskappe waar ons seniorfunksies en eredienste gehou het, sal haar goed onthou!