Van 'n afstand, lyk die man in die grondpad gemoeid met die aarde onder sy voete.  Dis asof hy die een of ander ritueel aan die uitvoer is.  Dis effe vreemd, vang die oog van elkeen wat van herwaarts of derwaarts daar verby oppad is.    

Die stukkie teater is aan die afspeel in die nuwe hawe in Ngqura, in die Vriendelike Stad.  Gedeeltes van die hawe is steeds ongeteer.  Veral daar waar erts gelaai word is groot stukke van die kaai nog barre aarde.  Daar is geen landskapargitektuur wat die hardheid van die grond wat daagliks die aanslae van honderde vragmotors wat miljoene tonne erts na die ruim van die skepe bring, versag nie.

Danie, eg na karakter, knoop in die verbyloop 'n geselsie aan.  Die man in die stofpad is 'n seeman van Sri Lanka. Selfs in gesprek, stap die man met sy kaal voete in die stof, sy skoene, 'n ent daarvan af, netjies langs mekaar, asof rekwisiete.  Sy oë, slegs gefokus op die aarde, asof hy spoorsny, dalk na 'n skat soek.

Dan glimlaggend, amper emosioneel aan Danie: “Ek stap om weer grond onder my voete te hoor en te voel.”  En net so, is wat 'n 'per-ongeluk' ontmoeting is, 'n pastorale gesprek.  Die seeman vertel van hoe die dae weke, en die weke maande geword het en hy in meer as 'n jaar nie toegelaat is om van sy skip te klim nie. 

Die gesprek gaan van aarde en grond na dieper hunkeringe soos vastigheid, ankers, onveranderlikes, konstantes. In die immer-onsekere pandemie was een van die seeman se grootste hartsbegeertes om weer die aarde te voel – al is dit hier in die hawe - rou, onooglik en met olie en roet versuur - maar aarde.  

En so loop Danie en die man saam-saam.  Op-en-af, op-en-af op vaste aarde.  In hulle saamstap raak die grond terapie vir die seeman se gemoed, en in die Woord van God wat Danie deel vind hy onverwags meer – Vastigheid, 'n Anker, 'n Konstante. 

Met u donasie stap ons saam met seemanne.  Dikwels, in die saamstap, is ons instrumente wat hul deur genade terugneem na die een Konstante, die een Anker – die Man van die Kruis.  Ons is ontsettend dankbaar vir u bydrae.  Dit maak saamstap moontlik.