Die TRINAD ADENDORFF lê op hok in Gqeberha.  Op hok in die dok, as mens dan nou wil woordspeletjies speel ... Maar, dis alles behalwe dit.  Hier aan die kant, op land, het lewe so amper, nog nie heel stamper, maar amper, genormaliseer.  Ons eet weer in restaurante, stap in strate, almal uit hul gate.  

Maar op see, is hok steeds hok.  Jou enigste plesier, die repertoire van die kok. Maar dis g’n die kok wat jou aanvanklik na die seemanwees sou lok - eerder grandiose beloftes oor die wêreld sien, terwyl jy kluise vol geld verdien.  Vir ander was daar nie veel van 'n keuse: Vir hulle is oorlewing die enigste leuse.

Vandag besoek Danie die TRINAD.  Op dek is daar 'n seeman, so amper-amper 'n bekende.  Ook 'n Suid-Afrikaner - moeg, uitgeput, effe oorweldig deur die wêreld se ellende.  As hy maar net weer vir Afrika onder sy voetsole kon voel, maar nou’s hy op hok.  Op hok in die dok. Want, grond is maar 'n spieëlbeeld, 'n emosionele herinnering aan jou inperking.  Hy vertel van hoe hy aandoen in Durban.  Hoe sy familie desperaat kom en van agter 'n grensdraad met hom probeer oogkontak maak.  Net vir 'n split oomblik wil hul die bewys sien dat hul seun nog regtig lewe.  Maar, dis tevergeefs.  En dit torring en karring aan sy wees.

Daarom vandag die ellende, nou al 'n elke dag 'n ou bekende.  Maar, Danie is daar - die bekendheid van sy eie taal praat vir die seeman 'n onverwagse seëning. En in hul gesprek, ook 'n herinnering aan die Groot Digter – die een wat teenwoordig is in die eb en vloed van die see se dreuning.           

En daarin vind hy 'n stukkie rus, 'n teenvoeter teen die groot gemis.  Saam kan hulle bid:

Die Here is my herder,
Ek kom niks kort nie,
Hy lei my na waters waar daar rus is ...

En net daar, daar in die hok in die dok, vind die seeman vir 'n oomblik rus in Hom wat rus en vrede kan gee wat alle verstand te bowe gaan.

Dis ons donateurs wat die jonkman Suid-Afrikaner vir 'n oomblik na die groen weivelde kon lei, en daarvoor is ons en hy, so dankbaar bly.