Laat die seemanne na My toe kom… 
Abner, uit Indië
wat vir Danie in die Baai 
van sy wanhoop vertel 
sy oë wyd gerek,
in sy sak, 'n flenterfoto,
met almal wat hy koester. 

Laat die seemanne na My toe kom…
Die pa van die Filippynse seuntjie van Bakolod,
vyf jaar oud,
een son-omwenteling vir elk van vyf breinoperasies,
wat hier op skip sy lot verklaar, met regop skouers dra
tienduisend kilometer ver,
vir die geldwolf van die hospitaal.

Laat die seemanne na My toe kom...
Die kaptein van die PST2 in Durban,
vier jaar al gestrand
smagtend na huis,
maar huis Afganistan
waar bloed en bomme
opnuut sy land wil vrymaak.

Laat die seemanne na My toe kom,
hulle gevang in die kruisvuur op die hoë see van Wes Afrika -
waar seerowers jou minag en jag.
Laat hulle kom 
tot in die stal,  waar in die stank van mis en bloed
die Kind van Betlehem is.

Verhinder hulle nie
hospitale
seerowers
covid
hawe-owerhede.

Hulle hoort in My koninkryk:
hulle weet van wonde
sonder om te twyfel of te vra.

Ek sal hul teen my sy vasdruk
en my hande op hulle lê.

My uitnodiging:
Stap saam met My
Van hierdie dag af
My helpende hand om aan te klou
My oop oor vir elke geprewelde, nederige pleidooi
Elke dag.                       
-Verwerk van Lina Spies se 'Lied van die Kinders'-

In ons saamstap na die krip, wil CSO hierdie uitnodiging dag in en dag uit na die mense van die see neem.  Wil u dit nie oorweeg om ons in hierdie Kerstyd finansieel te ondersteun sodat elke seeman wat in ons hawens kom versorg kan word en Hy ook sy hande op hulle kan lê ... En dan, mag u ook wanneer u eersdaags rondom die krip vergader, beleef dat die uitnodiging om saam met Hom te stap ook vir u is ...  

Om 'n maandelikse donasie deur middel van debietorder te gee, kliek hier om die debietordervorm af te laai. Stuur die voltooide vorm terug aan Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

Kliek hier vir die verskillende maniere wat u kan gebruik om ons te ondersteun.

NS: Luister gerus na Rina Hugo se 'I'll walk with God' wanneer u die brief lees. Met toestemming gedeel.