Dit kos inspanning en sweet om die Bybels in te pak, dan die tot oorlopens vol knapsak in die kattebak te kry en vandaar die meedoënlose klomp hekke en sekuriteitspunte te navigeer. Die parkering is doer-ver-anderkant en ‘n stewige stap van die skip af.  Daargekom toring die majestueuse skip se honderde trappe voor jou die hemel in asof hulle 'n duisend is. Dis juis, terwyl jy en jou knapsak treetjie vir treetjie na bo stap, hygend die sweet van jou voorkop vee, wat jy elke keer wonder...

Wie wag daar bo aan die hemelkant van die trapleer? Dit is 'n onbekende pad.  Eindelik bo, brand die sweet in jou oë.  Maar sweet is die prys, dis die klein opoffering wat jy maak. Tussen al die bekendstellings, Covid-protokol, vrae beantwoord, radio oproepe vir toestemming vir jou daarwees na die brug en dan Bybels uitpak wonder jy steeds oor die uitkoms van dit alles...

En dan staan Enrique nader.  In die oomblik weet Danie waarom hy die spesifieke dag, op die spesifieke oomblik die knapsak met Engelse en Tagalog Bybels al swetende teen die trapleer moes uitdra. Hy weet dat daar onwetend ‘n miljoen klein besluite gemaak is wat nou kulmineer in hierdie oomblik.  As hy later gekom het, eers ‘n ander skip besoek het of dalk ‘n draai by die hawekantoor gemaak het, was hierdie oomblik nooit gewees nie.   

Enrique het 'n swerwende Bybel.  Maande gelede het hy uit nood saam met hulle aan boord begin Bybel lees.  Hy is die enigste een uit die 20 sterk mans wat 'n Bybel sy eie kan noem.  Eers het een die Bybel geleen en toe 'n ander.  Nou swerf die Bybel van kajuit tot kajuit.  Selfs hulle wat vroeër skepties was is nou deel van die  bymekaarkomste. Bo aan hulle gebedslys – om vir elkeen ‘n Bybel te kry. 'n Kort samedromming volg en elk van die ingepakte Bybels wat met sweet en inspanning gebring is, vind dankbare hande. Hulle is oorstelp van dankbaarheid. Die Here het ‘n afspraak gemaak, en Danie en Enrique het opgedaag. 

Ons by die Christelike Seemansorganisasie daag daagliks op. Dis buite ons hande wie aan die hemelkant van die trapleer staan, maar dis waar ons werk wag. 

Seemanne en die skepe waarop hulle dien, dryf 90% van alle wêreldhandel. Hulle waag hulle lewens vir ons elke dag. Ons as 'n interkerklike sendingorganisasie glo dat ons vir elke gewillige seeman 'n Bybel in sy eie taal moet gee en hulle met die genade en liefde van Christus moet versorg. Ons bedien sedert 1944 duisende seemanne in ongeveer 106 tale in die vyf grootste hawens van Suid-Afrika.

Die vraag is, wat gaan die Here met jou sweet doen vandag? Word asseblief deel van hierdie daaglikse reis. Ons het nodig dat jy ons manne se hande sterk maak en pleit by jou om ons werk asseblief finansieel te ondersteun. Jou donasie sal hierdie Koninkrykswerk laat voortgaan sodat die Evangelie na die uithoeke van die aarde sal gaan.

 Kliek hier om 'n aanlyn donasie te maak of kliek hier vir ander manier om die CSO te ondersteun.