Die skoolbanke waaragter hy nog nou die jaar gesit het is nou net as. Letterlik as. Daar waar hy en sy gesin op spesiale middae gaan roomys het, is puin.  Letterlik puin. En sy huis, die is 'n hoop bourommel. 

Laat dit tog vir 'n oomblik insink ... die verwoesting van 'n gekroeide aarde waar alles wat jy geken het, alles wat jy huis noem, reduseer is tot 'n onsamehangende prentjie van ellende.  Dis surrealisties om in Port Elizabeth op 'n skip te sit en beelde van die stad wat jy nou die dag nog huis genoem het, onsamehangend geherrangskik in tragiese tonele, op die tv voor jou te sien ...

Mariopol is aan flarde.  

Die beelde wat oor die skerm flits wys mense wat stil vlug. Soos hul loop na êrens, praat hulle min. Elkeen het dit wat hulle kan dra onder die arm.  'n Tas, 'n bondel klere, sommige niks. Die seeman waarmee Danie gesels beaam dit alles.  Hy is ewe stil.  Sy skool, hul gunsteling roomys plek, sy huis – dis als weg.  

Sy vrou en kinders het gevlug en is veilig, vertel hy dankbaar. Daar is vir hom niks om na terug te gaan nie en die gevolg is dat hy langer op die skip gaan bly om weer van voor af te begin. Dit waarvoor hy jare lank gewerk het, is weg.

Danie luister aandagtig. Sy taak is om hierdie seeman te help staande bly in die oomblik. Dis so maklik om self ook gereduseer te word tot pyn en as, as die wêreld om jou daarin verbrokkel het. En daarom spandeer Danie tyd, soveel tyd nodig, sonder haas of sonder om elke nou en dan skelm na sy polshorlosie te kyk. As hul eindelik saam bid, saam smeek, saam vra, is die oomblik gevul met emosies, maar ook met 'n tikkie hoop.  Hoop dat daar tog uitkoms sal wees.  Hoop wat die seeman vir die volgende paar dae sal dra in sy soeke, totdat hy weer in hawe aandoen waar iemand hom kan bemoedig.  

U donasie maak dit moontlik vir ons om elke dag ons tyd vir seemanne te gee. Mag u nooit die waarde daarvan onderskat nie.  Dis 'n reuse geskenk wat ons kan gee, omdat u met 'n oop hand gee. Daarvoor, ontsettend dankie.

Om 'n maandelikse donasie deur middel van debietorder te gee, kliek hier om die debietordervorm af te laai. Stuur die voltooide vorm terug aan Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

Kliek hier vir die verskillende maniere wat u kan gebruik om ons te ondersteun.