Die seemanne dwarsoor die wêreld is bekommerd. Op die nuus word gesien hoe die COVID19 situasie versleg en gewone mense wat daaronder ly.

Dit is juis hier waar die Woord van God nodig is. ‘n Woord waar troos gevind kan word. ‘n Woord wat praat van God teenwoordig in lyding en swaarkry. So nodig onder die seemanne.

Danie in Port Elizebath  staan langs die skip maar kan nie op nie. Hy vertel: hoog bo op die dek is daar seemanne van die Ukraine wat afloer na my. Ons kan nie eers kommunikeer nie. Hoe verduidelik jy met handgebare dat jy Bybels aan boord wil bring?  Toe vat ek maar ‘n kans. Eintlik waag ek dit saam met God.  Ek gaan saai en God vertrou vir die oes.  Saam met een van die agente wat aan boord mag gaan stuur ek ‘n sak vol Russiese Bybels.  Sal die Bybels hulle bestemming bereik. Sal hierdie Bybels uiteindelik by die regte adres uitkom? Ek stap sonder verwagting na my motor toe en net voor ek inkilm om te ry kyk ek vir oulaas na die hoë dek van die skip.

Vol danbaarheid met ‘n tikkie verbasing sien ek een van die seemanne daar staan met die nuwe Russiese Bybel in sy hande. Ek sien hoe hy daarin rondblaai en aandagtig begin lees. Skielik was my waagstuk nie verniet nie en my bekommernis oor die Bybels se eindbestemming onnodig.

God self voorsien. God self sorg dat Sy woord uitkom by wie dit die nodigste het.  Ek, ons donateurs is net die draers, die verspreiders. God self praat op die tyd waar ons dit die minste verwag.