Om 'n lewe te reduseer tot 'n blote pion op 'n skaakbord – dis wat oorlog doen. Dit vee lewens uit asof waardeloos, nietig en onbelangrik.  In die melankolie van bomme wat ontplof, is die skade onherstelbaar.  Dit negeer wat in 'n leeftyd bereik is.

Daar staan 'n kaptein uit Oekraïne voor Loffie in Richardsbaai.  Hy het sy lewe passievol daaraan spandeer om van rang na rang tot in die kapteinskantoor van die skip te vorder.  Dit, sodat hy vir sy familie 'n huis kon bou en 'n lewe kon gee.

Nou, is dit als gereduseer tot pyn, puin en as.  Die laaste nuus oor sy gesin was via vriende.  'n Kriptiese blitsboodskap wat noem dat hul veilig is.  Hulle is saam met ander familie in 'n bomskuiling vasgekeer as teenvoeter  vir die Russiese bombardement wat sonder diskriminasie, ongeag of jy goed of sleg, oud of jonk, skuldig of onskuldig, pro of teen is, uit die hemele op hul stad neerreën.  Op daardie stadium was hul reeds agttien dae in die skuiling ...  

Sedertdien niks.

Nie 'n boodskap van ja ons lewe, of een wat die mees gevreesde nuus oordra nie...

Net niks.

Kommunikasie na Oekraïne is byna onmoontlik.  Deel van die Russiese strategie was om selfoontorings en alle vorme van kommunikasie te elimineer. En dié het hulle gedoen ..

Dus as die kaptein voor Loffie staan is dit in 'n staat van absolute weemoed.  Daar is 'n miljoen vrae ... geen antwoorde nie.  Die angs daarvan is allesomvattend. Wanneer die nuus die brutaliteit van lyke wat soos weggooigoed deur strate gestrooi lê wys, soek jy onwillekeurig na iemand of iets wat jy dalk ken.  Dalk 'n skoen wat onder die stuk plastiek, wat die grusaamheid van dood deur oorlog moet verbloem, uitsteek.  Dalk is dit haar blou stewels waaroor jy haar altyd gespot het wat daar uitsteek, dalk jou seun se nuwe tekkies waarvoor hy so lank geskimp het en jy maar loop koop het voor jy weg is?  Want, as jy niks van jou familie hoor nie, niks weet nie, is daar onder elke stuk plastiek wat die gruwel van dood deur oorlog probeer sagter maak, die moontlikheid dat die een onder die seil een van joune is.

Laat die gewig hiervan vir 'n oomblik insink.

Om 'n maandelikse donasie deur middel van debietorder te gee, kliek hier om die debietordervorm af te laai. Stuur die voltooide vorm terug aan Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

Kliek hier vir die verskillende maniere wat u kan gebruik om ons te ondersteun.

Ons waardeer jou donasie, ondersteuning!

Loffie Schoeman
Richardsbaai