Van waar Rodrigo op die dek staan, lê die stad soos 'n drogbeeld afgeëts in die verte. Die lyne van hoë geboue span die horison en soos die dae verbysleep begin jy wonder of jou kop nie tuimeltoertjies maak en jy dit jouself verbeel nie. Hoe kan dit wees dat die magiese stad, die vaste grond wat tergend daar op die horison pryk, so ongenadig buite bereik is?

Waar Rodrigo vasgevang tussen die ystermure van sy skip is, begeer hy kontak met daardie stad. Hy romantiseer die geselsies wat hy sal maak as hy sy strate verken, idealiseer hulle wat daar hul doodgewone dagtaak op vaste grond kan afhandel. Skip raak tronk en soos die dooie ystermure somber en sinister nader kruip en dreig om jou verpulp, raak jou kop en hart ook tronk.  Twee weke lê die stad nou al daar. Tergend.  Twee maande nou al van die vorige hawe.  Nege maande nou al vanaf vaste grond onder sy voete.

Dan, in 'n oomblik gee alles mee daar op die dek. Die hopeloosheid van hierdie lewe oorrompel vir Rodrigo soos 'n dief uit die donker. In daardie oomblik, gestroop van alles, is al wat oorbly 'n prewelende smeekgebed ... 'Here, gee net 'n teken...’ Met swier en presiesheid, ten spyte van 'n wilde wind wat in die Baai blaas, kom land 'n seemeeu sommer naby hom.  Uit die niet kom kyk die seemeeu hom in die oë ... dit is sy teken, sy antwoord. Skielik ook, gor die radio en 'n opgewonde stem met 'n spring in sê, 'Ankers op’. Helaas het hul klaring om die hawe in te gaan.      

Dis Rodrigo se verhaal aan Danie om die, nou gedokte skip, se etenstafel. Met die intrapslag het Rodrigo verklaar dat Danie se daarwees 'n verdere teken is, dat Danie gestuur is, dat hy die antwoord is op 'n smeekgebed. Wat volg is 'n pastorale gesprek waarna Rodrigo 'n diep hunkering het. In Danie se besoek vind 'n emosionele, moeë en oorlaaide Rodrigo vir 'n oomblik rus.  Hul saamwees is soos om by 'n oase te wees, een waar jy kan rus na wat agter is, maar ook kan voorberei vir wat voor is.  In hul saam wees, saam lag, saam huil en saam bid kry Rodrigo dit.

Oorweeg dit asseblief biddend om ons werk finansieel te ondersteun. Dit bring daagliks seemanne na God se waters waar daar rus is - rus en vrede wat alle verstand te bowe gaan, rus wat net Hy kan gee.