As jy na skepe kyk vanuit 'n tronkvenster sou kyk lyk dit seker só. Alles wat mens sien word versper deur die tralies. Die koronavirus het veroorsaak dat ons so na die skepe in die hawe kyk. Dit lyk vir seemanne ook so wanneer hulle vanaf die skip na die land kyk.

Vanaf die CSO se bestaan het ons vrye toegang tot die skepe gehad.  Die seemanne het, waar tyd dit toegelaat het toegang tot die land wat hulle besoek gehad. Dit het verander. 'n Onsigbare virus het ons bestaan in 'n tronk verander. Ons kyk na die seemanne deur tralies. 

Hoe gaan ons die bediening van die CSO beskou vanuit so 'n tronk? Paulus skryf in Filippense 1:3-6 in die gevangenis aan die gemeente: "Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal, omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie. Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal volvoer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom."

Dit is 'n kragtige boodskap vir ons en die seemanne in hierdie tyd van gevangenisskap. Hierdie is net tydelik! God is steeds in beheer en Hy sal die goeie werk, wat hy begin het, end-uit in stand hou. Prys die Here!

Bly asseblief steeds bid vir die werk van die CSO. In hierdie tye is jou volgehoue ondersteuning uiters belangrik. Bid vir die manne en vroue op die see. Hulle hou aan met werk sodat ons steeds voorsien kan word van middele en medisyne. Bid dat God hulle sal bewaar en beskerm soos wat ons dit ook vir onsself vra. Amen