Ons blyk gek te wees na goedvoel – dis die verslawing van ons tyd. Ons histeriese strewe het ten doel om ons in 'n staat van euforiese ekstase te laat verkeer...Ons smag na 'n lewe waar een kop-in-die-wolke oomblik gevolg word deur 'n volgende, sodat ons bestaan noemenswaardig sal wees.

Die lewe is immers taai. Ons verdien 'n tikkie goedvoel. Dit, terloops, is die narratief van elke reklame brokkie op die kykkassie in ons woonkamer en die vetgedrukte letters in die dagblad waardeur ons daagliks gestoomroller en gebombardeer word.

Die middele tot die doel is legio: Luukshede, romantiese wegbreke, sport wat adrenalien in jou are injaag, eet, drink, dit, dat - elkeen net 'n ander dwelm.

Goedvoel is die maatstaf. As ons lyf en gemoed protesteer teen heeltyd hoog op 'goedvoel' wees, en ander emosies staan in die weg van hierdie gekke-geluk, beraam ons planne, gaan sien ons terapeute en drink ons pilletjie om die goedvoel weer in plek te kry.

Maar is dit genoeg?

Meestal is die middele vlietend, kits – niks meer as om ons naarstigtelik na 'n volgende regruk te laat smag nie. Goedvoel poog om geluk en vreugde permanensie te gee, maar misluk meestal skouspelagtig en laat ons leeg – steeds soekend, steeds smagtend ...

Want, die lewe blyk meer as bloot goedvoel te wees. Dit is nie net sonskyn, reënboë en prinsessies in tiaras nie – dis kompleks, seer, soms stukkend, 'n misterie in duisende skakerings. Goedvoel is deel daarvan, maar dis tog soveel meer? Dit is om ook hartseer en hartbreker te omhels as 'n noodwendige deel van ons hierwees.

Gelukkig wees is anders as goedvoel. Dis nie ronddryf op goed voel wolkies of die afwesigheid van lyding nie; dis eerder die konstante en vaste wete dat God aanwesig is. Geluk transendeer elke moment, sonskyn of donderstorm, met die wete dat God daarin teenwoordig is. Dit kleur elke oomblik in op 'n Godgegewe manier.

Ons mag maar goedvoel – dis ook goed om te weet wat ons laat goedvoel – maar dit wat ons bestaan anker in die hier en nou, is 'n diepe bewustheid dat God in elke skakering van ons lewe daar is. Dat daar selfs in die onuitspreeklike tragedie van 'n Man aan 'n Kruis geluk kan wees ...

Seemanne beleef ook die lewe in al sy skakerings. Soms is dit sonskyn en reënboë, maar soms stormweer en hartseer. Die afgelope tyd dalk meer stormweer as sonskyn. In wat beskryf word as die ergste humanitêre krisis wat die skeepindustrie al ooit moes deurleef, was elke aspek van hul bestaan in die laaste jaar onder skoot. Buiten die gewone wegwees van die huis, wat opsigself traumaties is, het die wêreld die deur vir seemanne toegemaak. Op 'n stadium is berig dat tot soveel as 600 000 seemanne se kontrakte verstryk het en dat hul op skepe vassit, baie vir solank as sestien maande. Die tol wat dit eis is geweldig. 'n Eksponensiële toename in selfdood. 'n Gevoel van hulpeloosheid as die nuus kom dat 'n ma, pa of vrou slagoffer geword het van die Covid19-roofdier. Angs oor 'n geweldige toename in seeroweraanvalle aan die Weskus van Afrika. Dit alles stapel op soos dreigende onweerswolke om die perfekte emosionele storm te verseker.

Bomenslik sou ons dadelik sê. En tog is seemanne, hoe vreesloos en weerbaar oënskynlik, net mense. Doodgewone, weerlose mense wat ook droom oor goedvoel-oomblikke. Wat ook lugkastele bou. Maar, net soos ons smag hulle nie regtig na die vervlietende goedvoel-gevoel nie, maar na daardie geluk wat dieper lê as goedvoel ... daardie diep bewustheid dat God teenwoordig is in elke skakering en emosie van die lewe.

Ons begeerte by CSO is om hul in elke situasie, ongeag die skakering daarvan, te herinner dat God dit transendeer. Dat geluk inderdaad nie aan die einde van die reënboog te vind is nie, maar in elke moment waarin God teenwoordig is. Ons kan net hoop dat hulle daarin geluk kan vind. Dat hulle daarin vir God sal vind.