Die skip is uit China. Die verwagting as Loffie die bopunt van die allemintige stel trappe geklim het, is dat 'n Chinese bemanning hom sal inwag. In stede, is die kraakstem aksent oor die draadloos kenmerkend, en nie uit die Land van die Rooi Draak wat uit Beijing regeer word nie.  Die rol van die r're, die 'v' wat 'n 'w' word, die 'ie' in plaas van 'i' - als onlosmaakbaar van hulle geregeer uit Moskou.  "Kepten, we have a shiep wisitor on the wessel".

'n Rus is anders as so onlangs as 'n paar weke terug.  Jy sou seker nie verkwalik kon word as jou eerste instink opstand sou wees nie.  Woede selfs - vir die anargie en bloedvergieting.  Asof die jurie reeds uit is en besluit het – al wat Rus is, is aandadig!

Loffie sit saam met 'n verenigde nasies van bemanning uit China, Mianmar, Rusland en ander in die eetsaal – hulle bespreek die jammer toestand van die wêreld.  Die atmosfeer is gedemp.  Die wêreld blyk 'n slegter plek te wees as maar 'n paar weke terug.  Tradisioneel sou Russiese seemanne eerder so 'n saamtrek vermy, vernaam met die stapel Bybels wat Loffie netjies op die tafel maak staan het.  Maar die wêreld is nou anders ...

As die Russe op hul beurt met ryk Russiese aksente verduidelik, vra en wonder, dan skielik sien jy mens. Hulle vrees ook, wonder ook, voel ook verdwaal.  Hulle is wêrelde van die bombastiese, magsugtige, selfgesentreerde individue wat in die afgelope maande bloeddorstig die nuus oorheers het.  Hulle het families, 'n dogtertjie van tien, 'n ma in 'n ouetehuis, 'n vrou waarvoor hulle lief is, drome ...Hulle is dit verslae eens: "Ons President het sy kop verloor". Die kollaterale gevolge van 'n magsdronk man op elkeen van hulle se bestaan is definitief en weeg swaar op elkeen se gemoed.  

Op baie skepe werk Rus en Oekraïner as broers, hand aan hand. Hierdie vriendskappe is skielik onder beleg. As versorger en broodwinner, is dit nou bykans onmoontlik om jou salaris huis toe te stuur weens sanksies. Van hul landgenote dryf op die oopsee rond, oppad na nêrens nie. Russiese skepe word oral die rug gekeer. Kosvoorrade raak skraps. Vlugte huis toe is onmoontlik.  En elke besoeker aan die skip blyk dit eens te wees: Per assosiasie is elke Rus aan boord aandadig, die skuim van die aarde ... 

Binnekort sal Russiese seemanne oor die wêreld verstrooi wees. Wanneer hul kontrakte verstryk sal die pad huis toe haas onbegaanbaar wees. Om weer 'n werk te kry, anders as op 'n skip met 'n Russiese vlag, sal moeiliker as moeilik wees. Eindelik onmoontlik.

Die logiese keuse sou wees om hierdie brief oor die puin en as in die Oekraïne te skryf. Maar die punt is dit: Die Evangelie sien nood sonder vooroordeel. In komende maande sal ons kapelane ontsettend hard werk om hulle, geraak deur die konflik, by te staan.  Nie net deur aan hulle die Evangelie te bedien en saam met hulle te bid soos in die geval van hierdie bemanning nie, maar ook deur praktiese hulp, in terme van finansiële nood, reisbeperkings, kosvoorrade, kommunikasie en dies meer.  Die nood is emosioneel en geestelik, maar dit is ook fisies.  Met die hulp van vennote sal ons onverpoos doen wat gedoen moet word, en dit in naam van Hom wat vir elkeen genade en hoop gee, ongeag Rus of Oekraïner. 

U is 'n onlosmaakbare vernoot in ons pogings om te help! U finansiële bydrae sal 'n tasbare verskil maak vir hulle geraak deur die konflik. Daarom, meer as ooit, wil ons u vra om ons met 'n oop beursie te ondersteun. Dit is waar die nood nou is en dit is waar u en ons nou nodig is.