Hul storie strek oor dertien maande. Dertien maande onder arres in die Durbanse Hawe. Dis behalwe vir die twee van hulle aan boord, vir alle praktiese doeleindes 'n spookskip.

Daar is geen kos, diesel of elektrisiteit nie. Die skip dobber soos 'n nuttelose kruik rond met geen vooruitsig om van hier die oop water in te vaar nie. Toue hou die skip in ballingskap totdat elke rekening van die eienaar vereffen is. Die twee mans aan boord, bloot slagoffers.

Vir dertien maande lank hou CSO en ander organisasies hierdie twee mense aan die lewe. Snaaks die term 'mens', want op watter punt is jy so gestroop van jou menswaardigheid dat die term 'mens' kortkom in hoe jy oor jouself dink.

Anderdag woon Chris 'n vergadering by waar die eienaar eindelik met 'n aanbod kom. Dit wat hy aanbied is minder as die helfte van die lone wat hulle oor jare nie betaal is nie. Vir meer as 'n jaar het hy hulle eintlik vir dood agter gelaat, ongestoord deur die feit dat hul pennieloos en sonder 'n krummel brood in 'n hawe in 'n vreemde land vasgekeer is. Daarom dalk kan mens verstaan dat hul die aanbod van die hand wys ... Die eienaar het reeds alles by hulle gevat - selfs hul menswaardigheid.

Die twee is nou broers. Hulle is deur uiterste omstandighede aan mekaar gebind en nou saam 'n verenigde front teen die onreg wat aan hulle gedoen word. Dit het egter implikasies. Hulle afwys van die aanbod beteken dat hul saak voor die hof sal kom. Optimisties meen dit dat dit nog jare kan neem. Verder is hul storie nie net 'n storie van dertien maande alleen op 'n spookskip nie. Dis nie hul enigste storie nie . . . hulle is ook karakters in ander stories. Hulle is pa's, seuns, huweliksmaats en meer. Die dampkring van die twee vergete mans uit Sirië en Iran raak nie bloot net vir hulle nie. Dit raak 'n kind wie se pa nie die oggend van hom of haar se verjaarsdag daar was nie. Dit raak 'n ma wat nagte om huil oor haar seun, 'n huweliksmaat wat elke oggend met 'n leë plek langs haar in die bed wakker word en nog baie ander . . .

Maar een ding is seker. In die dertien maande het die liefde, deernis en geduld wat aan hulle bewys is deur hul Christen weldoeners 'n onverwagse hoofstuk in hul storie ingeskryf. 'n Hoofstuk oor hoe die Man van die Kruis ook vir hulle gesterf het. 'n Hoofstuk waarin hulle in elke ontmoeting met CSO en ander iets kon beleef van die Kind van Betlehem wat gebore is. Daarin is daar hoop. Daarin is daar sin.