Om dit aan jou lyf te voel is anders. Statistieke en koerantopskrifte is ver. Jy dink jy weet iets van die emosie daarvan as jy die nuusberigte lees en op hoogte is van die nuutste verwikkelinge rondom entstowwe en mediese joernale. Jy praat mooiweerpraatjies oor dinge wat onder beheer is en dat jy sterk genoeg is ...

Maar, as die dood soos 'n dief in die nag kom en jou beroof van 'n vriend, van 'n familielid, dan kruip 'n ander realiteit tot diep onder jou vel in – tot in hoekies van jou hart wat jy beswaarlik geweet het bestaan.

Die offisier uit die Oekraïne se histeriese vrees is tasbaar. Nie oor hy koerantberigte gelees het of die nuwe statistiek nagevors het nie, maar oor die steeds groeiende lys van vriende en familie wat slagoffer geword het van die virus wat hul lewens gesteel het.

En nou wil hy by Danie hoor oor die dood ... Hy wil weet van geluk vind in hierdie lewe. Dood en geluk. Hy is dringend opsoek na 'n pad uit die woestyn van weemoed, radeloosheid en angs.

Soos ons maar deesdae maak, het hy instinktief sy vrese in die Google soekblokkie ingetik in die hoop dat dit sinvolle antwoorde sou uitspoeg. Die gevolg: Meer angs, meer radeloosheid, dieper in die woestyn ...

Maar, Danie kan 'n alternatief bied. Dit word 'n geleentheid om te praat oor verlossing en die lewe hierna. Dit word 'n geleentheid om te praat oor geluk in 'n bitter deurmekaar wêreld. Hy is uit die veld geslaan as Danie 'n Russiese Bybel tevoorskyn bring. Hulle blaai saam, soek saam, bid saam – dinge wat Google nie kan doen nie. Vir die man uit die Oekraïne is daar 'n stukkie gerusstelling in hulle gesprek. Daar is vir 'n oomblik vrede.

Vir hom is dit net die begin van die pad. Danie se besoek is nie 'n kitsregruk waarna die lewe sonskyn en reënboë gaan wees nie. Dis 'n bewuswording van wat 'n lewe in God kan wees. Dis 'n nuwe moontlikheid dat daar selfs geluk kan wees in die heel donkerste van momente.

Danie is al amper by sy kar toe die offisier aangedraf kom. As dit enigsins moontlik is, het Danie dalk nog Bybels vir sy vriende aan boord.