'Ergste dag van terreur deur Myanmar Junta, laat 100 dood' skreeu die opskrif somber.  Dae later, in dik geaksentueerde letters in doods-swart: 'Amptelike dodetal van onskuldiges na staatsgreep nou 1001' ...  '87 kinders dood' kort daarna ...  

Vir Jan-Alleman, bloot nog 'n dag, nog 'n opskrif.  Maar, as dit oor die plek is waar jou wortels lê, dop dit die wêreld om in 'n maalkolk van vrees, woede en 'n duisend ander holderstebolder emosies.  Mens kan net wonder hoe dit die manne van die see, wat nog net nou die dag kind was in die trope van Mianmar, moet skud.  Kommunikasie is sporadies terwyl die flenterbrokkies nuus die gruweldade meestal onderspeel – 'n poging van die militante om te manipuleer en als eers te poets voor dit die wêreld ingestuur word.  

In Durban se behoueringsvragterminaal is daar sekere skepe wat oor en oor die hawe besoek. Tipies, sal dit oor 'n tydperk van tussen 'n maand en 'n half of twee maande duur vir die skip om sy roete te voltooi. Vir dié rede gebeur dit dat Chris dikwels met dieselfde seeman te doen kry. 

Vandag is die seeman wat voor hom staan uit Mianmar. As hulle oë ontmoet weet beide dat hul mekaar al voorheen ontmoet het.  As Chris in sy breinargiewe rondkrap kan hy die man plaas as 'n gereelde besoeker.  Meer nog, onthou hy dat hy vantevore keer-op-keer 'n Bybel van die hand gewys het. Tog vra Chris weer ...  

En hierdie keer, sonder veel woorde, knik hy instemmend en hou 'n oop hand uit. Die vroeëre weersin, gebalde toe vuis waarmee hy die Bybel geweier het, weg. Dit is asof daardie sekerheid verslaan is, asof dit wat hy gedog het fondament is, fabel blyk te wees. 

Die woorde tussen hulle is min, maar daar's 'n wedersydse besef dat hierdie 'n keerpunt is.  Dat hierdie vir die seeman 'n radikale stap is om sin te probeer maak van 'n wêreld wat nie sin maak nie. 

Chris bid vir hom dat die Heilige Gees nou kragtig in hom sal werk en dat hy vrede sal vind in die Man van die Kruis wat ook vir hom, 'n seeman uit Mianmar gesterf het.  Dis wat u as donateur moontlik maak. Dat Chris keer op keer, maand vir maand kon teruggaan. U bydrae verander weersin en toevuis na uiteindelik 'n oop hand.  Daarvoor dankie!