In dié kerk is daar geen skildery of rekwisiete, geen brandglasvensters of heilige simbole nie, nie stil musiek wat jou laat rus of 'n reuse Bybel waar die prediker hulself laat staanmaak nie. 

Anders as Sondagkerk, wat wit soos sneeu is – die purperkleed netjies gestryk en ruikend na laventel, is hiérdie kerk meer skarlaken, meer grys soos yster, met 'n mengelreuk van alles wêrelds.  Anders ook die lidmate - teenoor uitgevat in Sondag bestes, hier olie-bevlek met roes en stof wat oral kleef.  Dié kerk is hard.  Dit raas oorverdowend sodat dit jou kop soms skommel.  Die ruimtes is roes en ghriesvuil, die hardheid van staal en yster onvergewensgesind, gestroop van enige simboliek wat jou herinner aan die onsigbare realiteit van God.

Chris bevind hom in 'n droogdok.  Dis waarskynlik een van die ongenaakbaarste plekke in 'n hawe - dalk op aarde.  Die geslaan van hamers dodelik aanhoudend, die geraas van hordes slypmasjiene wat die kankerroes wat êrens op die see begin posvat het probeer besweer, akuut. 

Daar is 'n vreemdheid aan Chris se daarwees.  Dis onwaarskynlik om in die vuilheid van dit alles iemand met 'n rugsak vol Bybels en literatuur raak te loop.  Hoeveel te meer iemand wat Goeie Nuus bring of iemand wat bloot wil hoor hoe dit gaan...   

Tussen die stof en roet, die olie en ghries, terloops, sien Chris 'n kruis.  Ja, dit is 'n toevallige kruis, opgerig vir een of ander praktiese doel, maar nogtans onmiskenbaar. 'n Lang vertikale paal, wat net op die regte hoogte deur 'n korter horisontale paal gekruis word, toorn oor die miernes van bedrywighede.  Chris neem 'n vinnige foto oor die onverwagse daarvan.    

En vir hierdie rede bestaan die CSO.  Ons hoort hier tussen seemanne want ons Verlosser is ook hier in die onwaarskynlike vuil en raserige ruimtes besig om deur Sy kruis mense skoon te maak en vrede te gee.

Die seemanne wat ons met die Evangelie bedien, leef in 'n wêreld baie anders as ons eie.  In een van die taaiste werksomgewings op aarde, na maande weg van geliefdes, daaglikse aanslae van alles tussen reuse golwe en seerowers is dit nodig dat iemand daar sal wees om hulle te herinner dat daar tussen die stof en roet, tussen die olie en ghries altyd 'n Kruis is.  

Ons het u bydrae nodig om hierdie werk aan te hou doen.  Oorweeg dit asseblief ernstig en biddend om hierdie werk finansieel te ondersteun.  

Om 'n maandelikse donasie deur middel van debietorder te gee, kliek hier om die debietordervorm af te laai. Stuur die voltooide vorm terug aan Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

Kliek hier vir die verskillende maniere wat u kan gebruik om ons te ondersteun.

NS: Rina Hugo het haar HARTSLIEDERE KONSERT wat sy verlede jaar opgeneem het ten bate van die CSO nou op youtube beskikbaar gestel. GENIET!