KAPTEIN JAKE* is reusagtig.  Sy is 'n ertsdraer wat vandag laag in die water lê onder die juk van haar vrag. Aan stuur van KAPTEIN JAKE, met 'n gelyknamige rang, is kaptein Stavos.  Grieks. Afgerond. Netjies.  In uniform.  Nie 'n ding uit plek nie.  Ook so in sy kajuit, waar Danie nou oor die dek staan en uitkyk.  

Maar as die gesprek na 'n wyle deur die alledaagse dit-en-dat deurdring na die hart, is die persoon agter die netjiese fasade anders as wat eerste oogopslag wil voorgee.   Sy skielike huiwering voor hy begin gesels is die eerste leidraad dat daar dalk meer agter die netjiese uniform skuil.  In sy huiwering meet hy vir Danie – want hoe vertrou mens 'n vreemdeling dan sommer so?

Eers versigtig, later meer seker, eindelik soos 'n vloedgolf kom sy storie.  Sy storie oor hoe hierdie kajuit hom vasdruk en hom dreig versmoor as die verlede se spoke kom aanklop.  Hoe die majestueuse skip sy tronk is.  Hoe selfs nie die horison wat die ewigheid in strek as hul op die oop see is of die aankoms in 'n hawe meer die doodse beklemming op sy hart kan verdryf nie.  Die beklemming is meer as woorde om sy staat te beskryf - hy voel dit fisies asof dit hom gaan verbrysel.   

Danie se bediening is een van teenwoordigheid.  Sy daarwees is genoeg.  Sy luister - sy omgee sonder oordeel – is die sleutel wat toegang tot 'n gebelgde hart gee.  In sy daarwees is hy altyd stilweg bewus dat daar iets groter aan die gebeur is waaroor hy nie beheer het nie.  Met Danie as instrument raak God betrokke by die beklemming op Stavos se hart.  Hy kan net vertrou dat die Heilige Gees verandering sal bring – dat dit 'n nuwe lig sal skyn ...  En vir Stavos doen dit.  Dit breek die beklemming – skyn 'n lig vol nuwe perspektief.  Maar Danie se besoek is vlietend, verbygaande ... More of oormore of die dag daarna sal die mure hom weer bekruip.   Maar, God se daarwees is ewig.  Dis vas.  Onbeweegbaar.   En daarin lê die waarde van Danie se besoek ...

Stavos se storie is die storie van soveel ander. Jou donasie kan ons help om ‘n aktiewe rol te speel in die stories van seemanne. Dit sal aktief gebruik word of hulle bekend te stel aan ‘n God wat ewig en vas is. Dit is ontsaglik baie werd. Ondersteun asseblief hierdie werk wat ons doen.