Dis 'n storie soos uit 'n loket-treffer. Die draaiboek skop af met 'n alledaagse moment: Seemanne wat doen wat hulle moet doen.

Elkeen is rustig besig om elke taak meganies en presies te doen soos hulle dit al 'n duisend keer vantevore gedoen het. Dis net nog 'n oggend, nog 'n hawe waarin hulle aandoen, nog 'n tou wat aan die kaai vasgemaak word, nog 'n inspeksie, meer van dieselfde ... Veertien skeepshouers word vanaf die Russiese skip afgelaai soos wat duisende skeepshouers al vantevore van die skip afgelaai is.

En dan, soos in enige loket-treffer, verander die status quo sodat alles wat rustig en in plek is afstuur op 'n annus horribilus. Skielik sak die polisie in 'n haarfyn georkestreerde operasie op die skip toe. Dis soos troepe miere wat beheer neem oor hul prooi. Seemanne staan verskrik rond terwyl bevele uitgeskree word. Eers is daar 'n mate van teenkanting, maar dan die besef dat die golf op geen manier getem gaan word nie.

En dan, diep binne-in die skip se ingewande kry hulle die fonds. Twintig versteekte houers sonder enige dokumentasie met sowat vyftig ton plofstof en ammunisie daarin. Wat 'n doodgewone oggend moes wees is skielik 'n nagmerrie van epiese proporsie. Nou word woorde soos 'onwettig’, 'gevaarlik’, 'plofstof’ en 'geheim’ aan boord rondgegooi. Daar is stroef gesigte wat onseker, verbaas en vreesagtig na die fonds staar. Dis 'n keerpunt in hierdie skip se storie. Vir die seemanne, wat ook saam met die skip onder arres is, is dit 'n klad in hul draaiboek. En so verander stories. In 'n oogwink. Soos wat die see nog een oomblik blinkglad kan lê net om oomblikke later woedende golwe oor alles in sy pad te rol, so is dit ook met ons stories. In 'n oogwink kan alles wat ons gedink het realiteit is, handomkeer verander.

In hierdie krisismoment is Danie aan boord. Hy stap tussen die polisie en doeane se ferm gesigte deur na die bemanning. Hy is nie daar as regter of prokureur nie. Hy is daar, net om daar te wees. Hy is daar om aan die seemanne 'n kans te gee om te ontlaai, vir 'n oomblik net uit die dringendheid van die situasie te ontsnap sodat hulle kan asem skep. Hier kan Danie hulle herinner dat God groter is as hierdie benarde situasie en dat hierin 'n kans is dat God se storie binne hierdie omstandighede deel kan word van hulle storie.

In dae wat kom, word Danie die draer van goeie nuus. Sy boodskap van omgee is radikaal anders as die van elke ander besoeker aan die skip. Teenoor hulle boodskap van straf, ongenadigheid en vrees bring hy 'n boodskap van die Man van die Kruis wat gans anders is ... een van liefde, genade en hoop. Wat 'n verskil maak hierdie boodskap nie binne elkeen van hulle se stories nie!